Op die Terugploegperseel is ’n ware wonder aan die ontvou, waar Jeanne en Diets van der Sande met befondsing van die Aquafer Stigting besig is om ’n merkwaardige groentetuin aan te lê met die doel om kos te kweek vir Terugploeg se liefdadigheidskenkings. Jeanne vertel meer.

Die groentetuin by Terugploeg is vinnig aan die groei – wanneer is die eerste plantjies geplant en hoe het julle besluit wat om te plant? 

Die eerste 6 000 organiese groente saailinge is by Plantforum aangekoop aan die einde van September vanjaar en dit het so drie dae gevat om te plant. Die volgende 4 000 plantjies is einde Oktober geplant.  In oorleg met Dirk van der Walt se Aquafer Stigting, het ons die besluit geneem om self ook kos aan te plant by Terugploeg om te verseker dat ons nie bloot van donasies van landbouprodukte afhanklik is om uit te deel aan die talle liefdadigheidsorganisasies wat deurlopend staatmaak op hulp van Terugploeg nie.

Daar is begin met saailinge van kool, blomkool, brokkoli, rooikool, spinasie, wortels, beet, seldery, rooipepers en uie. Ons het ook sommer ’n paar pakkies sade  gekoop en soetmielies en groenboontjies geplant. Verder eksperimenteer ons met die plant van Heerenbone, Bambarabone en kekerertjies om gesonde plant-proteïen ook te kan uitdeel.

En wat is die einddoel – waarheen werk julle met die tuin? 

Die idee van die eksperiment is om biologies-organies groente te kweek by Terugploeg, om basies hervestigende boerdery toe te pas. Die fokus is om die grond te herstel met organiese en erdwurmkompos wat ons ook nou self bou by Terugploeg.

Hoe ver is daar reeds gevorder met die vestiging van die tuin? 

Die totale groentetuin beslaan tans 0.5ha onder skadunet (100m lank en 50m breed). As ons in die komende week nog vier rye Roma-tamaties plant, dan is die helfte van die skadunet-groentetuin vol beddings met plante in. Dis so min of meer 15 000 plantjies.

Die aanplantings vir die tweede helfte van die skadunet sal dan eers in Januarie volgende jaar gebeur.

Hoe het Aquafer betrokke geraak, en presies wat dra hulle by? 

Aquafer doen die totale befondsing van die infrastruktuur om die groenteprojek by Terugploeg moontlik te maak. Ons kan nie ons dankbaarheid teenoor Dirk van der Walt, Anton Smit en Gerhard Erasmus genoeg uitdruk nie! Eers is daar ’n boorgat geboor, ’n water-reservoir gebou, waterpype is aangelê, die skadunet is opgesit, besproeiing is ingesit, kompos word gebou en nou is die saailinge ook geplant.

Hoeveel werk is dit om die tuin in stand te hou, en hoe behartig julle dit alles? Wie help almal?

Die grootste werk is om die groentetuin te vestig, dit verg die meeste hande-arbeid. Die instandhouding is makliker – mens moet net elke drie maande as die groente geoes is eers weer kompos in die beddings inry en dan weer plantjies plant.

Diets werk as konsultant vir Aquafer, so hy hanteer die bestuur en meeste van die beplanning asook die logistiek rondom die kompos-bouery. Ons het vrywilligers van ’n aantal van die organisasies wat van Terugploeg se kosskenkings ontvang, wat hier kom hand bysit. So is daar is so twee vrywillige werkers van ARC rehabilitasie sentrum in Rayton wat elke dag kom beddings bou, help met plantery en met bossies uittrek. Saligna Halfway House stuur so een maal per week ’n paar mense om te kom help bossies uittrek. Dis vir hulle opbouend en help met die rekreasie-deel van hulle program.

Gerhard Pieters het ook eers vrywillig van ARC af by ons gewerk en nadat hy sy rehabilitasieprogram voltooi het, is hy permanent aangestel by Aquafer. Hy bly in die woonstel by Terugploeg en hanteer die besproeiings en  kompos-tee toedienings program van sy groente.

Dis amper soos om op ’n kibboetz te wees by Terugploeg – almal werk saam, eet middagete saam en doen enige werk wat van hulle gevra word. Almal geniet dit om in die groentetuin te kom werk en so bietjie te boer en die vrugte (of groente!) van hulle handearbeid te sien!.

Wat is die lekkerste aspek hierdie projek? 

Alles wat ons hier doen is eintlik nuut. Ons het deeglike  navorsing gedoen om die biologies-organiese kompos te kon bou om dan die groente te kan kweek sonder enige chemikalieë. Dis ongelooflik om te sien hoe mooi en gesond die plante groei. Dit is verblydend om te sien dat organies boer regtig werk.

Kan mense help, of betrokke raak?  Indien wel, gee details hoe. 

Op dié stadium kry ons skenkings van perde- en hoendermis vir die komposhope. Dit help natuurlik baie en nou moet die groente net groei. Enige donasies, finansieel of plantjies, om die projek verder uit te brei is baie welkom. Kontak [email protected].