Ons Trust beursstudente het almal al vir die afgelope 10 jaar die voorreg van mentorskap deur Leonie du Preez van GRO Life, wat onlangs haar kundigheid by ‘n konferensie in Amerika gaan deel het. Sy vertel ons meer.

Jy was pas in Madison, Wisconsin waar jy die Amerikaners vertel het van die werk wat jy by GRO Life doen. Ons wil meer hoor!

Wat ’n voorreg om my passie en jeugontwikkelingsprogram met die res van die wêreld te deel!

Ek was by die Association for Experiential Education (AEE) se konferensie by die Universiteit van Wisconsin, nadat my aansoek om borgskap vir die konferensie goedgekeur is. Ek het ’n geleentheid gekry om te vertel wat ons holistiese jeugprogram behels, en hoe ons graag die jeug in elke land wil bemagtig om gesond en gelukkig te wees.

Hoe werk dié jeugprogram, in ’n neutedop?

In Afrikaans is dit Vlymskerp en in Engels, Super Sharp. Die program is aanlyn beskikbaar en bestaan uit vier modules: Liggaam, Verstand, Siel en Gees. Liggaam is die beginpunt, wat soos dit klink, fokus op jou fisiese liggaam. Ons vra, wat is jou verantwoordelikheid teenoor jou eie liggaam? Al die veranderinge wat jy as jongmens beleef is natuurlik en uniek.

Dit is jou liggaam wat jou in staat stel om jou volle potensiaal te bereik. Dit is ook jou verantwoordelikheid om jou liggaam gesond te hou. Dan is jy Vlymskerp!

Die tweede hoofstuk verduidelik die verstand: die verskil in werke van die brein, maar ook die krag van elkeen se eie denke. Die hoofstuk help jou om jou gedagtes Vlymskerp te rig sodat jy jou denke positief kan gebruik vir jou toekoms.

Dan kom ons by Siel, wat kyk na jou wil en emosies. Ons vra, watter emosie ervaar jy op die oomblik; hoe hanteer jy dit? Ons almal ervaar emosies, en met hierdie module help ons jou om jou emosies Vlymskerp te beheer.

Die laaste deel fokus dan op ons strewe na ’n hoër gees; die innerlike kompas wat ons help om besluite te maak. Ons fokus om ons waardes daar te stel sodat ons Vlymskerp kan wees om ons volle potensiaal te bereik.

Dit is ‘n baie lekker program om jongmense prakties te help om Vlymskerp te wees in alle aspekte van hul lewe, en omdat dit aanlyn beskikbaar is, is dit baie toeganklik.

Wat was vir jou die hoogtepunt van die konferensie?

Dit was vir my verblydend om te sien dat daar wêreldwyd ‘n groot geleentheid is om die jeug te help om in alle areas van ’n jongmens lewe te floreer.

Was dit leersaam? Enige lesse wat jy kon terugbring om vorentoe in jou werk te inkorporeer?

Ek het baie geleer. Die een sessie wat vir my uitgestaan het, is aangebied deur Dr Heidi Schreiber, wat navorsing gedoen oor hoe ons die angstige denke te kan “mak maak” – haar praatjie was oor “Taming the anxious mind”.  Die natuur is die groot metgesel in terapie. Ons land is so mooi, en as ons die natuurlike hulpbronne wat oral om ons beskikbaar is, geniet, sal dit ook angstige denke beperk…

Jy moet sekerlik dink daar is dinge wat ons die Amerikaners kan leer in hierdie veld – kan jy dit artikuleer?

Ons is baie betrokke, en ek weet veral by Atterbury Trust is daar ‘n verhouding wat gebou word met elke student, en dit maak alles wat ons aanpak meer volhoubaar.

Kon jy darem ook bietjie vakansie hou en meer van die stad of die land sien? Wat het uitgestaan?

Ek en my man, Jaco, het ongelooflik lekker gereis, en baie besienswaardighede besoek. New York, die mense en die stad wat nooit slaap nie; Chicago, met die skoon rivier wat deur die stad vloei; Boston en paar bekende universiteite soos Harvard en MIT. Die universiteit van Wisconsin in Madison se kampus is ongelooflik mooi, dit was wonderlik om daar rond te loop

Is daar enigiets wat jy kan uitsonder waarna die Trust studente wat jy mentor kan uitsien vir volgende jaar? Het jy ’n boodskap vir hulle?

Ek weet hulle gaan VLYMSKERP wees – ligggaam, verstand, siel en gees. My boodskap is, gryp die kosbare geleentheid aan om voluit student te kan wees, sodat jy in alle areas van jou menswees kan groei!