We^Can is ’n organisasie wat ’n dag voor die aanvang van die Covid-19 grendelstaattydperk in Suid-Afrika afgeskop het. Hierdie organisasie maak dit moontlik vir passievolle Suid-Afrikaners om binne hulle finansiële vermoë en op ’n maklike manier deel te raak, om sodoende ’n impak te maak en uitdagings van behoeftige gemeenskappe op die lang duur aan te spreek.

Sedert die aanlynplatform agt weke gelede geskep is, het die We^Can gemeenskap daarin geslaag om 45 667 kg se kos in te samel deur 31 afsonderlike projekte wat reeds suksesvol afgehandel is. Die meer as 45 ton kos kon ongeveer 170 000 etes aan die onderskeie We^Can begunstigdes in Gauteng en Limpopo voorsien. Die verlengde grendelstaattydperk het egter tot gevolg dat die getal hulpbehoewendes by die dag steeds bly toeneem.

Laerskool Kameeldrift is ’n begunstigde van Atterbury Trust en die omliggende area is een gemeenskap wat diep geraak word deur die grendelstaattydperk. Die omstandighede van die gemeenskap is oor die algemeen uitdagend met die meerderheid van die 700 leerlinge in die skool wat afhanklik is van die twee etes per dag wat hulle by die skool ontvang. Maar die afgelope paar weke het die lewe van die plaaslike gemeenskap besonder moeilik geword en is meer as 400 gesinne in en om die skool afhanklik van versorging op ’n daaglikse basis.

We^Can pak dié week hierdie uitdaging aan en wil aan elke gesin ’n sak vars groente asook ’n pak meel voorsien om hulle voedselnood te help aanspreek. Die publiek kan tot 7 Junie beide díe produkte aanlyn aankoop teen slegs R49, waarna We^Can dit aan die skool sal verskaf vir verspreiding onder die gemeenskap. Klik hier en skenk aan die Laerskool Kameeldrift gemeenskap met die maklik-om-te-gebruik We^Can aanlynwinkel.

We^Can verkry voedsame items vir projekte teen die beste moontlike pryse vanaf voedselprodusente en verskaffers regoor Suid-Afrika. Die pryse vanaf voedselprodusente en verskaffers, sowel as elke individue of maatskappy se bydrae, dra by tot die vestiging van ’n volhoubare model wat die voortdurende ondersteuning aan We^Can begunstigdes verseker. Sonder die ondersteuning van die publiek sou hierdie inisiatief nooit moontlik gewees het nie. “Hierdie model werk baie goed omrede ons elke begunstigde se spesifieke behoefte aanspreek teen pryse wat meer waarde vir elke sent bied,” sê Francois Mouton, stigter en direkteur van We^Can.

We^Can bestaan tans uit twee komponente naamlik “LIVE” uitdagings en “SHOP4 Heroes”. Daar sal voortgebou word op die sukses van die “LIVE” uitdagings waar We^Can een projek op ’n slag aanpak. Hierdie uitdagings poog om binne ’n aantal dae ’n sekere hoeveelheid kositems namens ’n betrokke We^Can begunstigde (“Hero”) in te samel. Sodra die publiek die teiken bereik met aanlynaankope word die produkte beskikbaar gestel aan die We^Can begunstigde organisasie om te versprei aan die mense in hulle sorg.

We^Can besef egter dat die nood te groot is om slegs een We^Can begunstigde op ’n slag te ondersteun en die inisiatief word nou uitgebrei met ’n tweede komponent genaamd “SHOP4 Heroes”. Hierdie aanlynwinkel sal aan die publiek die geleentheid bied om enige tyd van die maand namens ’n We^Can begunstigde inkopies te doen volgens ’n spesifieke lys van behoeftes en hoeveelhede benodig.

We^Can begunstigdes versorg die weerloses in ons land en We^Can wil hulle in staat stel om die goeie werk wat daagliks gedoen word te kan voortsit. Daarom snoer Atterbury Trust en Power of Co nou kragte saam om We^Can verder uit te brei en sodoende meer gemeenskappe regoor Suid-Afrika te bereik op ’n nuwe aanlynplatform by https://wecanSA.co.za/

Volgens Zahn Hulme, uitvoerende trustee van Atterbury Trust is hulle opgewonde om deel te wees van We^Can en glo dat dié organisasie individue en maatskappye in staat stel om op ’n eenvoudige manier ’n verskil te maak, ongeag hoe groot of klein die bydrae. “We^Can is ’n deursigtige platform wat op ’n verantwoordelike manier donateurs se fondse direk aanwend om gemeenskappe in nood by te staan.”

Die We^Can webblad by www.wecanSA.co.za bied maklike toegang tot ’n Payfast-betalingsisteem wat ook maklik deur ’n slimfoon gebruik kan word. Dit stel alle Suid-Afrikaners, asook mense regoor die wêreld in staat stel om ’n verskil in behoeftige Suid-Afrikaners se lewens te kan maak. #WeCan

Volg We^Can op Facebook en Instagram.