Atterbury Trust se werk in behoeftige gemeenskappe blyk in die tyd van Covid-19 nog meer broodnodig as gewoonlik te wees. Uitvoerende trustee Zahn Hulme vertel meer van die Trust se bedrywighede, en ons hoor by suster Adelene Boshoff hoe die Triomfkliniek aangepas het.

Gemeenskappe wat voor die pandemie al gebukkend gegaan het onder erge armoede en honger, ly nou selfs erger – is julle spesifiek bewus van bepaalde kommerwekkende gevalle of spesifieke behoeftes binne die gemeenskap wat die Trust bedien?
Zahn Hulme: Dit is ’n realiteit dat die mees weerlose mense in die samelewing nou nog swaarder trek. Hierdie pandemie het opnuut weer uitgewys hoe groot die skeiding tussen ryk en arm werklik in ons land is. Atterbury Trust is al vir meer as 20 jaar betrokke by organisasies en inisiatiewe in veral die weste en noorde van Pretoria. Ons filosofie is nog altyd om eerder so konstant as moontlik by ’n paar projekte wat ons weet goed beheer word, betrokke te wees, as om lukraak en eenmalig uit te reik. In die Covid 19-tyd, is ons dus betrokke by ’n paar inisiatiewe om kos bymekaar te maak en uit te deel via ons bestaande netwerke in die weste van Pretoria. Atterbury se Mandeladag 2019 projek was byvoorbeeld by Laerskool Kameeldrift op die ou Britspad. Daar is heelwat families wat in informele nedersettings in die omgewing van Laerskool Kameeldrift bly. Baie van hierdie mense wat wel voorheen ’n werk gehad het as karwagte of op straat koerante verkoop het, is nou sonder enige inkomste.

Ons het skenkings van wildsvleis van Wildswinkel gekry, Eggbert eggs skenk weekliks eiers en individue het kontant geskenk om noodsaaklike kos aan te koop. Van hierdie produkte is verder by die ouetehuis in Wolmer, Pikanini kleuterskool in Wolmer en Beyers Bytjies in Danville uitgedeel.

Ons het ook skenkings van Ensure, vitamienes en griepmedisyne vanaf Activo en Zuid-Afrikaans Hospitaal ontvang. Daar is ’n behoeftebepaling gedoen onder liefdadigheidsorganisasies asook die Harmonie ouetehuis waar die Trust ook reeds betrokke was met opgradering van hulle hysbakke, en van hierdie produkte en medisyne is reeds via die Triomfkliniek aan hierdie organisasies versprei.

Hoe het Atterbury Trust sy gewone gemeenskapsuitreik-program aangepas vir die Covid-19 pandemie?
ZH: Ons is besig om nuwe inisiatiewe en samewerkingsooreenkomste te ondersoek. Dis bietjie vroeg om name te noem, maar die een inisiatief behels ’n aanlynplatform wat behoeftige gemeenskappe en gemeenskapsorganisasies in staat stel om behoeftes te lys. Mense kan dan aanlyn produkte aankoop wat dan afgelewer word aan hierdie organisasies. Hierdie projek is nog in sy kinderskoene, maar die gedagte is om nog meer produkte en moontlik ook selfs wintersklere en komberse via Atterbury se kleinhandelnetwerk goedkoper in die hande te kry. Ons ondersoek ook verder die moontlikheid om berging- en verspreidingsdepots te vestig in Atterbury se winkelsentrums en kantore wat ruimte beskikbaar het. Dan moet ons nog planne maak om die koste van vervoer van hierdie produkte na die onderskeie liefdadigheidsorganisasies te befonds.

Ons is ook al ver gevorder met die beplanning vir die vestiging van ’n kosprojek by Triomfkliniek en ten minste een van die skole waar ons betrokke is. Daar maak ons gebruik van die kundigheid van Farmers Kidz wat baie ondervinding met die vestiging van groentetuine by skole en ander liefdadigheidsorganisasies het. Seisoenale groente word volgens ’n doelmatige plan in buitebande geplant, skadumet word opgesit en die groente word korrek geoes.

Die gedagte is dat skole selfonderhoudend kan raak in die voorsiening van groente aan hulle kosprojekte. Daar is ook ’n element van opleiding betrokke deurdat skoolkinders en onderwysers opgelei word in die versorging van die groentetuine, wat hulle hopelik sal inspireer om dit ook by hulle eie woonplekke te doen.

As mense wil help, wat kan hulle doen en hoe kan hulle die Trust bystaan? Wat is die grootste behoefte?
ZH: Enige skenkings van kos, wintersklere, komberse, kontant en mediese produkte is baie welkom.

Daar is ’n nuwe Donasiewinkel geskep op die Atterbury Trust webtuiste. Dit is baie maklik om direk op die Donasiewinkel te skenk en donateurs kan kies by watter spesifieke projek hulle wil betrokke raak. Atterbury Trust is ‘n publieke voorsorg-organisasie en enige donasies aan die Atterbury Trust is belastingaftrekbaar en ’n Artikel 18A-sertifikaat word uitgereik.

Suster Adelene, hoe gaan dit by die Triomfkliniek noudat dit weer oopgemaak het na grendeltyd?  Hoe besig is julle; vind jy dat daar ’n opeenhoping was wat dit nou besiger maak as gewoonlik, of is mense versigtig om uit te kom?
Adelene Boshoff: Ons het Maandag 4 Mei weer oopgemaak en op die eerste dag reeds ‘n ortopediese kliniek aangebied. Dit was heel rustig; ons het sewe pasiënte gesien; so daar was nie ‘n opeenhoping van mense nie. Die pasiënte is almal goed ingelig en weet wat van hulle verwag word wat fisiese afstand, maskers en handsanitasie betref. Ons het in die eerste week altesame 17 pasiënte gesien.

Watter Covid-19 maatreëls pas julle toe om veilig te bly?
Almal dra maskers, en as pasiënte opdaag sonder ‘n masker, verskaf ons een. Ons pas fisiese afstand toe deur hulle net een-een by ontvangs toe te laat, en met ’n meter en ’n half tussen mekaar in die wagkamer. Hand-sanitasie word beide by Ontvangs en weer in die konsultasiekamer gedoen. Ons laat ook net die pasiënt wat die afspraak het, binne toe – as hul iemand saamgebring het, moet dié buite wag.

Het julle die skedule van gewone doktersklinieke aangepas weens Covid-19?
Nee, die skedule gaan normaal voort, soos datums met die vrywilligerdokters bevestig word. Vir die res van Mei het ons die 14de en die 21ste Interne Medisyne-klinieke, Dermatologie op die 22ste, en Tandheelkunde en ‘n Oor-Neus en Keelkliniek die 29ste.

Die kliniek moet beslis bepaalde Covid-19-verwante behoeftes hê – waarmee het julle veral hulp nodig?
Ons het ’n behoefte aan handsanitasiemiddels en ook maskers om te gee vir dié pasiënte wat sonder maskers opdaag.

Gelukkig kan ons, danksy die hulp van Activo en Zuid-Afrikaans Hospitaal, ook aan pasiënte wat dit nodig het van die Ensure voedselaanvullings, vitamienes en griepmedikasie uitdeel.

Vind Atterbury Trust se Donasiewinkel hier: https://atterburytrust.org/donasiewinkel/. Vir elke donasie wat deur ’n organisasie of individu gemaak word, sal ’n Artikel 18A-donasiesertifikaat uitgereik word wat aftrekbaar is vir belastingdoeleindes.