Piet en Anell Burger van Daspoort is ’n egpaar in hul tagtigerjare wat al van die begin-dae pasiënte van Triomf Kliniek is. Ons het by Anell gehoor hoe Triomf hulle lewe aangeraak het sedert dit sewe jaar gelede met die hulp van Atterbury Trust sy deure in Pretoria Wes oopgegooi het om uitmuntende mediese sorg gratis beskikbaar te maak vir die mense van die gemeenskap.

Wat het julle vir mediese bystand gedoen voor die opening van die Triomf Kliniek en hoe het dit vergelyk?

Voor ons in die koerant gelees het van Triomf het ons staatsklinieke besoek; met ’n staatspensioen is mens daarop aangewese. Ons het twee dogters wat baie goed na ons kyk, maar soos mens ouer raak, het jy meer mediese bystand nodig. Dis maar ’n groot probleem met ons land se staatsgesondheidsdienste wat so sukkel. Jy sal kliniek toe gaan en dan verwys word na Pretoria Wes se hospitaal, waar jy van sesuur die oggend sal sit en wag tot die aand sonder dat jy ’n dokter gesien kry. Ons kry steeds ons chroniese medikasie by die staatsklinieke, maar my man het byvoorbeeld hierdie lelike letsel aan sy nek gehad, wat by die staatshospitaal oopgesny is “sodat dit kan dreineer”, en hulle het net vir hom kortisoonsalf gegee. Toe ons uiteindelik by Triomf Kliniek uitkom, het ons gehoor dat dit velkanker was. Ek weet nie wat die uitkoms sou gewees het as ons nooit die regte behandeling vir so ’n lewensgevaarlike toestand gekry het nie.

Was die velkanker-behandeling die mees belangrike hulp wat julle tot dusver by die kliniek gekry het?

Piet het twee groot velkankerletsels gehad – een aan sy nek en een aan sy bobeen, en Dr Marc Roscher het dit onmiddellik verwyder.  Piet was die heel eerste pasiënt by Triomf Kliniek, en destyds was Dr Roscher se tante Iris Roscher ook nog daar – sy het hom bygestaan met Piet se velkankeroperasie. Wonderlike mense, wat hulle tyd so vrylik gee om ander te help.

Hoe gereeld klop julle vir hulp aan by Triomf Kliniek?

Oor die jare het Dr Marc ’n hele aantal ander velletsels vir Piet verwyder. Ons het ook al ’n gehoortoestel vir Piet se doofheid gekry, en hy het ook ’n katarak-operasie gehad. Ek het ook maar kwale wat saam met ouderdom kom, en sien soms die internis, wat dan vir my ‘n voorskrif gee vir medikasie. Die wonderlikste is dat mens altyd met soveel waardigheid behandel word – niemand laat jou voel asof jy minder as hulle is omdat jy die sorg gratis kry nie.

Wat beteken die Triomf Kliniek vir julle?

Die kliniek en die dokters is altyd daar as ons hulp nodig het. Ek het nog nooit gebel wat ek nie ’n afspraak gekry het nie. As daar ’n dokter is, en die kliniek is oop, maak hulle ’n plan en jy word gesien, en behandel, en kry ’n voorskrif, of ’n verwysing of ‘n operasie, en die diens is uitstekend. Dit is so wonderlik dat daar nog mense is wat so baie omgee vir ander – ek weet die dokters help uit sonder vergoeding, en Atterbury Trust hou die kliniek aan die gang. Dit beteken so baie vir ons en vir so baie mense wat andersins ook geen ander heenkome as die staatshospitale sou gehad het nie.

Het julle ’n Kersboodskap vir die mense van Atterbury Trust en Triomf Kliniek?

Die Kliniek en die Trust en almal wat betrokke is, doen fantastiese werk en ons is grensloos dankbaar, ook vir al die mense wat geld skenk sodat die Atterbury Trust ons kliniek aan die gang kan hou. Mag julle almal ryklik geseën wees in die jare vorentoe.