Terugploeg hang 100% af van die welwillendheid van so baie mense, en die individue en maatskappye wat met sulke groot harte kos skenk wat ons kan uitdeel onder organisasies wat omsien na behoeftiges. Een van hierdie Terugploeg-engele is die beleggingsmaatskappy Everest Wealth, wat met ’n slim “hoenderplan” vorendag gekom het. Ons hoor meer by Heinrich van der Westhuizen van Everest Wealth.

Waar het die hoenderinisiatief vandaan gekom?
Ons is genader deur een van ons kliënte, Alwyn Kleinhans van Kleinhans Freerange, omdat hy in die huidige markomstandighede probleme ondervind het om ’n volhoubare mark te behou vir sy hoenders. Die gehalte is uitstekend; sy vryloop-hoenders is groot, natuurlik en grootgemaak sonder enige hormone. Ons het geweet van Terugploeg en het ’n geleentheid gesien om ’n boer by te staan en terselfdertyd vleis te skenk aan mense wat dit nie andersins kan bekostig nie. Vandaar is die Skenk ’n Hoenderprojek gebore.

Hoe werk dit presies?
Everest Wealth het afgeskop met ’n bestelling van 15 000 hoenders by Kleinhans Freerange. Ons het ’n aantal nie-vir-wins gemeenskapsorganisasies wat voedingsprogramme binne behoeftige gemeenskappe geïdentifiseer, en omdat baie van hierdie organisasies reeds in die Atterbury Trust ondersteuningsirkel is, het ons met Terugploeg begin saamwerk om die vleis effektief by die mense te kry wat dit nodig het. Terugploeg is uniek deurdat dit oor fasiliteite beskik wat geslagte hoenders in groot maat by die slagpale kan gaan afhaal, vries en te stoor totdat die ontvanger-organisasies dit kan kom haal. Sedert Julie is daar omtrent weekliks ’n vrag hoenders so rondgeskuif, gemiddeld sowat 5 000 per maand. Ons oorspronklike bestelling van 15 000 braaihoenders is reeds in duisende proteïen-ryke maaltye verander.

Wie was almal begunstigdes van hierdie wonderlike projek, en was die reaksie wat julle gekry het baie positief?
Dis geweldig baie hoenders, so dit het baie wyd gehelp, danksy die reikwydte van die onderskeie organisasies waarmee Terugploeg saamwerk. Hulle sluit in PEN, Eleos, Jakaranda en Louis Botha Kinderhuise, President Kruger Kinderhuis, Hanna Charity, SA Cares for Life, Kairos, Kungwini Welfare Organisation, Diakonale Pleegsorg en Helpende Hand. Hierdie organisasies ondersteun kinderhuise, ouetehuise, skole, en meer. En ja, almal was geweldig dankbaar, omdat die hoenders hulle in staat gestel het om binne hulle sorg-sirkels meer te kan uitrig. As een voorbeeld het Charlene Grobler van Jakaranda kinderhuise genoem dat hierdie kos-meevaller beteken het dat begroting wat op maaltye spandeer sou word, nou kon aangewend word om ander nood te verlig. Die hulp was dus wyer as die kos, wat klaar baie waardevol was.

Ons verstaan die oogmerk is om wyer te gaan as die eenmalige 15 000 hoenders?
Ja, ons wil ’n volhoubare siklus skep en daarom wil ons die wyer publiek en ander besighede betrek om ’n hoender te koop en direk weer te skenk aan die voedingsprogram. Ons plan is om die publiek te betrek om hoenders vir die program te borg teen R50 een. Die boer sal dan daaruit vergoed word vir sy hoenders, en sal op sy beurt 15% van sy hoenderaanwas aan die Skenk ’n Hoender-projek skenk. En in die proses werk ons almal saam om proteïene aan die gemeenskap te verskaf, en sodoende honger te bekamp en beter voeding beskikbaar te maak aan diegene wat dit nie op ‘n gereelde basis kan bekostig nie.

Watter boodskap wil julle met hierdie projek uitstuur?
Voedselsekerheid is ’n voortdurende uitdaging, nie net in ons eie land nie, maar wêreldwyd. Honger het ’n enorme impak op mense se gemoedstoestand en gedrag, dit benadeel ook die ontwikkeling van groeiende kinders. Ons is daarom dankbaar vir almal wat deelneem om hierdie uitdaging om dit stuk-stuk te oorwin. Ons glo daar moet meer sulke hoendervleis-oomblikke wees in ons gemeenskap en ons vra ander instansies om ook betrokke te raak en terug te ploeg. Om te gee en om te help is altyd lekker en op sigself ’n groot seën.

As jy ’n hoender wil aankoop of skenk aan ’n organisasie besoek http://everestwealth.co.za/skenk-n-hoender

Ondersteun gerus vir an Kleinhans Freerange verder deur hul hoender produkte direk aan te koop, https://kleinhansfreerange.co.za/) – groot, topgehalte vryloophoender wat so natuurlik moontlik grootgemaak is, sonder enige hormone.  Hulle lewer tans weekliks af in Pretoria en Johannesburg.