Studente kan doen met ’n miljoen

In ’n wonderlike en historiese gebaar het GROOTfm, die gewilde gemeenskapsradiostasie in Pretoria aangekondig dat hulle R1 miljoen skenk ter ondersteuning van aspirant studente in die stad, deur middel van Atterbury Trust se studentebeursleningsprogram.

’n Miljoen rand kan ’n enorme verskil maak in die lewens van baie aspirant-studente wat al die nodige inherente kwaliteite het, maar nie die materiële middele tot hulle beskikking het om hulle studieambisies te kan verwesenlik nie. Met die groot geleentheid van ’n Atterbury Trust studenteleningsbeurs, kan hulle wel hulle drome najaag om verder te studeer.

Tydens GROOTfm 90.5 se 10de verjaardagvieringe in die Atterbury Teater op 3 Augustus 2023, het Hardus Zevenster, hoof uitvoerende beampte (HUB) van GROOTfmaandeelhouer Bloudruk Mediagroep, ’n tjek ter waarde van R1 miljoen aan Louis van der Watt, HUB van die Atterbury Groep en Zahn Hulme, Uitvoerende Trustee van Atterbury Trust oorhandig.

Tydens die viering het Ruhan du Toit en Corlea opgetree as gaskunstenaars en die geleentheid is aangebied as ’n “regte” radio-uitsending op die verhoog. Die stasie se aanbieders het die GROOTfm-verhaal op luisterryke manier as radio-programme oorgedra.

Die merkwaardige skenking aan Atterbury Trust vir studente-opvoeding ondersteun GROOTfm se toewyding aan gemeenskapopbou en hulle missie om positief terug te gee aan hul luisteraars en ondersteuners in die omgewing waar hulle geleë is.

“Ons is geweldig geërd om hierdie wonderlike skenking te ontvang,” getuig Hulme. “Die lewensbloed van Atterbury Trust is kontankskenkings en om so ’n merkwaardige kontant-inspuiting van GROOTfm te kan kry is waarlik ’n riem onder die hart. Dit maak ons besonder opgewonde dat soveel meer jong mense nou gehelp kan word om verder te studeer. ’n Groot dankie aan GROOTfm!”

Van Der Watt beaam dit en voeg by: “Toe ek en my medestigter van die Atterbury Groep Francois van Niekerk, 25 jaar gelede Atterbury Trust op die been gebring het was ons visie om soveel as moontlik behoeftige Afrikaans-sprekende mense met potensiaal te ondersteun. Hierdie groot visie het oor die jare gestalte gekry en met noemenswaardige skenkings soos GROOTfm se miljoen rand kan ons natuurlik soveel meer jongmense uit Pretoria help om te verder te studeer.”

Atterbury Trust het met die stigting van GROOTfm 90.5 in 2013 n belegging in die radiostasie gemaak. GROOTfm is derhalwe ’n gewaardeerde mediavennoot wat gereeld help om verskeie Atterbury Trust liefdadigheidsprojekte te ondersteun. Dit sluit Triomf Kliniek, wat sorg met waardigheid aan die gemeenskap van Pretoria-Wes bied en die onlangse Screen Her Save Her borskankerbewustheidsinisiatief, asook Terugploeg-projekte in.

’n Veldtog sal binnekort op GROOTfm bekendgestel word waartydens potensiële studente aangemoedig sal word om aansoek te doen vir hierdie beursleningsgeleentheid.

Atterbury Trust, met 25 jaar se ondervinding van diens aan die gemeenskap, is ’n omvangryke, verantwoordbare, deursigtige en volhoubare nie-winsgewende entiteit met ’n gesonde reputasie vir die bestuur van ’n publieke voordeelorganisasie.

Onder die trust se projekte tel die toeken en bestuur van studenteleningsbeurse, Terugploeg, wat voedselskenkings van boere aanvaar en dan voedselpakkies aan diegene lewer wat dit die meeste nodig het, kulturele aktiwiteite deur Atterbury Teater en op ander maniere, direkte skoolondersteuning, Triomf Kliniek, die bestuur van die Moedertaal Ontwikkel Inisiatief (MOI) in die Wes-Kaap, asook baie ander inisiatiewe.

Die trust se groeiende uitreiking in die Wes-Kaap maak ook groot vordering vanuit hul kantoor in Stellenbosch se historiese La Gratitude Herehuis in Dorpstraat.

Skenkings aan Atterbury Trust word vergemaklik deur ’n moderne aanlyn-Donasiewinkel, hier beskikbaar: atterburytrust.org.