Die Terugploeg inisiatief om honger te bekamp sou nie moontlik gewees het sonder die insette en ondersteuning van ’n hele groep weldoeners nie. Een van hierdie sakemanne met hart is Dirk van der Walt van WeBuyCars, wat al baie lank deel is van Atterbury se sirkel van vriende en weldoeners. Ons het met hom gesels oor die illusie van sukses, die rol van harmonie, en hoe die privaatsektor ’n wesenlike verskil aan maatskaplike nood kan maak.

Kom ons begin met ’n 2021 oorsig van WeBuyCars; omtrent ‘n Afrikaanse suksesstorie! Wanneer het jy en jou broer Faan die maatskappy gestig, en hoe het die idee daarvoor onstaan?
Dit het als begin met Faan se eerste kar, ’n blou Volkswagen 412, wat hy verbeter en toe verkoop het. Ons het WeBuyCars in 2001 begin, met omtrent R250 000 wat Faan gespaar het terwyl hy en sy vrou, Tanja, vir twee jaar in Engeland gaan skoolgee het, en ek besig was met my bemarkingsgraad. Ons eerste perseel was ’n kleinhoewe in Pretoria-Oos, en vir baie jare was dit net ons twee, wat alles gedoen het. In 2010 het ons ons eerste “car warehouse” in Pretoria gekoop, met plek vir 100 karre, en binne ses maande was dit ook nie meer groot genoeg nie.  Ons het organies aanhou groei, landwyd uitgebrei, en in 2020 het die besigheid aanlyn gegaan wat ’n hele nuwe dimensie gebring het. ’n Hoogtepunt was toe ons in 2019 die Afrika Entrepreneur van die Jaar-toekenning (AABLA) gewen het; dit was wonderlik om die erkenning te kry. Vandag het ons sewe persele landwyd en meer as 1 000 werknemers; asook aandeelhouers om gelukkig te hou!

Het julle ooit destyds gedink dat dit so ongelooflik suksesvol sou wees? Waaraan skryf julle die sukses toe; en wat is julle visie met die maatskappy?
Weet jy, sukses is ’n illusie. Sukses is as jy regkry wat jy onderneem het om te doen, maar die realiteit is dat die lewe dinamies is en die einddoel heeltyd verskuif, wat dit moeilik maak om te sê of ek bereik het wat ek onderneem het om te doen. Vir meeste “suksesvolle” mense het dinge heeltemal anders verloop as beplan, en hulle sogenaamde sukses kom eintlik neer op oorlewing, en geluk. So ons ag onsself baie geseënd dat dinge vir ons uitgewerk het.

Alles in die lewe gaan oor harmonie en wederkerigheid; daar is geen geheime formule vir sukses nie. Die goue reëls is eerstens dat jy baie nuuskierig moet wees, ’n behoefte moet raaksien, dan genoeg werk insit om te verstaan hoe dit werk en hoe jy daardie behoefte kan vervul en selfs nóg meer waarde kan toevoeg. En tweedens moet jy ander mense behandel soos jy self behandel wil word.  Wanneer jy die kloutjie by die oor bring dat jou werknemers ook jou kliënte is, en dat jou hele operasie afhang van die toewyding en passie van die mense wat vir jou werk, en dat hulle jou hande sterk maak, dan is jy op die regte pad.

Die draaipunt vir WeBuyCars het gekom toe ons besef het dat daar ’n tyd kom dat jy nie meer in die besigheid moet werk nie, maar aan die besigheid. Om te groei moet ons ander mense bemagtig en vertrou om die werk te doen. Dis normaal vir enige entrepreneur om te dink dat niemand jou idee en jou werk so goed kan uitvoer soos jouself nie. Maar die waarheid is dat ander mense dinge selfs nog beter kan doen, en soos jy ander mense bemagtig, so kan jou besigheid eksponensieel groei.

Julle is ook een van die hoofborge van Terugploeg – hoe het julle by hierdie inisiatief betrokke geraak?
Ons ken vir Atterbury en Louis van der Watt deur Fledge Capital, wat een van ons aandeelhouers by WeBuyCars is … Louis, Konrad Fleischholder, Lood Bester en die ander aandeelhouers van Fledge het die gees en energie raakgesien, en in ons geglo en geïnvesteer. Toe ons sien dat hulle in ons glo, het ons ook in onsself begin glo. Dit het ons in staat gestel om die mark met groot oortuiging aan te pak. Ons ken die Atterbury Trust dus al geruime tyd. En toe Lood met die idee vir Terugploeg vorendag kom, wou ons daarvan deel wees.

Ons het die voorbeeld gesien van Herman Marx van Vibro en Lood, wat destyds in die erge droogte saam met Caring Daisies trokke vol voer vir Vrystaatse boere aangery het – dit was ’n klomp mense se inisiatief en dryfkrag en ons wou graag ’n bydrae lewer. Afgesien daarvan was teruggee nog altyd ’n intrinsieke deel van WeBuyCars se waardes; ons het byvoorbeeld ’n welwillendheidsprogram wat betrokke is by die werksaamhede van verskillende welwillendheidsorganisasies.

WeBuyCars het ’n stuk grond beskikbaar gestel vir die bou van die Terugploeg-sentrum. Hoe direk bly julle betrokke by die sentrum, en hoe sien jy die toekoms van hierdie projek?
Die projek word deur die Atterbury Trust saam met Lood, Louis en Herman gedryf en ek is genooi om deel te neem. Ek help met die besluitneming, asook donasies, en ons bly so betrokke soos wat die projek dit benodig. Dis ’n groot plesier om ons entrepreneursbenadering en ons besonderse werksetiek en werksfilosofie te kan inspan om te help om oplossings te vind soos die projek ontwikkel.

Jy en Lize het benewens ’n ruimhartige kontantdonasie ook ’n werksgeleentheid by Terugploeg geskep – Faans van Zyl is die nuwe algemene bestuurder daar en julle borg onder andere sy salaris. Hoe ken julle vir Faans, en hoe het dit gebeur dat julle hom en Terugploeg bymekaargebring het?
Met Faans deel ons baie van dieselfde hart en dieselfde oortuigings. Ek het dit in Faans raakgesien; hy is ’n ontsettende opregte mens met baie goeie bedoelings, hy is ervare en hardwerkend, en ek weet dat ek iemand soos hy kan vertrou. Dis hoekom ons hom die geleentheid gegee het.

Die Covid-19 pandemie en sy nadraai gaan nog lank met ons wees; hoe voel jy oor die rol van die privaatsektor om bystand te gee aan behoeftige gemeenskappe?
Ek dink almal – skole, kerke, welwillendheidsorganisasies – moet alles wat hulle doen in heroorweging neem en terugkom na die daaglikse, praktiese behoeftes van mense; sonder om enigsins die langtermyn-doelwitte te misken. Daar word verskriklike goeie werk gedoen deur organisasies wat meer op die langtermyn-doelwitte toegespits is. Maar so belangrik soos hierdie langer-termyn fokus is, moet ons nie die kort-termyn doelwitte onderskat nie. Met Covid het daar ontsaglike maatskaplike nood ontstaan wat nog radikaal gaan toeneem, en ek glo ons gaan nog geskok word deur die nadraai daarvan.

Een van ons doelwitte is om die talle organisasies wat by welwillendheid betrokke is, te help koördineer om duplisering te beperk.

Ek wil mense aanraai om meer betrokke te raak sodat hulle weet wat met hulle donasie gebeur. Dit is ideaal as dit nader aan die huis is, sodat jy soms kan deelneem aan die hele inisiatief eerder as om blindelings ’n donasie te gee en geen idee te hê waarvoor dit aangewend word nie.

Wat is jou hoop vir die Terugploeg-projek? Het jy enige spesifieke persoonlike aksies wat jy hiermee hoop om te bereik (dalk werksgeleenthede vir nog mense soos Faans)?
Soos dit uitbrei, sal die behoefte aan ekstra mense toeneem en daar sal sekerlik nog werksgeleenthede ontstaan. En net uit my eie oogpunt, glo ek dat voedselverskaffing en voedselverwerking net belangriker sal raak. Ek glo ons moet baie nader beweeg aan landbou, en betrokke raak by goed soos tonnelverbouing van kos; die produksie-aspekte van kos en die werksgeleenthede wat daarmee saamgaan.

As jy in die toekoms kon inkyk, waar sou jy graag vir Terugploeg wou sien oor vyf of tien jaar; en hoe betrokke wil julle bly?
Ek hoop dat ons oor vyf jaar reeds ’n sterk koördinasie- en verspreidingsmodel in plek sal hê, sodat ons grootskaalse donasies van goedere kan ontvang en versprei – oor die hele Suid-Afrika.

As jy wil bydra tot Terugploeg, sien hier vir meer detail oor projekte en hoe om te skenk.