Dit was ’n uitstekende jaar by Triomfkliniek, waar daar stappie vir stappie gevorder word om vir die behoeftige mense van Pretoria Wes ’n wyer verskeidenheid mediese en sorg-dienste van hoogstaande gehalte aan te bied. Ons neem bestek op saam met Karin Dercksen.

’n Groot fokus die afgelope jaar was die daarstelling van tandheelkundige dienste. Hoe het dit gegaan met die jaarlikse  konsert ten bate van die kliniek? Hoeveel kon julle insamel om die tandheelkundedienste ‘n hupstoot te gee?
Die konsert, waar Robbie Wessels, Steve Hofmeyr en Sorina gratis opgetree het, was ’n wonderlike sukses. Ons het net-net onder R60 000 ingesamel, en eindelik genoeg geld gehad om die broodnodige X-straal masjien te kon aankoop, sodat ons vrywilliger-tandartse nou kan begin om pasiënte te sien.  Ons is so dankbaar vir Verryn Mathlare prokureurs en die kunstenaars, wie se vrygewigheid dit moontlik gemaak het dat die volle opbrengs van die kaartjieverkope na die kliniek toe kon gaan!

Beteken dit dat die Triomf Tandheelkunde-afdeling nou volledig in aksie is?
Ons is daar! Ons het eers ’n proeflopie gedoen en drie pasiënte is gesien vir hulle eerste konsultasies. Ons het nog nie al die toerusting wat nodig is om tande te stop nie, ons kort nog die boor en ’n paar ander  klein instrumente, maar die dokter kan darem al tande trek. Dr Gys de Necker en sy span van Melville in Johannesburg was weer einde November daar en daar is nou elke tweede Vrydagmiddag ’n tandarts werksaam om pasiënte te kan sien. Dr De Necker kom self een keer per maand en een van sy vennote hanteer die ander Vrydagmiddag.

Wat is nog nodig om Triomf Tandheelkunde heeltemal operasioneel te maak? Is daar ’n plan om dit te bewerkstellig?
Ons kort nog ’n boor en ’n borg vir die verbruiksmateriale… dit sal sowat R40 000 kos vir die finale toerusting; en dan kon ons volstoom aan die gang kom. Ons hoop om nog voor die einde van die jaar ’n borg hiervoor te finaliseer.

En benewens die tandheelkunde bedrywighede; watter ander mylpale het die kliniek hierdie jaar bereik?
Daar is nou reeds ‘n totaal van 1350 pasiënte gehelp by die kliniek. Ons het nou pas in November ook afgeskop met beradingsdienste, wat deur pastorale berader Lorna-Lee Deysel aangebied word – op haar eerste oggend het sy reeds drie afsprake gehad. Behalwe ons gereelde dermatologie-, oog- en gehoorklinieke het ons verder ook begin om klinieke aan te bied in psigiatrie, oor- neus- en keelbehandelings, ouerleiding en ortopedie.

Is daar nog enige spesiale klinieke voor die einde van die jaar?
Die jaar se kliniekaktiwiteite het op 29 en 30 November afgesluit met ’n groot dermatologiekliniek, so nou is ons klaar vir die jaar. Ons het nog die tweeweeklikse besoeke van die algemene praktisyne, en die tandarts tweeweekliks tot ons op 14 Desember vir die vakansie sluit.  Ons maak weer op 8 Januarie oop.

As jy moet opsom, op watter noot eindig Triomfkliniek 2018?
Oor die algemeen is ons baie tevrede met wat in 2018 bereik is, en ons is amper op die punt om ook basiese medisyne te kan verskaf. Ons dokters is almal goed op dreef en ons waardeer hulle toewyding, en ook dié van ons klinieksuster Adelene Boshoff geweldig baie. Dit is ’n wonderlike gevoel om te weet dat die kliniek ’n werklike verskil maak in die lewens van die mense van Pretoria-Wes. Ons gaan in Januarie oorbeweeg na ’n elektroniese besprekingstelsel, wat die lewens vir almal gaan vergemaklik.