Ons beursstudente is een en almal vasberade en dinamies, en as hulle eers klaar geswot het, hou ons hulle met belangstelling dop, want hulle stel nooit teleur nie. Elrinda Rost en Chrisna Devenish is twee alumni wat in die jare sedert hul in die beursprogram was, hul merk in die wêreld gemaak het. Hulle deel hul stories as deel van die Atterbury Trust 25-jaar nalatenskapvieringe.

Vertel ons hoe dit alles begin het, en watter rol Atterbury Trust in jou lewe gespeel het?
Chrisna: Ek het drie jaar ondersteuning van Atterbury Trust gehad terwyl ek van 2007 tot 2009 my B Occ Arbeidsterapiegraad verwerf het. Sonder Atterbury sou ek glad nie kon swot nie! Tot vandag toe weet ek nie hoe of waar ek die eerste keer van Atterbury Trust gehoor het nie, maar dit was ‘n antwoord op baie gebede. My kursus het baie praktiese blokke gehad wat baie keer behels het dat ek ver moes ry of op die laaste minuut nog apparaat of speelgoed benodig het, en wat ‘n groot seën om die telefoon te kon optel en vir Zahn of Louise te bel en te vra, wetend dat ek nie alleen is nie en hulle elke keer met liefde en onvoorwaardelike verstaan ‘n plan sal maak.

Elrinda: Ek het destyds met die bemiddeling van ’n beroepsvoorligter by die Atterbury Trust uitgekom. Atterbury Trust het my vanaf my eerste jaar (2004) op universiteit gehelp met die beurslening totdat ek vier jaar later my B.Com Honneurs in Bemarking & Entrepreneurskap voltooi het.

Wat het intussen in jou lewe gebeur sedert jy graadgekry het?
Elrinda: Ek het sommer al in Desember 2007 begin werk by Aurecon as ‘n projekbestuurder, eers in Kimberley en toe later in Kuruman. Ek was vir net meer as vier jaar daar. In 2008 het ek getrou met die liefde van my lewe, Edrich, en ons het twee pragtige kinders – Elmaré is nege en Erich is nou sewe.  In 2012 het ek by Assmang Khumani-myn begin werk en daar het het gevorder tot korporatiewe sosiale verantwoordelikheidsbestuurder. Tot 2020 het ek my passie uitgeleef om gemeentskapsontwikkeling te doen in ons mynomgewing.

Toe kom Covid en ek het bietjie introspeksie gedoen oor my rol as as voltyds werkende mamma. Ek het besef ek is reg vir ’n nuwe uitdaging met meer inskiklike ure sodat ek meer tyd vir my gesin het. Sonder ’n behoorlike plan B, wat glad nie in my aard is nie, bedank ek toe! Maar die Here voorsien soos net hy kan, en daar ek kry heel toevallig die geleentheid om ’n gastehuis te koop, wat nie eers in die mark was nie! Dit was letterlik af in die straat van ons huis af, en ek het die koopkontrak geteken skaars twee  weke voordat ek by Khumani klaargemaak het.

Op 1 Januarie 2021 is ek toe die trotse eienaar van ’n klein gastehuis, Amaziah Guesthouse, wat ons toe onder hande geneem en opgeknap het – watter heerlike uitdaging!

So ek is nou twee jaar in hierdie “nuwe” bedryf en leer nog elke dag iets. Ek geniet elke oomblik daarvan om meer tyd te hê saam met my gesin en ook om my eie baas te wees! Gaan loer gerus: www.amaziahguesthouse.co.za

Chrisna: Na my gemeenskapsdiens jaar in Rustenburg en 10 jaar se werk in verskillende praktyke in Johannesburg en Pretoria het ek vandag my eie praktyk in Wilgers. Dit was onlangs die praktyk se vierde verjaarsdag!

Ek spesialiseer in sensoriese integrasie en werk meestal met kinders van twee tot 10 jaar oud met ontwikkelings-agterstande, ADHD of op die outisme-spektrum.
Ek geniet gemeenskapsontwikkeling en raak graag betrokke by welsynsprojekte van die kerk of van nie-regeringsorganisasies. Elke kinderlyfie verdien die beste kans op ontwikkeling en groei vir hul  skoolloopbaan.

As deel van die groter Atterbury alumnigroep, het jy’n boodskap wat jy graag wil deel?
Chrisna: Ek is vandag so trots om ’n arbeidsterapeut te wees, om elke dag ‘n verskil te kan maak in klein mensies en ouers se lewe en om met dieselfde onvoorwaardelike ondersteuning wat Atterbury Trust destyds vir my gegee het, planne te probeer maak vir elke gesin.

Elrinda: Aangesien ek self in gemeenskapsontwikkeling was en ook beurse moes toeken en bestuur, kan ek net sê, Atterbury, julle het ’n wenresep!  Bou so voort, julle verander lewens!

Dankie vir die enorme rol wat julle in my lewensreis totdusver gespeel het!

Atterbury Trust se beursfonds is afhanklik van donasies, en enige bydrae is welkom om ons te help om uitblinkers met potensiaal, soos Chrisna en Elrinda deur hul studies by te staan. Vind hier meer uit oor hoe jy kan deelneem!