Wat gebeur as ’n “onteiende” boer weer gaan besoek aflê op sy familieplaas? Nié wat jy dalk sal verwag nie, skryf Herman Toerien op Maroela Media.
Namate die omgewing om ons bekender word, word die plooie op pa se voorkop al hoe dieper. Pa, en eintlik ek en Ma ook, is op ʼn soort pelgrimstog na die familieplaas wat ons in ’n geslaagde restitusie-eis kwyt is.
Pa het, terwyl ons vir ’n paar dae in die Vrystaat oorstaan onderweg van die Kaap na Mpumalanga, met die eienaar gereël dat ons daar ’n nostalgiese draai kan kom maak. Mnr. Moloi het aarselend ingestem.
Die afdraaibordjie wys Platfontein, en ons draai af op ’n grondpad. Nog so drie kilometer verder is daar weer ’n bordjie, en ons is oor die motorhek en bevind ons op Platfontein se grasvlakte. Nog ’n rukkie, en ons hou voor die sandsteenopstal stil. So ver lyk alles eksieperfeksie. Miskien te eksieperfeksie, reken Pa ná sy geoefende oog die wêreld betrag het. “Hier is sedert ek gebel het, groot moeite gedoen om alles skoon en netjies te kry. Die beddings in die tuin het nie ’n onkruid nie, maar in die een hoek staan ’n hoop vars tuinvullis amper menshoogte.”
Die voordeur gaan oop en ’n middeljarige man met vraende gesig kom uit: “Mnr. Moloi?” vra Pa toe hy nader stap om met die hand te groet.
“Dis net hy.” Pront Afrikaans. Dat dit met ’n lekker gebry gepaard gaan, blyk gou. “Noem my sommer Fred. Dis my naam wat ek like.”
Pa is sommer dadelik Oom Jan, en Ma, Tannie Stef. Ons word ingenooi na die sitkamer vir ’n lekker bekertjie boeretroos, verduidelik Fred. Die sitkamer is karig gemeubileer, maar almal kry sitplek ná ’n dikbek gemmerkat die trekpas gekry het.
Die gesprek gaan eers oor die alledaagse – die rugby, die krieket, die politiek.
“Beloftepolitiek, Oom weet,” sê Fred, en net daar draai dit na hoe bitter swaar dit op die plaas gaan met dié dat daar nooit investeringskapitaal was nie. “En dan is die veediewe ook nog rof,” en Fred laat sy “r” lekker rol van die bry.
“Hoe swaar?” vra Pa met ʼn knop in die keel. “Kom saam,” sê Fred en hy stryk aan na die stoor toe. In die skemerlig van die stoor sien ons dis eintlik net die ou bakkie en trekker wat pa as gebaar van goedgesindheid gelaat het, wat nog daar staan.
“Hulle is stukkend,” verduidelik Fred, “en ek kan hulle nie self reggemaak kry nie, en het ook nie geld om te laat regmaak nie.”
“Wat is fout met die trekker?” vra Pa. “Sy ratkas,” kla Fred. “Gee jy om as ek kyk?” vra Pa. “Ek ry altyd ʼn oorpak saam vir ingeval die kar iewers loop staan.” “Of ’n ou tannie met haar gestrande tjorrie kan help,” vul Ma aan.
Nie lank nie, skuif Pa met sy gereedskapkas half onder die trekker se sitplek in. Nog ʼn rukkie later kom dit: “B&^%$%m!” Dit beteken Pa het die ratkas oopgemaak, met sy vingers daarin gevoel, iets gekry wat geskuif het, en probeer dit nou met ʼn skroewedraaier in plek geskuif kry.
Pa vloek nooit, behalwe as hy aan ʼn trekker se ratkas werk, of in die dae van die Lister, die steekse kragopwekker wat hy weer aan die loop moes kry.
’n Knoop of twee later is Fred erg verleë. “Oom Jan, los liewer. Ek het in elk geval nie diesel of saad nie.” Maar al klink dit hoe, Pa is in sy element, en nie baie swetse later nie, is die ratkas weer eksieperfeksie.
Fred is erg bewoë. “Ai, as ek maar ʼn lening kon kry om die boerdery aan die gang te kry … Nou is ons klaar, klaar. Met die stukkende bakkie moes ek met die taxi dorp toe, en laas het die tsotsi’s my by die taxistaanplek van ons hele maand se groceries gerob. Ons het niks kos in die huis nie en die kinders is honger.”
Teen dié tyd huil Fred (en ek) snot en trane. Die groot boerboel huil saam.
Fred se vrou, wat intussen aangesluit het, huil ook saam, en Ma, nou ook die ene trane, probeer troos.
“Wag,” sê Pa. “Ek bel een van my ou buurmanne. Dalk is daar ʼn plan te make.”
ʼn Ruk later hou Oom Freek se bakkie stil. Die bakkie kreun onder ’n vrag – dis sakke mieliemeel, sakkies aartappels, pampoene, ’n paar verdwaasde hoenders, ʼn skaap wat duidelik pas geslag en ’n ander bestemming gehad het, brood en vele meer.
Die aand word braaivleis gehou. Pa en Fred braai, Mev. Moloi maak krummelpap, en Oom Freek sy trots, die pap se sous. Ma maak bykosse.
Tussenin praat Oom Freek en Fred besigheid, en nie lank nie, spreek Oom Freek vir Fred as “partner” aan.
Omdat die krag afgesny is, is dit lanterns wat tot laatnag gesellig lig verskaf. Toe wil Pa opsluit “vir oulaas” gaan springhase jag. Pa, Oom Freek en Fred is daar weg. ʼn Ruk later is hulle terug met so vier springhase en vier mans, wat blyk veediewe te wees wat hulle op heterdaad betrap het – een nogal ’n polisieman.
Fred se versoek dat pa-hulle hom, sy sambok en die veediewe in ’n buitekamer toesluit, val op dowe ore. “Mens weet mos nie hoe lyk dit wat ’n mens dan aan die polisie oorhandig nie,” sê Pa.
Met die vertrekslag sê Fred. “Die Here het julle gestuur. Julle sal seker nie omgee as ek en my gesin vir julle ’n ietsie sing nie?” En toe, in Suid-Sotho, klink dit betowerend mooi op: “Prys die Heer met blye galm…”
Nie een van ons het ’n droë oog toe ons by die motorhek uitry nie.
Dié artikel het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn