Triomf Kliniek is gelukkig om ’n flink nuwe paar hande in die span te hê.  Negentienjarige Atterbury Trust ondernemingsbestuurstudent, Deané Sealie, vertel ons hoe dit alles gebeur het en waarheen sy op pad is.

Hoe het het die Triomf-geleentheid gebeur?
My pad het gekruis met Atterbury toe ek aansoek gedoen het vir ’n studentebeurslening. Ek het die span ontmoet met my beursonderhoud, en twee maande later het Ananja Koen my gebel en vir my die pos aangebied as die nuwe administratiewe beampte by Triomf!

Dit nou terwyl jy ook met die hulp van Atterbury Trust begin studeer het by Akademia, hoor ons. Hoekom juis Ondernemingsbestuur? Wat wou jy “eendag” geword het toe jy klein was?
Die korporatiewe sakewêreld was maar nog altyd my eerste liefde en daarom Ondernemingbestuur, maar my plan is nie om daar te stop nie. Ek wil ook ’n graad verwerf in menslike-hulpbron bestuur, en my kwalifiseer in nywerheidsverhoudings binne wetgewing. My droom as kind was om eendag die beste en mees suksesvolle sakevrou te wees – my pa was my rolmodel!

Woon jy nog in jou ouerhuis – en saam met wie?
Ja ek woon nog tuis saam met my ma en twee jonger boeties, in die Montana-omgewing. My pa is verlede November oorlede. My 14-jarige, oudste boetie is gestrem en het ekstra sorg nodig omdat hy gereeld epileptiese aanvalle kry.

Hoe lank is jy nou al by Triomf betrokke en hoe besig is dit vanjaar by die kliniek?
Ek is bevoorreg om al drie maande lank by Triomf te werk en dis duidelik dat die behoefte groot is. In vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar, het ons net in April reeds 100 meer pasiënte gesien. As ons die jaar tot nou beskou, het ons  Januarie tot April 314 pasiënte gesien teenoor 186 Januarie tot April verlede jaar.

Jy skakel met die organisasies wat pasiënte na Triomf toe verwys. Wat behels die werk alles en hoe besig hou dit jou?
Ek het agtergekom dat gereelde kontak met die organisasies bae belangrik is. Ons het ’n Whatsapp groep met verteenwoordigers van al die goedgekeurde organisasies en daar moet gereeld gekommunikeer word oor watter dokters op watter dae by Triomf kom werk. Dis ’n plesier om met al die organisasies te werk; almal is so behulpsaam en die stelsel werk baie goed. Pasiënte kan nie ’n afspraak by Triomf kry sonder ’n verwysing van een van hierdie organisasies nie, want ons moet seker maak dat pasiënte wat werklik behoeftig is en nie oor alternatiewe soos ’n mediese fonds beskik nie, by Triomf hulp kry.

Hoe lyk jou tipiese dag by Triomf?
As ons ’n dag het wanneer ’n dokter inkom, maak ek seker alles is reg om die proses glad te laat verloop. Ek maak seker die kliniek is netjies en die spreekkamer is reg vir die dokter om in te spring, en ek sorg vir koekies en koffie. Ek verwelkom pasiënte en kry hulle lêers reg vir hulle afspraak, en agterna sal ek enige medikasie wat die dokter voorskryf by Zuid Afrikaans Hospitaal bestel en die dokter se notas op ons aanlyn-stelsel invoer. My werk behels ook dat ek die statistieke op datum hou en natuurlik om die foon te beman, e-posse te beantwoord en nuwe afsprake te maak. Ek probeer doodseker maak dat ons vrywilligerdokters volbespreek is op dae wat hulle by Triomf aan diens is.

Kan jy ’n staaltjie deel oor een bepaalde dag wat jou vreeslik baie beroepsbevrediging gegee het? Wat is die lekkerste deel van die werk vir jou?
Daar was een dag toe ’n jong seuntjie wat daardie dag ’n pasiënt was, by my gehuil het vir kos en my vertel het hoe hulle niks kos in hulle huis het nie. My hart wou breek.  Ek kon vir hom iets gee om te eet en kon ’n geldjie gee vir hom om huistoe te neem vir kos. Vir my is die lekkerste deel om mense wat regtig in nood is, te kan help en die glimlagte te sien en die dankbaarheid te beleef. Ons hou nou ook van Terugploeg se kospakke byderhand in die kliniek om aan pasiënte wat die kos nodig het, te kan uitdeel.

Wat is jou droom vir Triomf?
Dis my droom dat ons groter as enige staatskliniek in die land sal word. Ook dat dinge so sal groei dat ons dokters ook kan begin om operasies uit te voer, en nóg meer mense kan behandel, want daar is so baie nood daar buite.

En waar sien jy jouself oor 10 jaar?
Ek hoop ek is dan getroud en het my eie besigheid wat werwing doen en nywerheidsake in die hof behartig. En ek sal altyd, waar ek ookal is, wil bydra om minder bevoorregte mense by te staan.