Die Atterbury Trust-span in die Wes-Kaap is aan die groei, en die nuutste toevoeging bring haar rekenmeesters- sowel as regstalente na die tafel toe. Ons het vir Surisa Schwalb van nader leer ken…

Waar is jy gebore en getoë? Jy is nie van altyd ’n Kapenaar nie, reg?
Ek is in Pretoria gebore en was in Laer- en Hoërskool Menlopark. Na matriek het ek Stellenbosch toe getrek toe ek BRek LLB aan die Universiteit van Stellenbosch kom studeer het. 

Vertel ons van jou beroepspaadjie tot dusver en hoe dit jou by Atterbury Trust gebring het?
Na my studies het ek my klerkskap by PriceWaterhouseCoopers in Oos-London gedoen. Toe my eerste seuntjie gebore is, het ons Somerset-Wes toe getrek en het ek my eie praktyk begin van die huis af omdat ek hoofsaaklik saam met hom wou wees vir die eerste twee jaar.

Op universiteit was ek betrokke by die Atterbury Truststudente en het ook vakansiewerk by Atterbury gedoen. Toe Zahn in Maart vanjaar bel om te sê hulle wil ’n Wes-Kaapse been vir die Trust op die been bring, was dit ’n geleentheid wat ek nie wou misloop nie!

Wat het jou laat besluit om die onafhanklikheid van jou eie praktyk op te offer en (weer) in ’n maatskappy-konteks te begin werk?
Ek was nie regtig van plan om hierdie onafhankikheid prys te gee nie, maar om by die Atterbury Trust ’n geleentheid te kry was nog altyd ’n droom en die tydsberekening was ook van so ’n aard dat ek dit kon aangryp.

Die Wes-Kaapse kantoor is dinamies aan die groei, met baie nuwe geleenthede wat ontwikkel soos die weke aanstap. Wat presies behels jou rol?
Soos ek my voete vind by die werk, kry ek geleenthede waar ek kan bydra tot hierdie dinamiese span. Ek dink om te begin is my hoofrol om die boekhouding van die bestaande projekte in die Wes-Kaap oor te neem en dan om nuwe fondse te bekom en projekte te identifiseer. Ons wil ’n Wes-Kaapse Terugploeg begin, wat beteken ons moet bande vorm met boere in die area om produkte te kry wat ons dan verder kan versprei.  

Het jy op hierdie vroeë stadium al reeds bepaalde oogmerke wat jy graag wil bereik in hierdie rol?
Dit is nog baie vroeg, ja, maar ek dink die langtermynplan is om ’n suksesvolle Terugploeg op die been te bring en hopelik net so suksesvol te raak soos ons Trustspan daar bo in Gauteng!

As jy enige droomprojek van jou keuse in die naam van die Trust van stapel kon stuur, waarop sou jy graag fokus?
Dit sal ’n projek wees wat op kinders fokus – die eerste paar jaar van ’n kind se lewe is so belangrik en daar is duisende kinders wat reeds in die beginjare ’n agterstand kry wat hulle nooit weer kan inhaal nie.

Wie is Surisa as sy by die huis is? Wat geniet jy die meeste om saam met jou gesin te doen?
Ek en my man, Ronald, woon in Somerset-Wes saam met ons twee woelige seuntjies, driejarige Roger en eenjarige Oliver. Ons het ook twee Bernese Berghondjies. Die Kaap is so mooi en ons is baie lief daarvoor om buite te wees – meeste wynplase het die afgelope paar jaar baie ontwikkel om kinders te akkommodeer of dit nou is met klim en klouters, fietsrybane of wandelpaaie. As ons nie werk nie is ons êrens op ’n plaas besig om te ontspan!

Dis Vrouemaand, en ons almal het ’n vrou of twee wat ons bewonder, hetsy ’n mentor of ’n wêreldfiguur, en sekerlik ook ’n geliefde familielid. Wie is joune? Wat is dit omtrent hierdie vroue wat jou inspireer? En as jy saam met enige vrou in die geskiedenis kon werk, wie sou jy kies om van te leer?
Ek sal sê my ma, Karien van Staden: sy is ’n uitstekende rolmodel! Sy het voltyds gewerk terwyl ons grootgeword het en nog steeds was sy beskikbaar om te gee, en om alles van ons by te woon. Nou besit sy een van die beste Dis-chem apteke in die land en kry dit nogsteeds reg om haar kleinkinders elke paar weke te sien en daagliks koffie saam met Ouma te drink. Sy stel ’n ongelooflike voorbeeld van hoe om ’n gebalanseerde lewe te lei met tyd vir familie, werk, vakansie en selfs om ander te kan help.