Die verhale van ons beursstudente inspireer ons gereeld om dankbaar te wees vir die mag wat geleenthede het om iemand se toekoms te verander. Chantelle van Molendorff is ’n derdejaar regstudent met groot hart, wat die moeilike ervarings in haar eie lewe getransformeer het tot ’n toekoms van omgee en teruggee.
Hoe lyk jou paadjie as Atterbury Trust beursstudent… en wie is Chantelle as sy by die huis is?
Ek is ’n plattelandse meisie wat van ’n klein dorpie (Worcester, in die Breederiviervallei) na ’n kleiner een in die Swartland (Malmesbury) verhuis het, en my hart was nog nooit so vol nie! Ek is nou 23, en het in 2017 begin studeer met ’n Atterbury Trustbeurs. Ek studeer regte en hoop om ook nagraads ‘n pad saam met Atterbury Trust te stap. Ek groei steeds elke dag; en ek glo mens kan nooit genoeg leer, ontdek of selfs afleer nie. Op my moeilike dae wanneer ek nie seker is watter kant toe om te hardloop nie, klou ek voluit aan God se broekspype vas!
Jy het baie groot uitdagings oorkom, insluitende ’n aanval in die universiteitskoshuis op Stellenbosch. Wat presies het gebeur en hoe het dié traumatiese ervaring jou lewenspad verander?
Die aanval het gebeur in 2018, in my tweede jaar, kort voor eksamentyd. Ek was daardie aand die enigste meisie in my seksie, die res was almal uit vir die aand. Dit was ook beurtkrag daardie aand so alles was donker. Ek het met my foonliggie aan badkamer toe gestap en in die toilet het ’n man my vasgekeer, vasgedruk en geskop. Ek het nooit sy gesig gesien nie – hy het ’n masker aangehad en die kappie van sy baadjie was op – maar ek het losgeruk en weggekom. Dit was ’n gemengde koshuis so die blote feit dat daar ’n man was, was nie vreemd nie, maar daar is geen verdere stappe geneem nie, en niemand is ooit gevang of vervolg nie. Daar is net vir my gesê ek moes bly wees ek het so “lig” daarvan afgekom.
Ek het uit die koshuis gevlug en alles net so laat staan. My meubels is steeds daar in die stoor, maar ek kon nie teruggaan nie. Ek was kwaad en het gevoel die reg het my gefaal… hoe ironies, aangesien ek die regsveld betree het juis omdat ek geregtigheid wou bring aan vroue en kinders wat geweld ervaar het. Vir twee jaar na die aanval het alles stilgestaan. Ek so bang vir alles… veral mense. Ek kon niemand vertrou nie en het die mensdom as boos beskou, wat vreeslik was vir iemand soos ek wat so lief is vir mense. Vir byna twee jaar het ek myself onttrek van alles en almal. Daar was baie trane, baie gebede en baie vrae, voor ek my studies kon hervat, maar deur Unisa, tuis, waar ek veiliger gevoel het.
Dink jy jou eie ervarings het jou gehelp om te kan uitreik na ander wat swaarkry?
Definitief. Ek het gekom uit ’n gebroke huishouding en my kinder- en tienerjare was moelik. Ek het nie die luukse gehad van eenvoudig kind wees nie ek moes baie vinnig volwasse raak; ek dink dit gee my die vermoë om myself in ander se skoene te plaas. My empatie het beslis teen ’n prys gekom, hoewel ek nie een oomblik sal verander nie. Ek is trots op my verlede.
Watter rol het jou Atterbury Trust beurslening in jou lewe as student gespeel? Sou jy daarsonder kon geswot het?
Dit het ’n massiewe rol gespeel; ek sou geensins sonder Atterbury kon klaarkom nie. Die verskil wat hulle in my lewe gemaak het is te merkwaardig om in ’n sin of twee op te som!
Wou jy van kleinsaf ’n prokureur of regter word – waarvandaan die besluit om regte te swot?
Ek wou oorspronklik ’n sielkundige geword het, danksy ’n oordosis Dr Phil smiddae na skool en die feit dat ek mense werklik kan lees en verstaan… My passie vir die regte het mettertyd gekom. Ek kon nog nooit onregverdigheid hanteer nie, sal ook nooit. Op die ou end, toe ek finaal voor die keuse tussen sielkunde en regte staan, het ek my Bybel oopgeslaan en twee verse gevind wat genoem het dat ons moet doen wat REG is en dat Jesus as ons REGTER voor God optree. Daarna was ek kop eerste in my regstudies in, want God het gepraat!
Jy het met Covid-19 in die hospitaal beland verlede jaar. Hoe het die ervaring jou persoonlik geraak? Wat was vir jou die mees ingrypende insig?
Eers het my kêrel, Anton siek geraak. Hy is in die hospitaal opgeneem, maar is na vier dae ontslaan, terwyl ek tuis besig was om al sieker te raak. Ek is hospitaal toe gejaag en in die intensiewe sorgeenheid opgeneem en op ’n ventilator geplaas. Die vroue om my was geweldig siek, en dit was vir my ontsettend traumaties om die sterftes van mede-pasiënte te beleef. Marilize was een van hulle. Sy het so gesels en gegrap en haar stories het die trane en vrees weggehou. Ek dink nie sy het besef watter lig sy vir my was nie. Sy het skielik net agteruit begin gaan binne die kwessie van ’n dag… Toe Marilize sterf het ek myself belowe om ook so ’n lig vir ander te wees. Ek het op Facebook die storie vertel van iemand wat gesterf het, en daarna het Marelize se familie uitgereik na my, wat geweldig baie vir my beteken het. Die ervaring het ‘n baie diep indruk gemaak en ek het beslis nie as dieselfde mens daaruit gestap nie. As jy bang is jy sterf, sien jy hoe laf dit is om te stres oor ’n paar ekstra kilogram as jou liggaam nou so hard veg, of oor finansies as geld maar in elk geval net gaan kom en gaan. Mens gaan “back to basics” en besef wat werklik saak maak. Ek voel wel nog steeds soms “survivors guilt” en ek dink dis hoekom ek die lewe soveel moontlik net wil geniet, ter wille van al die siele wat ek moes groet.
Jy het betrokke geraak by ’n sopkombuis in Malmesbury. Vertel ons meer.
Toe ek en Anton verhuis, het ek op Facebook geskryf oor ’n paar goedjies wat ek wou skenk en Tant Soes het my genader. Ek het haar ontmoet en sy het onmiddelik in my hart gekruip. Hierdie wonderlike vrou bestuur ’n sopkombuis, waar sy tot sowat 20 kinders op ’n dag van maaltye voorsien wat sy self kook. Baie van hierdie kinders vlug van moeilike omstandighede tuis en sy is hulle veilige hawe vir ‘n paar uur. Sy dek soms alles uit haar eie sak, en ek help maar waar ek kan met ‘n donasie; soms klere, of beddegoed of breekware. Dit sal so wonderlik wees as meer mense kan help en kan kos skenk, want tant Soes doen so baie met alles wat sy kry. Ek droom daarvan om vir die kinders elk ’n Kersgeskenkie te kan gee, en om ’n spesiale dag van swem of ander aktiwitieit saam met die kinders te reël, om vir hulle te wys daar is mense wat omgee, en ’n groter wêreld met moontlikhede vir hulle. Ek het besluit dat ek volgende jaar elke maand iets in ’n boks gaan bêre, hetsy ‘n paar waslappe, blikkies kos, kosmetiese ware, wat ek aan die einde van die jaar vir Tant Soes gaan neem om uit te deel. Dink net hoe baie sal ons kan insamel as almal wat hierdie lees, dieselfde kan doen!
Waar sien jy jouself oor 5 jaar? Wat is jou droom?
My einddoel is om ’n regter te word en op dié paadjie wil ek my meestersgraad voltooi en dan vir ‘n ruk as prokureur praktiseer. My passie lê daarin om mense te help, of dit nou deur die sopkombuis is of deur pro bono regsadvies aan minderbevoorregte mense te gee. Ek wil ’n verskil maak en ek glo dat ek my beloning in die vorm van seëninge sal ontvang. Ek geniet alle aspekte van die reg, maar ek glo as ek moet kies, is my hart by slagoffers van geweld – kinders, vroue en ook mans – so ek dink op die ou end sal ek of in kriminele reg of familiereg werk.
Hoekom is die Atterbury Trust se beursfonds iets wat mense daar buite moet ondersteun met skenkings?
Atterbury is nie net ’n beursfonds nie – dis ’n familie. Dis ’n span wat my ondersteun het deur geweldige moeilike tye in my lewe. Ek is só geinspireer deur Leonie, Zahn, tannie Louise en die ander sterk vroue van Atterbury. Ek sal ook nie net vir mense vertel gaan skenk sonder om dit nie self te doen nie, ek sal beslis help om ander studente te voorsien in die geleenthede wat Atterbury my gebied het. Ek sal hulle ewig dankbaar wees.
Help ons om meer uitblinkers soos Chantelle by te staan sodat hulle studiedrome kan waar word. Verskillende donasiepakkette is beskikbaar op ons Donasiewinkel, en vir alle skenkings voorsien ons ‘n 18A-belastingsertifikaat.