Atterbury Trust se oud-beursstudente weet eerstehands watter verskil dit maak as ’n hand van hulp uitgereik word na diégene in moeilike omstandighede. Dit maak dus ons harte warm as ons hoor hoe ons beurs-alumni self in hulle gemeenskappe ’n verskil maak. Adelei Geldenhuys en Rozelle Palmer het mooi stories van teruggee met ons gedeel.

Adelei, ons het laas met jou gesels verlede Januarie toe jy pas voltyds by ZAH begin verpleeg het. En nou het jou saal ’n prys gewen in ’n uitdaging wat die hospitaal aan alle sale gestel het – vertel ons meer van die uitdaging?
Die hospitaal het verlede maand ’n “Kindness”-veldtog geloods en elke saal moes ’n fondsinsameling begin vir ’n organisasie na aan ons hart. Saal B, ons saal, het besluit op Lucy’s Den/Plek van Geloof, wat begin is deur Lucy Hammond as ’n veilige hawe vir mense wat geen ander heenkome het nie. Lucy se man, Joel, is vroeër vanjaar oorlede en nou is die hele verantwoordelikheid om na 27 grootmense en 13 kinders tussen vyf en 16 om te sien, op haar skouers. Dit het swaar op ons harte gedruk dat ons vir Lucy wou ondersteun.

Hoe het julle die fondsinsameling benader?
Ons het borge gekry om verskillende pryse te skenk, waarvoor ons lootjies verkoop het. Ons het lint-rose verkoop, en kos en klere ingesamel. Die band met Atterbury Trust het ook vrugte afgewerp. Dis voorwaar ’n seëning om deel van die Atterbury Trust-familie te wees, want daar is ’n hele netwerk van weldoeners na wie mens kan uitreik. Ek het danksy Zahn se bemiddeling aangeklop by Terugploeg en GROOTfm 90.5, en die resultate was net wonderlik.

Wat het julle alles ingesamel?
Saam met die R1 500 kontantprys wat ons saal gewen het, het ons altesame R6 000 ingesamel wat ons vir Lucy’s Den kon gee. Een van ons pasiënte het haar hekelgroepie gekry om mussies, handskoene, serpe en sokkies te brei; en een van ons dokters wat gereeld jag, het sakke vol verpakte maalvleis geskenk, nog iemand het 15 sakke mieliemeel geskenk, en daar was so baie kontantdonasies deur dokters en ander hospitaalpersoneel. Terugploeg was fantasies – baie dankie aan Terugploeg se bestuurder, Jacques Pauw, vir sy hulp en betrokkenheid! Hy het letterlik sakke vol kos gebring: bevrore heel hoenders, lemoene, nie-bederfbare produkte soos pakkies sop, twee-minuut noedels, blikkieskos en nog meer. GROOTfm het SPAR geskenkbewyse ter waarde van R4 500 vir Lucy bewerkstellig, en het ook onder hulle luisteraars skenkings bymekaargemaak, sodat hulle drie bokse nie-bederfbare kos en klereskenkings vir Lucy’s Den kon bring. Baie dankie aan GrootFM se skakelbeampte en projekbestuurder, Sonet Stofberg wat dit gekoördineer het!

En toe het julle behoorlik Krismis in Julie by Lucy’s Den gaan vier! Wat presies het op die dag gebeur?
Ons het so baie kos en klere ingesamel, drie motors en twee bakkies is propvol gepak om alles te vervoer. Elkeen van ons wat in Saal B werk, het ook ’n naam gekies uit Lucy’s Den se inwoners en vir daardie persoon ’n spesiale geskenkpakkie opgemaak, en op die Dinsdag van ons besoek uitgedeel. Ons is soms so vinnig om te kla oor onbenullighede, dat mens vergeet hoe bevoorreg ons werklik is. Ek het daar by Lucy’s Den gestaan en besef hoekom die Here vir my die passie vir verpleging gegee het. Om die gesiggies van veral die kindertjies te sien toe ons alles uit die karre uit dra, het my hart gesmelt. Dit maak my hart so warm om te weet ons het ’n gemeenskap wat so baie kan doen as ons saamstaan. En maak nie saak hoe moeilik die omstandighede gaan nie, elke bietjie wat gegee word, kan die wêreld se verskil in iemand anders se lewe maak.

Rozelle, julle het weer by die radiologie-firma Keystone Medical, waar jy ’n finansiële bestuurder is, die “Roei vir borskanker” funksie aangebied as deel van julle “Breast Cancer Warrior Games Series”. Wat is die geskiedenis van hierdie inisiatief – hoe en wanneer het dit ontstaan?
Ons het in 2021 begin saamwerk met Screen Her Save Her, ’n beweging wat gemik is daarop om vroue in te lig oor die uitdagings van borskanker. Borsondersoeke is baie belangrik vir die vroeë opsporing en behandeling van borskanker, maar baie Suid-Afrikaanse vroue kan weens ’n gebrek aan geld nie ondersoeke bekostig nie. Ons het “Roei vir borskanker” verlede jaar vir die eerste keer gedoen met hierdie oogmerk en ook om geld in te samel om borsondersoeke vir behoeftige pasiënte te kan borg.  Dis dan ook waarvoor die geld wat ons ingesamel het, aangewend is, asook om sorgpakkies te maak vir vroue wat borskanker-behandeling ondergaan. Elke pakkie bevat ’n skouersak met ’n mus, notaboekie, oorringe en lipsalf, wolsokkies en warm, foonskerm-vriendelike handskoene, om bietjie vertroeteling te bring tydens die proses van chemoterapie.

Wat het die roei-kompetisie behels?
Spanne van vier, twee mans en twee vroue elk, is uitgenooi om deel te neem en het vir 90 minute geroei, teen R700 inskrywingsgeld per span. Die wenspan, Team Horsepower van CrossFit Bounty, het 26 707km geroei en het prysgeld ter waarde van R6 000 gewen. Daar was meer as 50 spanne wat deelgeneem het, wat genoeg sorgpakkies vir ’n jaar kan voorsien.

Hoe bring julle die borsondersoeke prakties na julle pasiënte?
By Keystone het ons mobiele skanderings-tegnologie – ons noem haar Dolly – waarmee ons die land deurkruis en elke week in behoeftige gemeenskappe sowat 85 skanderings doen. Ongeveer 2 – 3% van pasiënte word dan verder verwys vir biopsies.

Hoeveel vroue kon julle sover hierdie jaar en so lank die projek al loop, help met ’n ondersoek?
Die mobiele-eenheid doen meer as 2 000 mammogramme per jaar. Ons glo die dryf vir vroeë opsporing kan ’n meer suksesvolle behandelingspad voorsien asook ‘n beter kwaliteit van lewe.