Die COVID-19 pandemie het baie swaarkry voor Suid-Afrikaners se deure gelê, maar dit het ook wonderlike inisiatiewe van naasteliefde en omgee tot gevolg gehad. Atterbury Trust is baie dankbaar dat ons kon betrokke raak by ’n projek wat van die mees weerlose gemeenskappe in Pretoria van broodnodige maaltye voorsien, saam met die stigter wat ook ’n goeie vriend van Atterbury is. Ons het by entrepreneur en besigheidsman Lood Bester gaan kers opsteek oor Terugploeg, en die “Hulp wat Werk” waarom die konsep gebou is.

Wat is Terugploeg presies, en waar het die idee ontstaan? 

Die idee is gebore in gesprekke met my vriend Herman Marx, toe ons gedurende die inperking bewus geraak het van die enorme kos nood in sekere Afrikaanssprekende gemeenskappe en dat daar vir hulle geen hulp beskikbaar gestel is nie. Ons is albei sakemanne, en wou graag help. Kos is aangekoop, wat ons dan self in van hierdie gemeenskappe rondom ons versprei het.

Ons het gaan aanklop by ons boere-vriende en ons idees met hulle gedeel, almal het dadelik ingestem om vir ons kos te skenk. So stuur ons byvoorbeeld een van Herman se trokke na ’n plaas toe, wat ons skenkers dan vollaai met tussen 3 en 8 ton groente of vrugte, en dit word dan by Herman se onderneming, Vibro Bricks, in Pretoria afgelaai. Daar word die kos verdeel in kleiner porsies, die bakkies gelaai, en verder versprei onder ouetehuise, kinderhuise en skole wat ons geidentifiseer het, waar daar spesifiek kosnood is.

’n Trok vol groente word afgelaai by Vibro Bricks and Paving om in kleiner porsies verdeel te word.

En van hierdie spontane begin tydens Vlak 5 van die inperking het julle werksaamhede baie uitgebrei. Vertel ons asseblief meer.

Ja, dinge het gestoomroller soos ons meer mense en instansies betrokke gekry het, en die droom om ’n wesenlike verskil te maak in mense se lewens is nou besig om met Terugploeg gestalte aan te neem.

Om dit op te som, Terugploeg is ’n netwerk van weldoeners wie se skenkings verantwoordelik bestuur word om eerstens kos te verskaf aan weerlose Afrikaanse gemeenskappe en honger te bestry. Maar ons het ’n groter droom – dat dit ’n volhoubare projek raak wat ook werk verskaf aan mense uit hierdie gemeenskappe, sodat ons hulle weer kan hoop gee, en moontlik ’n trappie verder – na ’n beter toekoms. Dit help nie om mense net kos te gee nie; jy wil hoop, respek, vaardighede en geleenthede gee sodat dit kan lei na ’n beter lewe.

Een van die bakkies vol groente oppad na ’n ouetehuis in Pretoria middestad

Hoe het Atterbury betrokke geraak en wie is die ander maatskappye wat hul tyd of hulpbronne skenk om die projek aan die gang te hou?

’n Maand of so nadat ons hiermee begin het, het ’n gesprek met ons vriend Louis van der Watt van Atterbury gelei tot die formalisering van Terugploeg as deel van die Atterbury Trust. Die voordeel van die verbintenis is dat die Trust meer as twee dekades se ervaring van liefdadigheids-projekadministrasie het, asook die infrastruktuur om sulke teruggee-projekte effektief te bestuur, en die reputasie vir betroubaarheid en deursigtigheid.

Ons het intussen meer en meer weldoeners bygekry wat gereeld bydra. Daar is mense soos die prokureur van Pretoria wat elke maand R50 000 skenk vir kos; boere van regoor die land, tot groot versekeringsmaatskappye en banke; maar ons bly steeds dankbaar vir die individue wat net R100 ekstra beskikbaar het, maar dit graag skenk.

Ons het gou besef dat ons ’n goed toegerusde en maklik toeganklike perseel nodig het sodat ons groot hoeveelhede kos op een slag kan ontvang, kan verwerk indien nodig, en kan berg tot tyd en wyl ons dit wil uitdeel. Ons het agtergekom dat as dit kom by voedingsprogramme is die kontinuiteit van ’n bord kos elke tweede dag baie belangriker as ’n hele wavrag kos wat op een slag afgelaai word by iemand wat in ’n Wendyhuisie woon – sonder ’n koelkas. As ’n boer ’n paar beeste skenk, moet ons dit in maalvleis kan verwerk, en kan stoor sodat ons dit selektief kan uitdeel waar dit nodig is.

Ons is oneindig dankbaar teenoor Faan en Dirk van der Walt, die stigters van WeBuyCars, wat daardie groot struikelblok uit die pad gerol het deur vir ons agt hektaar grond in die ooste van Pretoria – teen die N4, digby die Rayton afrit – beskikbaar te stel. Ons kan dit nou gratis gebruik om ’n hoofkantoor vir Terugploeg te vestig. Ons is baie opgewonde om aan te kondig dat ons vroeg Januarie 2021 gaan begin bou, en danksy ons band met Atterbury het ons ontwikkelings- en konstruksiehulp. Ons is ook baie dankbaar vir AJ Smit van Palin Smit argitekte wat vir ons optree as argitek en vir Matla Bourekenaars, wat aangebied het om die bourekenaarswerk gratis te doen.

Vars groente en vrugte word uitgedeel by Laerskool Westerlig.

Wat beoog julle alles op die nuwe Terugploeg-perseel?

Benewens die kosverwerkings-fasiliteit en koelstoor, gaan ons ook groente- en vrugtetuine aanlê, ons wil ’n klerebank begin, ons beplan om braaihout te sny en verpak vir verkoop. Al hierdie funksies het hande nodig; om die tuine te versorg, die kos te verwerk, die klere wat ons inkry te sorteer, was en stryk, die vragte hout te verpak in braaipakke… hiermee wil ons werk skep vir die mense uit die gemeenskappe wat ons bedien.

Ek het soos Terugploeg ontwikkel het, eerstehands gesien hoeveel respek daar binne ’n arm gemeenskap is vir mense wat gelukkig genoeg is om ’n werk te hê, al is dit hoe beskeie. Ons hoop is om meer mense hierdie geleentheid te gee, om saam te werk aan ’n projek wat hulle eie gemeenskap bevoordeel, om hul eie menswaardigheid en respek te verdien.

Ons beoog ook om ’n lesingsaal in die gebou in te rig, waarin ons kursusse en praatjies wil aanbied, om beide skoolkinders en volwassenes te inspireer, en praktiese raad en opleiding te gee, sodat hulle ook hul omstandighede kan verbeter.

Bokse vol A-graad groente en vrugte oppad om gelaai te word.

En wanneer sal dit alles afskop?

Ons wil teen Mei volgende jaar die Terugploeg-fasiliteit amptelik oopmaak, maar intussen hou ons aan met die informele versamel en uitdeel van kos.

Ons is baie opgewonde oor die ooreenkoms wat ons pas met GROOTfm en GROOTOntbyt gesluit het – as ons amptelike mediavennoot sal hulle help dat enige veldtog wat ons loods lugtyd en dekking kry om ons storie wyer te vertel.

’n Skets van die beoogde Terugploeg gebou.

Hoe lyk die toekoms vir Terugploeg – wat het jy in gedagte?

Kyk, ons het in Pretoria begin want dit is waar ons is, en die gemeenskap wat ons tans help is meestal Afrikaans, omdat dit die demografie hier is, maar daar is geen rede dat Terugploeg nie kan uitgerol word na ander gebiede en ander demografieë nie. Soos dinge ontwikkel en ons netwerke en ervaring groei, hoop ons om inderdaad ook takke elders in die land te vestig.

Een van baie gelukkige kinders wat weet hulle het vars kos vir die week.

As mense wil betrokke raak of ’n bydrae wil maak, hoe doen hulle dit?

Ek wil net weer noem dat ons ALLE bydraes verwelkom; of dit nou ’n sak ou klere of skoene of speelgoed is; ’n kontant-tjek; vyf skape; ’n wavrag pampoene; of ’n vleistrokkie en ’n motor, soos WeBuyCars onlangs geskenk het. Ons ontvang alle skenkings en vind die beste manier om dit aan te wend, en jy kan seker wees jou skenking kom by die regte plek uit – ons kan rekenskap gee aan elkeen wat iets aan ons toevertrou.

Aangesien ons binnekort begin met die konstruksie van die Terugploeg-gebou sal skenkings in die vorm van konstruksiemateriaal ook verwelkom word – bakstene en sement, roldeure, matte, lugversorgers, kombuistoerusting, vleisverwerkingsmasjinerie … Die lys is lank!
Later sal ons mense verwelkom wat hul dienste as opleiers, beraders en meer wil aanbied. Ook mense wat ekstra wiskunde-, wetenskap- of rekeningkundelesse aan skoolkinders kan aanbied.

Ons kan ook vir alle skenkings ’n 18A-belastingsertifikaat uitreik deur Atterbury Trust, om dit belasting-aftrekbaar te maak.

As jy kan help, of meer wil weet oor Terugploeg, kontak vir Lood Bester by 082 925 1118 of Jani Doms by 076 313 7212 of epos hulle by [email protected] of [email protected]

Terugploeg-statistieke tot dusver:

Organisasies gehelp
25
Kos geskenk 51 ton
Etes bedien 204 000

 

Ons wonderlike skenkers:

Boela Bruwer Boerdery
CPJ Erasmus Boerdery
Eskort
Meletse Breeders
Fontis Ontwikkelaars
GoGo Groep
GROOTfm 90.5
Kairos
Mahela Boerdery
Miami Canners
Morgan Group
Rossgro boerdery
Silverton Sign-A-Rama
Tiaan Kruger Boerdery
Van Huyssteens Prokureurs
Velile Tinto & Associates
Vibro Bricks and Paving
WeBuyCars
ZZ2