Watwo 67 minute…Atterbury Trust help graag elke week iewers vir iemand met ’n goeie daad. En tog is Tata Madiba se verjaardag ’n spesiale dag op die hartskalender. Ananja Koen, Atterbury Trust se finansiële en operasionele bestuurder, vertel meer oor wat vanjaar rondom 18 Julie beplan word.

Atterbury Trust is altyd baie aktief rondom Mandeladag. Kan jy al deel hoe julle in 2022 die herdenkingsdag gaan vier?
Die span hier by Atterbury Trust het met die plan vorendag gekom om ons kollegas van Atterbury Property te wys hoe werk die bedrywighede by Terugploeg en hulle te nooi om hulle hande “vuil” te maak en saam terug te ploeg by Terugploeg.

Terugploeg bring beslis ’n nuwe dimensie aan wat moontlik is! Hoe beoog julle om die Terugploeg-kloutjie by die Madibadag-oor te bring?
Terugploeg het sy bestaan te danke daaraan dat Lood Bester en Herman Marx besef het watter groot probleem honger in Suid Afrika is, en hoe maklik hulle met die hulp van hul vriende en vennote ’n daadwerklike verskil kan maak. Van ’n beskeie begin het Terugploeg se sirkel donateurs aanhou groei – boere en sakemense met groot harte wat gereelde voedselskenkings maak. Ons het nou ’n wonderlike fasiliteit met koel-en vrieskamers waar ons die voedsel kan stoor, en waar vleiskarkasse in maalvleis en wors verwerk kan word vir verspreiding onder behoeftige gemeenskappe. Ons plan vir Mandeladag is om die Atterburymense deel te maak van die proses – almal gaan handjie bysit by die Terugploeg hoofkwartier, deur vleis te verwerk en verpak, in die groentetuin te werk, of tweedehandse klere uit te sorteer. Die vleispakkies sal dan aan organisasies versprei word wat aansluit by die jaar se Madibadag tema, “Doen wat jy kan, met wat jy het, waar jy is”.

Kan jy dalk ’n staaltjie deel oor hoe Terugploeg reeds ’n verskil gemaak het?
Terugploeg se doel was van die begin af om die goedgekeurde organisasies wat in die gemeenskap werk se hande sterker te maak. Ons organisasies is die helde wat elke dag ’n verskil in behoeftige mense se lewens maak. Tot op hede kon Terugploeg ongeveer 262 ton kos onder meer as 77 organisasies uitdeel vir verdere verspreiding. Ons het baie vinnig met die afskop van Terugploeg besef dat die mees doeltreffende manier van help is om deur geloofwaardige organisasies te werk wat in die gemeenskap betrokke is en presies weet vir wie, hoeveel, wanneer en hoe, om te gee.

Ek deel graag ’n boodskap van Jacorita Folscher van Kairos, een van hierdie organisasies:

“Terugploeg is vir ons by Kairos CL nie net ’n voedselverskaffingsfasiliteit nie. Vir ons is julle deel van ons familie, wat help dat ons die etes van ons mees behoeftige gesinne en bejaardes in die Weste van Pretoria kan aanvul. Ons gesinne kry bitter min vrugte, groente en vleis. Met julle onbaatsugtige hulp het julle nie net hierdie groot leemte aangespreek nie, maar ook vir ons ’n geleentheid geskep om na soveel meer gesinne uit te reik.  Terugploeg is nie net ’n seën vir ons gesinne nie, maar ook vir ander instansies wat ons weer kan help met die kos wat ons van julle ontvang!”

 Indien daar mense is wat graag wil help, wat is die grootste behoefte op die oomblik? Hoe kan mense deelneem aan wat julle beplan?
Die grootste behoefte bly maar kos en warm klere. Danksy ons nuwe vleisverwerkingsfasiliteit kan ons mense wat jag, uitnooi om karkasse te skenk wat ons in kospakkies kan verwerk. Daar is altyd ‘n groot behoefte aan koffie, tee, melk, suiker, toiletpapier, toiletware of enige ander nie bederfbare produkte. Vars groente of vrugte is altyd welkom, so boere wat kan help, word gevra om ons te kontak. Dan samel ons ook tweedehandse klere en komberse in wat by die organisasies afgelewer word. Enigiemand wat betrokke wil raak, kan vir my ’n e-pos stuur by [email protected] of my skakel by 081 493 5452.

Julle het onlangs die Boersaam inisiatief geloods. Hoe vorder dit – het julle al skenkings gekry en wat is die volgende stappe?
Die inisiatief vorder goed, ons Rustenburg-kraal is vol met die skenkings wat ons uit die Rustenburg-gemeenskap uit ontvang het, en ons het nou ’n tweede kraal in die Kalahari wat reeds amper halfpad vol is. Die kapasiteit van die krale hang van die individuele boere af, maar ons kyk na so 20 verse per kraal om mee te begin teel. Ons hoop nou vir goeie kalfpersentasies in die komende jaar.

Wat word beplan by Terugploeg vir die res van die jaar?
Ons is in die proses om Terugploeg as opleidingsfasiliteit te registreer. Ons mik om teen Oktober alles in plek te hê en in Januarie ons eerste studente in te neem om as blokmanne opgelei te word sodat hulle hul vaardighede in die arbeidsmarks kan aanbied. Ons wil ook graag in die volgende paar maande die Terugploeg-toep loods, waarmee ons elektronies skenkings sal kan allokeer aan organisasies wat op die stelsel geregistreer is en ook elektronies behoeftebepalings kan doen.