Sonder dat hulle beplan het om deel te wees van Cool Capital 2014 het die Graad Nege klas van die Nuwe Hoop Skool vir leerlinge met spesiale onderhoudsbehoeftes iets baie spesiaal geskep, danksy die kunsstudente van Unisa. Ons gesels met Unisa se Visuele Kuns lektor Gwen Miller en Nuwe Hoop se kunsonderwyseres Hilbé Klein oor hul samewerking.
Hoe het die twee kunsafdelings saam begin werk aan die projek?
HK: Gwen se kinders is by ons op skool, en sy het ons kunsklasse al dikwels na Unisa genooi waar sy klasgee. Dit was haar blink idee om ons in te skryf vir Atterbury se Cool Capital 2014 Hoërskool Kunsprojek.
Hoekom spesifiek animasie?
GM: Animasiekultuur ontwikkel kreatiwiteit en beplanningstrategieë en gee mense selfvertroue om met nuwe tegnologieë te werk. Een van die doelwitte van ons projek was vir al die deelnemers om pret te hê terwyl hulle probleme oplos, sodat hulle selfuitdrukking beoefen en terselfdertyd leer. Die basis van die projek was die belangrikheid van die proses bo die eindresultaat, veral in kuns. En hoewel ons weet dat alle jongmense kreatiewe ontwikkeling nodig het, het gestremde kinders minder geleentheid het om met kuns om te gaan omdat hulle baie beperkte vakkeuses het, en daarom is hulle behoefte soveel groter. Ons sien dit as ‘n loodsprojek wat ons in 2015 wil voortsit.
Vertel ons meer van die animasieprojek
GM: ‘n Groep van ons studente het die koel kids van Graad Nege touwys gemaak oor stop-raam-animasietegnieke, en die kinders het in groepe of individueel kort animasiefilmpies gemaak. Die deelnemers het hulle eie rekwisiete, karakters en storielyne gekies en die opdrag was om te eksperimenteer sonder om bang te wees dat hulle sal misluk.
HK: Die uitdaging met gestremde kinders is om hulle die selfvertroue te gee om goed te probeer, selfs al werk dit nie altyd nie. Hulle voel soms negatief oor hul vermoëns so dan is hulle bang vir eksperimenteer. Wat so wonderlik was van hierdie projek is dat dit die kinders opgewonde gemaak het oor kuns en kultuur en dit vir baie van hulle nuwe toekomsmoontlikhede gewys het in ‘n splinternuwe veld waar jou rolstoel, of jou kort aandagspan, of die feit dat jy nie jou hande so maklik kan gebruik nie, nie ‘n onoorkomelike hindernis is nie. Hoe verder ons met die projek gegaan het, hoe meer kinders het deelneem.
Hoeveel kinders het deelgeneem en het dit deel van hul kurrikulum gevorm?
HK: Die hele Graad Negeklas van 22 kinders was betrokke en ons het dit laat punte tel vir Kuns en Kultuur. Die mees gestremde leerlinge was eers baie negatief, maar het dit op die ou end die meeste geniet. Kinders kon kies om of in groepe of alleen te werk. Op die ou end was daar omtrent 30 animasies, party van hulle het een klaargemaak en dan nog een aangepak omdat hulle dit so geniet het. Die studente het ingekom om te kom help met die verskillende fases, soos hoe om die animasie te bou, en dan hoe om klank by te sit. Die kinders het almal sertifikate gekry vir hulle deelname, en dit het geweldig baie gedoen vir almal se selfvertroue. Dit was ‘n manier vir die kinders om hul talent ten toon te stel sonder om hulself hoef ten toon te stel, wat ‘n sensitiewe saak vir baie van hulle is.
GM: Die projek het ook baie beteken vir my studente; dit het hulle blootgestel aan ‘n bepaalde sosiale konteks; en hulle kon deel hê aan die openbare platform wat die projek by die Unisa Kunsgalery gehad het – dis in Oktober daar uitgestal – en daar was geleenthede vir hulle om demonstrasies te doen. Deur te werk aan ‘n gemeenskapsprojek het daar ook vir hulle ‘n lig aangegaan oor toekomstige bydraes wat hulle in die wêreld kan maak, hoe om kreatiewe oplossings vir uitdagings te kan ontwikkel.
Ons verstaan dat dit meer oor die proses gegaan het as die eindresultaat, maar watter reaksie het julle gekry van mense wat die animasies gesien het?
GM: Ons het wel ‘n eksterne beoordelaar gehad, die animasiekunstenaar en akademikus Colleen Alborough, en sy het die volgende te sê gehad oor die projek: “Die animasies is regtig goed. Die diversiteit van idees en materiale wat gebruik is wonderlik, en wys die individualiteit van die leerlinge. In die algemeen vind ek hulle humoristies en vol pret en lewensvreugde. Baie goed vir eerste animasies. Ek stel regtig voor dat die leerlinge aanhou en nog animasies skiet, want dis baie oulik.”
Hoe is Atterbury se R10 000 skenking aangewend?
HK: Die geld is spesifiek geoormerk vir tegnologie – projektors, internet in die klas. Dit gee ons die gereedskap om ‘n behoorlike kunslesse aan te bied, en om kinders se potensiaal raak te sien. Dis vir ons wonderlik dat ons oor Atterbury se pad gekom het, en ons sien uit daarna om ‘n pad saam te stap.
Wat het julle as ‘n kunsklas van die biennale gedink?
HK: Die Biennale het in werklikheid na ons toe gekom, wat wonderlik was. Dis vir ons moeilik om die kinders uit die skool te neem vir uitstappies omdat daar so baie rolstoele is, so dit was werklik ‘n seëning.
Vind meer uit oor Nuwe Hoop Skool by www.nuwehoopskool.co.za