Talle welsynsorganisasies het hierdie week by Everest Wealth se Skenk ’n Hoender-projek gebaat. (Foto: Jislaaik JA Photography)

Die Skenk ’n Hoender-Projek is ’n splinternuwe inisiatief deur Everest Wealth, ’n beleggingsmaatskappy geleë in Centurion. Die kernfokus is om gesonde proteïne aan die mees kwesbare mense te voorsien in ons gemeenskap, en om so ook ’n plaaslike vryloop hoenderboer te ondersteun om sy besigheid volhoubaar te vestig. Alwyn, die stigter van Kleinhans Freerange (https://kleinhansfreerange.co.za/) het Everest Wealth genader oor die uitdagings wat hy in die gesig staar aangaande die nodige skaal om effektief te boer in die huidige mark omstandighede.

Sy hoenders is 100% “freerange” en gesond, sonder hormone en word ’n proses gevolg sonder voer manipulasie tegnieke om die hoeder so natuurlik as moontlik groot te maak. Die uitkoms is ’n gesonder, groter hoender wat minder stres ondervind, en soos Alwyn met passie verduidelik: “kan mens die verskil duidelik proe”.

Everest Wealth het besluit om die twee uitdagings op een slag aan te pak. Die Skenk ’n Hoeder veldtog het afgeskop deur ’n totaal van 15 000 top-kwaliteit vryloop hoenders vooruit te koop by Kleinhans Freerange. Everest Wealth het hande gevat met GROOTfm 90.5 wat toe ’n paar nie-winsgewende gemeenskapsorganisasies genader wat die vermoë besit om die hoenders effektief te versprei asook die noodsaaklike deursigtigheid strukture in plek het. 3 500 hoenders is reeds geskenk en versprei. Die nie-winsgewende organisasies sluit in Atterbury Trust se Terugploeg, Helpende Hand, PEN, Eleos, Jakaranda en Louis Botha Kinderhuise, Pres. Kruger Kinderhuis, Hanna Charity, SA Cares for Life, Kairos, Kungwini Welfare Organisation en Diakonale Pleegsorg.

Sanet Fagan van SA Cares for Life het na afloop van die oorhandiging gesê na ’n hele ruk van ’nee’ sê wanneer ’n versoek om hulp gerig word, kan hulle weer ‘ja’ sê. “Die ergste ding wat jy vir iemand kan doen as organisasie wat altyd help, is om hulle weg te wys.” En toe bars sy uit in trane. Met 80% van net SA Cares for Life se donateurs wat na die Covid-tydperk hul maandelikse bydraes onttrek het, kry hierdie organisasies, soos talle ander geweldig swaar.

Verteenwoordigend van Jakaranda en Louis Botha kinderhuise was Besturende Direkteur Charlene Grobler en Bemarkingsbestuurder, Ina Kotze, wat met oorgawe hierdie skenking ontvang het. “Die massiewe skenking, is so blessing. Dit bring verligting aan ons begroting. Dit help sodat mense die geld wat ons sou spandeer het op hoender ’n ander gaatjie toe in die begroting. Ons het baie planne en droom groot, maar mens kort geld vir sulke projekte. Dankie dat jul saam ons droom en groot dink”, het Charlene gesê.

Thys van Zyl, Hoof van Produk, het oor Everest Wealth se betrokkenheid en ‘voorvlieg’ die volgende te sê gehad: “Ek dink daar moet meer sulke hoendervleis-oomblikke wees in ons gemeenskap en ons vra ander instansies om ook betrokke te raak en terug te ploeg. Om te gee en om te help is altyd lekker en opsigself ’n groot Seën.”

Die hoender wat by Kleinhans Freerange beskikbaar is is hormoon en preserveermiddel vry, ’n belofte van boer en baasbrein, Alwyn Kleinhans.

Die fokus met die projek is om ’n volhoubare siklus te skep met die inkoop van die publiek en ander besighede om die projek direk te ondersteun deur een of meer hoenders te skenk teen R50 ’n hoender. Mens kan Kleinhans Freerange verder ondersteun deur hul hoender produkte direk aan te koop, en word tans weekliks afgelewer by huishoudings en organisasies in Pretoria en Johannesburg.

15% van die boer se hoender aanwas word geskenk aan die Skenk ’n Hoender Projek. Alles met die eindelike doel om proteïne aan die gemeenskap te verskaf, en sodoende begunstigdes deur beter voeding in staat te stel om nog ’n treetjie tot selfstandigheid te neem.

Voedselsekerheid is ’n voortdurende uitdaging, nie net in ons eie land nie, maar op wêreldwye gebied. Ons is dankbaar vir almal wat hande vat om hierdie uitdaging stuk-stuk te oorwin en oorkom. ‘Honger magies’ het ’n massiewe impak op die gemoedstoestand en gedrag van landsburgers, nie eers te praat van onder ontwikkelde kinders as gevolg hiervan nie.

As jy ’n hoender wil aankoop of skenk aan ’n organisasie besoek http://everestwealth.co.za/skenk-n-hoender.

Baie dankie aan almal wat gesorg het vir hierdie #hoendervleis-oomblik!

(Video: Pieter Cloete)
(Fotos: Jislaaik JA Photography)