…Nee, nie 90.5 nie, 905!

GROOTfm 90.5 in samewerking met Plantland het besluit om ‘n veldtog van stapel te stuur om vir Boomplantweek in September 2022, 905 bome te skenk aan die Pretoria-omgewing.

Lucy Larcom het gesê: “He who plants a tree plants a hope”.

Boomplantweek vind vanjaar plaas vanaf 29 Augustus tot 4 September, en, GROOTfm 90.5 en Plantland het hulle diep-gewortelde veldtog afgeskop met ‘n skenking van 200 Pekanneut-bome aan Atterbury Trust se Terugploeg-aksie. Jacques Pauw, operasionele bestuur van Terugploeg, sê hulle wil graag hierdie 200 bome aanwend om ‘n volhoubare verbouing te vestig waarmee hulle die gemeenskap kan dien en werksgeleenthede kan skep.

Hoekom Pekanneutbome? Yolandie Malan, bemarkingsbestuurder van Plantland, sê daar is vele voordele aan ‘n Pekanneutboom wat insluit dat dit ‘n ideale groot koelte-boom in die somer is, hierdie bome uit die aard van die saak heerlike, eetbare neute verskaf wat onder andere hoog in vesel is en talle gesondheidsvoordele geniet, ‘n penwortelselsel het wat nie plaveisel optel nie, en wat ‘water-wys’ is (vandat die boom gevestig is).

Suid-Afrika vier jaarliks Boomplantweek in die eerste week van September met die Department van Bosbou, Visserye en die Omgewing, as bewaarder in Suid-Afrika, wat verantwoordelik is vir die veldtog.

Nasionale Boomplantweek is die ideale geleentheid om ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners te doen om inheemse bome te plant as ‘n praktiese en simboliese gebaar van volhoubare omgewingsbestuur. Dit bied die regering, die privaatsektor, nie-regerings- en gemeenskapsgebaseerde organisasies en die publiek die geleentheid om betrokke te wees en deel te neem aan die ‘vergroening’ van hul gemeenskappe. ‘Vergroening’ verwys na ‘n geintegreerde benadering tot die plant, versorging en bestuur van alle plantegroei in ontwikkelde (stedelike) en minder ontwikkelde (landelike) gebiede, om veelvuldige voordele vir gemeenskappe te verseker.

GROOTfm 90.5 en Plantland nooi jou uit om nie net GROOT te gaan nie, maar GROEN!

As jy vertakkings aan die veldtog wil voeg en weet van ‘n spasie by ‘n skool of op private eiendom wat ‘n pekanneutboom verlang en sal waardeer, stuur ‘n epos aan [email protected] met die onderwerp, ‘GROOT BOOM’.

GROOTfm 90.5 is baie dankbaar vir Plantland wat saai, en elke ontvanger wat plant, wat hierdie ‘groter prentjie kunswerk’, gemeenskap en stad gaan help groen verf!

*Bronnelys: www.gov.za

Oorspronklike storie verskyn op grootfm.co.za