As deel van Atterbury Trust se samewerking met Screen Her Save Her en Keystone Medical om borskankerskanderings vir meer mense toeganklik te maak, is die Atlantis-gemeenskap van Richmond Park Treasury Trust ook bevoordeel. Surisa Schwalb vertel meer.

Hoe het dit gebeur dat Atterbury Trust Wes-Kaap nou ook betrokke geraak het by die Richmond Park Treasury Trust, en is die Borskanker Bewusmakingveldtog die eerste stap?
Atterbury Trust Wes-Kaap help met die bestuur van die Richmond Park Treasury Trust (RPTT), wat befonds word deur die ontwikkelingskoste van die Richmond Corner winkelsentrum en verspreidings-park, wat Atterbury Property ontwikkel. Die begunstigdes van die RPTT is die 401 gesinne wat voorheen op die perseel gewoon het voordat hulle die grond weens apartheidswetgewing verloor het. Die meeste van hulle woon nou in Atlantis.

Aanvanklik is die fondse slegs gebruik om rentevrye lenings aan mense van die gemeenskap te bied vir verdere opleiding en vaardigheidsontwikkeling. Vandat Atterbury Trust ’n kantoor en teenwoordigheid in die Wes-Kaap het, het ons wyer begin kyk as die opleidingsgeleenthede, en het in samewerking met die RPTT ’n paar nuwe gemeenskapsprojekte aangepak. Die Borskanker Bewusmakingveldtog was wel die eerste gesondheidsprojek, maar daar was al ’n vakansieprogram vir skoolkinders by die gemeenskap se Resource Centre en ’n projek om meer rekenaars en internettoegang by die Resource Centre te verskaf. Ons is ook betrokke by  Wonderland Créche waar ons Inani Startwell pap vir die kleintjies se ontbyt voorsien.

Wat is die behoefte wat in die Atlantis-gemeenskap geïdentifiseer is?
Die RPTT mense in Atlantis het nie maklike toegang tot mediese sorg nie – en veral nie vir iets soos ’n mammogram nie. Daarvoor sal vroue na Tygerberg Hospitaal of Groote Schuur Hospitaal moet gaan. Die meeste van RPTT se personeel en trustees is vroue, en so ook die meeste van die mense uit die gemeenskap met wie ons gereelde kontak het, so ons het hierdie behoefte raakgesien. Omdat Oktober Borskanker Bewusmakingsmaand is, wou ons graag iets daar rondom doen wat al die vroue van RPTT kon bevoordeel.

Hoe het julle die gemeenskap betrek by hierdie veldtog? 
In ’n spanpoging tussen ons, Keystone Medical en Screen Her Save Her, is laasgenoemde se mobiele kliniek vanaf 11 – 15 September by Atterbury se Richmond Corner winkelsentrum geparkeer. Ons het mense van die omliggende area asook die kliënte en personeel van die winkelsentrum en verspreidingssentrums van Richmond Park aangemoedig om van die diens gebruik te maak. Radio Tygerberg en Richmond Corner het ons ondersteun deur lugtyd te skenk en ook die veldtog op hulle sosiale media en promosie-materiaal te bemark.

RPTT het ook hierdie geleentheid binne hulle gemeenskap gedeel en vroue is gehelp om afsprake te maak en vervoer is vir hulle gereël na Richmond Corner en die mobiele eenheid.

Hoeveel vroue het gekom vir skanderings? Het enige van hulle al voorheen ‘n mammogram ondergaan?
Gedurende die vyf dae is 57 vroue in totaal gesien vir bors-skanderings, insluitende privaat-pasiënte en 12 van hulle was uit RPTT. Slegs twee van die vroue van Atlantis het al ooit voorheen ’n mammogram ondergaan.

 Wat was die terugvoering van die mense wat deelgeneem het?
Almal was baie positief. Die span van Screen Her Save Her het direkte terugvoering van die pasiënte gekry, en almal was vol lof vir die gemaklike, eenvoudige, vinnige en professionele diens. Ons het ook net positiewe terugvoering van die RPTT-vroue gekry, en ons Richmond personeel het reeds ’n lys begin maak van diégene wat na hierdie eerste ervaring volgende jaar weer wil terugkeer vir ’n mammogram.

Word daar meer welsynsaksies beplan vir die gemeenskap van RPTT?
Hierdie was een van die eerste projekte wat RPTT by Richmond Corner aangepak het en die groot sukses beteken meer sal volg. Ons het reeds ’n voorlopige bespreking met Screen Her Save Her vir middel-September volgende jaar. RPTT en Richmond Corner sal ook rondom November/ Desember ’n projek aanpak wat ’n skool of organisasie in Atlantis sal bevoordeel – hou dus hierdie spasie dop!