Atterbury Trust se uitvoerende trustee Zahn Hulme, neem volgende maand deel aan die uitdagende King Price Groot Swem vanaf Robbeneiland na Bloubergstrand om geld in te samel vir ’n stigting wat hom beywer vir behoorlike voeding vir jong kinders. Zahn vertel meer.

Wanneer vind die Groot Swem plaas en is dit die eerste keer dat dit gehou word?
Die Groot Swem vind vanjaar tussen 15 en 22 Maart plaas. Hoe dit werk is dat die Groot Swem-groep ’n week toegeken word en die weersomstandighede, seetoestande en deinings word gemonitor en nader aan die tyd word ’n spesfieke dag geallokeer – as die toestande hopelik so naby moontlik aan perfek is!

Die eerste Groot Swem het in 2022 plaasgevind. Daar was toe 11 swemmers en vanjaar is daar 20 van ons wat gaan saamswem.

Vertel ons meer oor die rede agter die swem en hoe jy daarby betrokke geraak het?
Die doel van die Groot Swem is bewusmaking en fondsinsameling ten bate van die Inani Startwell Foundation wat gefokus is om ’n einde te bring aan die tragedie van groeibelemmering (stunting) in kinders. Daar word gereken dat soveel as een uit elke drie kinders onder vyf in ons land in hul kritieke vroëe ontwikkelingstadium permanent geknou word weens wanvoeding en honger. Hierdie skade is heeltemal voorkombaar, maar onomkeerbaar as dit eers daar is, en die kind word verhoed om ooit sy of haar volle potensiaal te bereik, met lewenslange gesondheids- en ontwikkelingsprobleme. Startwell vervaardig ’n voedsame produk in die vorm van ’n pap wat vol is van al die noodsaaklike voedingstowwe wat ’n kind in daardie kritieke ontwikkelingsfase nodig het, en dié pap word aangewend in kleuterskole in behoeftige gebiede om daardie kleintjies een voedsame maaltyd , wat al die nodige voedingstowwe bevat, per dag te gee.

Atterbury Trust se stigtertrustee Francois van Niekerk het via die Atterbury Trust saadkapitaal verskaf om Inani Startwell van die grond af te kry en dis hoe ek die eerste keer van Startwell gehoor het.

Jy is baie dapper ­– wat het jou laat besluit om deel te neem? Het jy al ooit so ver geswem, en in sulke koue water?  Hoe berei jy voor?
Ons swem vir so ’n goeie doel! Ek het verlede jaar vir Org van der Wath, die brein agter Inani Startwell, ontmoet en is geïnspireer deur die verskil wat die produk in ons land kan maak.

Die see is definitief ook my “happy place” en die video’s van verlede jaar se swem waar ’n rob ’n lang ent saamgeswem het en die swemmers ook ’n groot skool dolfyne en selfs ’n walvis raak geswem het, was verdere inspirasie! Ek swem al van kleinsaf en dit was nog altyd ‘n droom van my om die Robbeneiland-swem te doen. Almal waarsku teen die koue water – lyk my dis die grootste uitdaging! Alhoewel kouewater-swem baie gesondsheidsvoordele het, kan ’n mens se liggaam ook op vreemde maniere reageer. Blykbaar is die koue water ’n groter uitdaging vir swemmers as die afstand – die water was verlede jaar tussen 10 en 11 grade!

Ek berei al vir die afgelope twee maande voor – ek swem in die see of in die Touwsrivier by Wilderness. As ek in Stellenbosch werk, swem ek in die dam bo Coertzenburg of in die swembad by Virgin Active. Ek beplan om oor die volgende twee weke ‘n paar keer die koue water van Kampsbaai en Clifton te gaan trotseer!

Van waar af swem julle, en swem julle almal die hele 7.5km afstand?
Ons swem vanaf Robbeneiland na Bloubergstrand. Al 20 swemmers swem die volle 7,5km – dit neem glo gemiddeld ongeveer drie ure om te voltooi. ’n Boot vat al die swemmers  vroegoggend deur tot op Robbeneiland en dan begin die swem van daar af.

Wie anders is in die span swemmers – enigiemand wat ons ken? Word daar ’n wenner aangekondig of is daar geen fokus op kompetisie nie?
Marno Boshoff wat aan die hoof staan van King Price se liefdadigheidstrust het eerste met die idee opgekom. Daar is dus mense in sy groter King Price-netwerk wat swem.

Johrne van Huysteen wat aanbieder van Groot Ontbyt was en nou in Clarens woon, oefen baie entoesiasties in Clarens se koue dam!

En nee, daar is geen wenner nie – ons swem twee-twee agter ’n ondersteuningsboot, en elke swemmer het ook ’n ondersteuner op die boot wat help met kos en water tydens die swem.

Hoe werk die insamelingsmeganisme en hoe word die geld wat ingesamel word, aangewend?
Die oogmerk is dat elke swemmer ten minste  R25 000 insamel – dat ons dus op die dag R500 000 bymekaarmaak. Dit is die ekwivalent van 210 084 borde voedsame Startwell-pap! Meer as 700 kinders sal hiermee vir ’n hele jaar gevoed word – gemiddeld 35 kinders per swemmer.

Dit kos R2,38 om ’n kind per dag met voedsame Startwell te voed – slegs R700 per jaar.  Die manier hoe Startwell uitgerol word is deur kerke en liefdadigheidsorganisasies, want die hele meet en weegproses is integraal om te bepaal wat die impak van voedsame kos op die kind se groei is.

Hoe kan ons jou aanmoedig? Hoe maak mens ’n donasie?
Dit sal wonderlik wees as mense my poging finansieel ondersteun. Daar word ook Artikel 18-sertifikate uitgereik. Mense kan ook betrokke raak deur as vrywilligers by skole in behoeftige areas betrokke te raak – hetsy deur die Startwell kos op ’n maandelikse basis te borg of een keer per maand die skool te besoek om die kleintjies te weeg en te meet.

Rekening: Nika Capital NPC
Bank: FNB
Rekeningnommer: 628 095 63 522
Takkode: 204 109
Taknaam: RMB Corporate Cape Town
Tipe rekening: Corporate Cheque Account
Verwysing: GSZAHN