Atterbury Trust se beursstudente is een en almal vasberade, hardwerkende jongmense wat die meeste maak van die geleenthede wat hulle gebied word. Sewe en twintigjarige Konrad Myburg is ’n vierdejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria, wie se belangstelling in die rehabilitasie van beseerde boksers hom gelei het tot by die graad in fisioterapie wat hy aan die einde van vanjaar sal behaal. Hy deel sy verhaal met ons.
Jy is op 27 ouer as die meeste ander studente; kan jy ons vertel ons hoe jy besluit het om ‘n fisioterapeut te word?
Ek het nogal ’n lang pad gestap om by fisioterapie uit te kom. Ek het op skool aan karate en boks deelgeneem, en het aanvanklik gedink ek sal ’n boks-gym oopmaak. Ek het na matriek by so ’n gym gewerk omdat ek nog nie geweet het wat ek wil swot nie. In die loop van boksafrigting sien jy mense met ou beserings wat hulle pla, of selfs nuwe beserings, en jy wil graag help met rehabilitasie – ek wou weet watter soort oefenprogramme jy vir mense kan gee om hulle beserings te oorkom. Ek het begin dink daaraan om biokinetika te gaan swot, en het, terwyl ek voltyds gewerk en mense afgerig het, ’n twee-jaar oorbruggingskursus geswot omdat ek nie die regte matriekvakke gehad het nie. In die loop van die volgende paar jaar het dit duidelik geraak dat fisioterapie die opsie is wat die beste sou werk vir my. Fisioterapie se aanwendingsveld is wyer as dié van ‘n biokinetikus, waarvan ek gehou het. Wat ek ook hou van fisioterapie, is dat jy nie noodwendig duur toerusting nodig het nie – as jy ‘n praktyk begin, kan jy net met ’n bed, jou hande, ’n warm sak en ’n mikrogolfoond om dit warm te maak, reeds mense begin behandel. Ek hou daarvan dat ek min nodig het om baie te kan doen.
En hoe het jy deel van die groter Atterbury Trustfamilie geword?
My vriendin se pa het my destyds in kennis gestel van Atterbury Trust se beursgeleenthede, en ek was so gelukkig dat ek verlede jaar en vanjaar een van hulle beurslenings toegeken is. Voor dit het my pa my eerste jaar se studies betaal, en my tweede jaar is deur NSFAS befonds.
Wat was die grootste ontwikkelinge in die veld van fisioterapie in die laaste paar jaar – is jy bewus of die dissipline vandag nuwe elemente het wat jou toerus om meer effektief te kan praktiseer?
Dit is my opinie dat die ontwikkelinge in die veld van fisioterapie meer evolusionêr as revolusionêr is. Daar word aanhoudend navorsing gedoen in die veld en die belangrikste is om op datum te bly met nuutste ontwikkelings sodat mens die beste behandeling met die nuutste tegnieke aan jou pasiënte kan bied.
Het jy ’n bepaalde veld waarop jy fokus binne die dissipline?
Met my sportagtergrond stel ek die meeste belang in fisioterapie in die konteks van sport en sportbeserings, maar ek vind die werk in ‘n intensiewe sorgeenheid ook stimulerend, en buitepasiënte wat inkom met pyn en beserings waarvoor hulle hulp soek. Dis iets wat baie vinnig reageer met behandeling; jy kan redelik vinnig verbeterings in pasiënte se toestand sien met die regte behandeling, en daar is ‘n wye verskeidenheid van beserings – dit alles hou die werk interessant. Dis ook lekker dat die pasiënt se toestand gewoonlik nog nie gediagnoseer is nie, so jy moet self die legkaart bou om agter te kom wat verkeerd is, wat die oorsake is en wat die beste behandeling is.
As jy nie destyds die beurslening gekry het nie, sou dit jou studieplanne geaffekteer het? Wat was jou Plan B?
Ek sou nie afgesien het van my doelwit om ‘n fisioterapeut to word nie en sou aangehou het om ander beursopsies te ondersoek. Ek is geweldig dankbaar dat Atterbury Trust wel destyds my beursaansoek gunstig oorweeg het.
Die beursleningfonds is afhanklik van skenkers – as jy potensiële skenkers kon aanmoedig om hul beursies oop te maak, wat sou jy vir hulle sê? Hoekom is hierdie fonds so belangrik?
Studiebeurse maak deure oop vir studente soos ek en skep vir hulle geleenthede om hulle studiedrome te verwesenlik en hulle potensiaal uit te leef. Die belangrikheid hiervan kan nie genoeg benadruk word nie!
Wat reken jy sal jy oorhou van jou jare as Atterbury Trust beursstudent? Watter lewenslesse dink jy het jy geleer deur voordeel te trek uit die Trust se beursprogram?
Die feit dat ek voordeel trek uit hierdie beurslening het my daarvan bewus gemaak hoe belangrik dit is om die potensiaal in mense raak te sien en dit in my aangewakker dat ek ook wil hulp verleen waar ek kan om ook vir ander soortgelyke geleenthede te bied. Ek het beslis die les geleer, soos die Engelse sê, “to pay it forward”.
Die Atterbury Trust beursleningfonds ontvang enige donasies met dankbaarheid, en het ‘n verskeidenheid van opsies vir skenkers wat belangstel om te help. Ons reik ’n A18-sertifikaat uit vir kontantskenkings, vir die belastingvoordele van skenkings.