Klavierentoesiaste kan hierdie jaar weer uitsien na die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie wat vanaf 23 tot 27 Oktober 2024 in die Fairtree Atterbury Teater in die Jakarandastad plaasvind. 32 deelnemers van oor die hele land sal oor ʼn tydperk van vyf dae mekaar die stryd aansê om prysgeld met ʼn gesamentlike waarde van bykans R130 000 in te palm, en gehoorlede kan hul gereedmaak vir skouspelagtige uitvoerings deur van Suid-Afrika se mees belowende jong pianiste.

Die kompetisie is in 2011 gestig deur die Pretoriase radioloog dr. Willie de Jager en legendariese musiekonderwyser Claudine van Breda. Claudine het verlede jaar haar stryd teen kanker verloor, maar haar liefde vir musiek en die klavier bly voortleef in die vele generasies jong pianiste wat sy met kennis, vaardigheid en ferm deernis opgelei het. Danksy haar onwrikbare ywer en versiendheid, het die kompetisie gegroei tot een van dié toonaangewende klavierkompetisies in Suid-Afrika en vanjaar word hierdie kompetisie dan ook aan haar opgedra.

Die kompetisie bestaan uit drie ouderdomskategorieë, naamlik 12 jaar en jonger, 15 jaar en jonger en 19 jaar en jonger. Deelnemers moet in die onderskeie rondtes Barok-, Klassieke, Romantiese én Moderne werke speel met ʼn opsionele voorgeskrewe werk waarvoor ʼn spesiale prys toegeken word. Die voorgeskrewe werk vir 2024 is Jazz Impromptu 3 deur die Suid-Afrikaanse komponis Alexander Johnson.

Die Steinway-kunstenaar, dr. Charl du Plessis, vervul vanaf 2024 amptelik die rol as artistieke direkteur van die kompetisie en word ondersteun deur ʼn uiters bekwame komitee bestaande uit dr. Willie de Jager, beskermvrou Celesté van der Watt (namens die Atterbury Trust), orrelis en koorbegeleier Janet Becker, spraakterapeut Danita Meiring en klavieronderwyser Hannelie van Sittert. Die Atterbury Trust tree weer vanjaar as hoofborg op en danksy die ruim borgskappe van ander instansies en individue kan deelnemers uitsien na nóg ʼn professionele kompetisie in ʼn wêreldgehalteteater wat spog met ʼn Model C Steinway & Sons-vleuelklavier. Die beoordelaars vir 2024 is proff. Catherine Foxcroft, Pieter Grobler en Hubert van der Spuy.

Verlede se wenner, die jong pianis Heinrich Sutton, sal tydens die openingsgeleentheid op Woensdag 23 Oktober 2024 om 18:30 ʼn spesiale soloklavieruitvoering gee, en gehoorlede kan uitsien na werke van Beethoven, Chopin en Rachmaninoff. Hierdie geleentheid, sowel as die uitdunrondtes wat elke oggend om 09:00 begin, kan gratis deur die publiek bygewoon word. Die uitdunrondtes word ook daagliks lewend gestroom vanaf die kompetisie se amptelike Facebookblad (Atterbury Nasionale Klavierkompetisie / National Piano Competition). Kaartjies vir die finale rondte op Sondag 27 Oktober om 12:30 kan gekoop word by seatme.co.za.

Besoek www.atterburypiano.co.za vir meer inligting oor die kompetisie.