Soos Terugploeg groei, groei die behoeftes en ook die kennis oor hoe om die meeste te maak van al die wonderlike donasies en welwillendheid van baie mense. Danksy Terugploeg se nuwe koördineerder, Jeanne van der Sande, draai die wiele daagliks gladder.

Vertel ons hoe die paadjie geloop het wat jou by Terugploeg gebring het?
My pad het met Terugploeg gekruis danksy my en my man, Diets, se vriendskap met Zahn en Alten Hulme. Diets het in Duitsland die spesialiskuns van vleisverwerking bemeester en het jarelange ondervinding en kundigheid in die Suid-Afrikaanse bedryf waar hy onder andere by Feinschmecker, Eskort en Enterprise gewerk het. Zahn het voorgestel dat Diets by Terugploeg betrokke raak en adviseer by die nuwe slaghuis se wildsverwerkingsfasiliteit  Toe ek sien waaroor Terugploeg alles gaan, het ek dadelik geweet ek wil ook betrokke raak en help met die dag-tot-dag bestuur. Toe Ananja Koen my net daarna vra om juis dít te doen, het ek dadelik ja gesê!

Ek het nogal ’n interessante loopbaan gehad van marknavorsing net na my Huishoudkunde graad aan die Universiteit van Pretoria tot boervrou in die laeveld van Zimbabwe. Dis hier waar ek ontwikkel het om te kon help met die bestuur van groot bees- en wildsplase, maar ook om in die wildskamp gourmetkos vir ons Duitse jagkliënte te kon aanbied. Ek moes baie dinge organiseer. Ek het hier my Duits opgeskerp en by die Europese nasie geleer as jy iets doen, doen dit na die beste van jou vermoë. Dit gee net soveel selfvertroue om te weet mens doen iets goed. Ek het die span werkers op ons plaas en sommer vir my kinders ook gewys om passievol alle uitdagings van die lewe met moed aan te pak en dat sukses lei tot selfvertroue.

Wat is dit omtrent Terugploeg wat jou aangetrek het?
Ek bestuur graag mense om hul beste te bereik en eintlik vir hulle te wys waartoe hulle in staat is, en dat alles moontlik is met harde werk en toewyding.

Ek vereenselwig myself met alles waarvoor Terugploeg staan: ek gee graag en ek help graag, gee aan dié wat minder het, en deel; dis regtig my motto in die lewe. Dis ’n groot voorreg om deel van Atterbury Trust se Terugploegspan te wees. Ek glo dat as ons by Terugploeg die donasies op die regte manier uitdeel sal dit net van krag tot krag gaan.

Wat behels jou rol alles? Hoe lyk ’n tipiese dag?
My rol as koördineerder is hoofsaaklik om te kommunikeer met die begunstigde organisasies oor die afhaal van produkte by Terugploeg, en om dit te bestuur en organiseer. Dis ’n kwessie van beplanning, en dan skeduleer ek net die oplaai en hou deeglik rekord van wat inkom en uitgedeel word.

Terugploeg is nog nuut en ek is seker daar is gereeld nuwe uitdagings wat uitgestryk moet word. Vertel ons van so een, en hoe jy dit aangepak en opgelos het?
Die groot uitdaging by Terugploeg was om ’n georganiseerde stelsel in plek te kry sodat almal weet wat om te doen en hoe om dit te doen sodat die dag en die take vlot verloop. ’n Voorbeeld was toe die vleisverwerkingseenheid oopgemaak het, moes die blokmanne die skoonmaak- en gesondheidsreëls van ’n slaghuis geleer word, en daar moes gesorg word dat hulle dit effektief toepas. Dit is nou alles in plek.

Wat geniet jy die meeste omtrent die werk? Kan jy dink aan een onlangse insident wat dit vir jou opsom?
Dit is elke keer so lekker om die produkte wat ons by ons groothartige borge kry, te kan gee aan mense wat dit werklik nodig het, en dan om soveel mooi dankie e-posse, oproepe en Whatsapps te ontvang. Dit doen iets vir die hart om daardie absolute dankbaarheid vir die donasies en die hulp wat gegee word te sien, en te besef ons maak werklik ’n verskil.

Vertel ons iets oor jou gesinslewe en wat julle graag as gesin saam doen.
Ek en Diets is 30 jaar getroud en was 13 jaar in Zimbabwe. Daarna moes ons in Pretoria weer van vooraf begin met nuwe beroepe. Ons het albei begin werk by die vleishandelaar Feinschmecker In Germiston, wat danksy ons Duitse konneksies op ons radar gekom het, en dit was die begin van ons loopbane in die vleisbedryf. Ons het drie dogters – die oudste twee is albei geoktrooieerde rekenmeesters; oudste in Amsterdam en die tweede hier by PwC in Johannesburg. Ons jongste woon in Kaapstad en werk by ’n tegnologiefirma. Ons as gesin kuier graag in Afrika; ons is so lief vir die natuur, wild en voëllewe en is baie saam in die wildtuin, maar ook soms saam by die see. Ons gaan nou juis einde Oktober Victoria Watervalle toe om Diets se 60ste verjaarsdag te vier. Ons is almal passievol oor die lewe en die Skepping en die ongerepte natuur van Zimbabwe.