Met ’n stasiestem wat uitroep: ‘Jou GROOTste fm in Pretoria’, en ‘n slagspreuk wat lui: ‘Gaan GROOT’, is dit vir GROOTfm 90.5 net gepas om luisteraars met ’n #GROOToomblik in April 2021 te verras.

Luisteraars is op 19 April vanjaar verras met twee splinternuwe programme wat op frekwensie 90.5 verskyn het – Die GROOT Brekfis en Die GROOT Trek.

Vir die afgelope ses jaar was talle GROOTfm 90.5-luisteraars en kykNET-kykers regoor Suid-Afrika vermaak en ingelig gehou deur Die GROOT Ontbyt-span – Johrné van Huyssteen, Hendri Myburgh en Elsa Esterhuizen – wat jou nie net ontmoet het op kykNET kanaal 144 nie, maar ook in jou motor op GROOTfm 90.5.

Dié hibried-konsep wat televisie en radio getrou het, het almal baie opgewonde gemaak, veral die Hoof Uitvoerende Beampte van die Bloudruk-groep, Hardus Zevenster, wat die brein agter die beweging was. “Ja”, sê hy, “daar was heelwat doemprofete wat nie in die hibried geglo het nie. Hierdie doemprofete het dié konsep ‘n skamele drie maande ‘lugtyd’ gegee, en, toe die span weer kyk, is dit ses jaar en 1 400 episodes later.”

Die tyd het egter nou aangebreek vir verandering; nie omdat dié hibried nie werk nie, inteendeel: dit is as gevolg van die sukses van Die GROOT Ontbyt, dat die span besluit het om ‘n meer gefokusde benadering te volg; ook, om die klank van GROOTfm 90.5 as ‘n musiekstasie te eerbiedig, aangesien Die GROOT Ontbyt grotendeels ‘n televisieprogram propvol aktuele gesprekspunte is.

Die geheim is uit! Die #GROOToomblik is dat Die GROOT Ontbyt en GROOTfm 90.5 opbreek…in stereo! Johrné, Hendri en Elsa gaan voortaan nie meer “kykers en luisteraars” groet in die oggende soos met die afgelope ses jaar nie, maar net die “kykers”, op kykNET kanaal 144. Dié span gaan jou nog steeds elke oggend in jou sitkamer via jou televisie groet, maar net nie meer in jou motor nie. Die GROOT Ontbyt behou die formaat wat hom gewild maak, en kan kykers nog steeds relevante inhoud, van aktualiteit tot vermaak en kosmaak, geniet.

Nee, dit beteken nie daar is nou soggens stilte in jou motor nie (as dit is wat jy nou dink)! Die GROOTfm 90.5-span wat jou nou geselskap hou op pad werk- of skooltoe, is Ruben Delmage en Jennifer Myburgh. Hulle stick jou vir ‘n GROOT Brekfis, weeksdae van 06:00 tot 09:00. Ruben Delmage, was die middag-anker van die uiters gewilde #SlatDiePad, wat voortaan vervang word met ‘n nuwe middagprogram, Die GROOT Trek – met Jacques du Preez en Nina Coetzer. Jacques, beter bekend as Doepie, se stem het sy verskyning op die klankgolwe gemaak as instaanomroeper by GROOTfm 90.5 en het ook jare se ondervinding in die uitsaaiwese; en saam met Nina, mede-aanbieder van die voormalige #SlatDiePad, maak hulle ‘n mean team.

So, wat kan luisteraars van Die GROOT Brekfis verwag? Jou oggende begin met inspirasie-insetsels deur onder andere Lindie Strydom en Intiem Tydskrif se Liezel van der Merwe, gevolg deur aktuele gesprekke wat koerantbesprekings insluit; daarna gaan Ruben en Jennifer jou vasgenael voor die draadloos hou met onder meer pret vir die gesin met “ateljee-spele” soos: “Game of Drones”, “Die GROOT vraag” en “Die Vinnige Vyf – om net ‘n paar te noem; en, wie weet, dalk ontmoet jy jou trouman of -vrou in een van hulle insette: “Onnie soek ‘n Nonnie”. Hierdie brekfis gaan jou genoeg kalorieë gee om die hele dag te hou!

En wat van Die GROOT Trek? Doepie en Nina gaan jou rit huis toe na ‘n lang dag in ‘n avontuur omskep, met insette soos: “Judge jý my”, “Jou GROOT kuier”, “Ek dare jou” en “Die GROOT Track”. Skakel weeksmiddae tussen 15:00 en 18:00 op GROOTfm 90.5 in om uit te vind waarmee hierdie dinamiese duo besig is.

Die GROOTfm 90.5-span is baie opgewonde om nog groter te gaan, en wil getrou bly aan hulle visie: “om te inspireer en te impakteer met die verlossingskrag van Jesus Christus”. Hulle is op ’n missie om Suid-Afrika en sy mense te mobiliseer met “vermaak wat ‘n verskil maak”, en vier en geniet alles wat goed en reg is, maar aanvaar ook die verantwoordelikheid vir die dinge wat hulle as gemeenskapsradiostasie nog wil sien verander! GROOTfm 90.5 kleur die klankgolwe in met hoop en woorde van lewe, maar lééf ook groot in die klein om ’n blywende voetspoor in die gemeenskap te laat.

So, sluit by ons aan vir ‘n GROOT Ontbyt op televisie, óf ‘n GROOT Brekfis op radio, en pak solank jou sak vir Die GROOT Trek.