Danelle Strydom het vroeër vanjaar ’n persoonlike beroepsdroom vervul toe sy deel geword het van die Atterbury Trustspan. Sy deel haar visie vir die Trust, en wat sy graag addisioneel vir beursstudente sou wou bied.

Dit lyk asof 2022 vir jou ’n jaar van nuwe dinge is – nuut by Atterbury Trust en ook het jy pas ma van julle tweede kind geword! Vertel ons eerstens hoe dit gebeur het dat jy by Atterbury aangesluit het, hoe jou beroepspaadjie voor dit gelyk het.
Ek het in 2020 vir die eerste keer van die pos te hore gekom, maar dit was nog net nie my seisoen nie!

Ek het my BA-graad in Kommunikasiekunde in 2012 aan die NWU se Potchefstroomkampus voltooi. My loopbaan het by Maroela Media begin as die uitvoerende hoof se persoonlike assistent. ‘n Geleentheid het in 2014 oor my pad gekom om vir ’n paar maande in Taiwan te gaan skoolgee. Met my terugkeer het ek by GROOTfm aangesluit en was ek deel van Die GROOT Ontbyt-span. In 2017 het ek by Focus on Health, ’n maatskappy wat CPD-punte verskaf in die mediese bedryf, begin werk. In Februarie 2022 het ’n groot droom uiteindelik waar geword en het ek my roeping by die Atterbury Trust begin uitleef.

Wat is jou presiese rol in die groter opset van die Trust, en jou belangrikste verantwoordelikheid daar?
My verantwoordelikheid by die Trust is studente en projekte. By Atterbury gaan dit nie net om finansieël ’n geleentheid te skep nie, ons tree in en bied deurentyd ondersteuning om seker te maak die grondslag van die droom word reg gelê om van daar af op te bou. Dit is ’n baie groot verantwoordelikheid om seker te maak daardie grondslag word reg vir die studente gelê en seker te maak hulle vertrou jou om dit te doen. By Triomf Kliniek is my verantwoordelikheid om nuwe dokters te werf en ook seker te maak die infrastruktuur is in plek en behoorlik onderhou sodat alles glad verloop.

Wat reken jy is die Trust se grootste uitdaging? En het jy idees oor hoe dit aangespreek kan word?
Daar is soveel geleenthede by die Trust dat dit uitdagend kan raak om seker te maak mens is betrokke waar dit saak maak en wanneer dit saak maak. Dit is definitief ’n groot geleentheid ook, en hier is vertrouensverhoudings en deurlopende betrokkenheid en ondersteuning die sleutelwoorde om seker te maak mens bly op hoogte van sake.

En jy het ook ’n nuwe baba… vertel ons meer van jou gesin?
Ek en my man, Nico, het behalwe ons pragtige seuntjie Daniël – hy is nou is vier maande oud – ook ’n woelige tweejarige, Lara. Ons woon in Wingate Park.

Hoe maak jy seker jy hou ’n balans tussen werk en gesin? Het jy ’n geheim?
Om te werk, mamma en vrou te wees is nogal ’n uitdaging en daarom is kwaliteit tyd saam met my gesin vir my baie belangrik. Die oomblik wat ek ná werk by die huis instap is dit net my gesin se tyd tot die kinders gaan slaap.

Hoe sien jy die rol van die private sektor en maatskappye soos Atterbury as dit kom by welsynswerk in die gemeenskap? Hoekom is dit so belangrik?
Om te gee is maklik, maar dit is ’n verantwoordelikheid om reg te gee. En daar sluit Atterbury se slagspreuk vir my baie mooi hier by aan: “It’s a matter of association”. Staan altyd eers ’n oomblik stil en maak seker wat jy doen en dat diegene met wie jy saamwerk belyn is met waarvoor jy werk.

Wat is jou droom vir Atterbury Trust – as jy ’n spesifieke projek kon voorstel en dryf, wat sou dit wees?
Ek sou graag dat ons behuising vir Atterbury-studente beskikbaar kon stel. Om vir studente die totale pakkie, van verblyf tot studiekoste, aan te bied sal ’n droom bewaarheid vir soveel studente.