’n Splinternuwe T20 kriekettoernooi vir skole van regoor die land word Maandag, 6 Augustus, in Pretoria bekendgestel.

Die Noord-Suid T20 skolekrieketoernooi, met AB de Villiers as die ambassadeur, vind in die September skoolvakansie in en om Pretoria plaas en gaan 16 skole in twee afdelings op die veld teen mekaar te staan bring. Die algehele wenspan sal prysgeld van R50 000 impalm vir hul skool om in krieket en krieketontwikkelingsprogramme te belê.

De Villiers, asook die kapteins van al 16 spanne, insluitende dié vanuit die suide en die platteland, wat danksy die borge ingevlieg sal word, sal by Maandag se bekendstelling by WEBUYCARS in Midstream teenwoordig wees.

Die agt Suidspanne is Bishops Diocesan College, SACS, Wynberg Boys’ High en Paarl Gimnasium uit die Kaap; St Andrew’s College van Grahamstad; en Westville Boys’ High, Northwood School en Glenwood High School van KwaZulu-Natal.

Die Noorde word verteenwoordig deur Hoërskole Centurion, Menlopark en Waterkloof van Pretoria; Volkskool in Potchefstroom; Hoërskole Nelspruit en Rustenburg; Grey College van Bloemfontein en Hoërskool Noord-Kaap van Kimberley.

Volgens Zahn Hulme van die Atterbury Trust, een van die borge, is die toernooi gebore omdat daar gevoel is dat daar nie genoeg geleenthede in die voorseisoen vir die krieketspelers van die topskole om teen mekaar mee te ding nie. “Ons glo baie sterk in die skep van geleenthede, en hierdie unieke toernooi maak dit moontlik vir spelers uit verskillende streke en agtergronde om vir ’n paar dae ’n opbouende fees van krieket te deel, en bande te smee wat toekomswaarde vir elkeen kan hê.” Die spanne sal almal tuisgaan by Camp Discovery, waar daar allerhande aktiwiteite en netwerk-geleendhede gaan wees om die jongklomp ook ná krieketure besig te hou.

Die toernooi se unieke formaat van spanne uit beide die noorde en die suide van die land (asook die platteland), is ook hoekom WEBUYCARS en Atterbury Trust saam met WAD Holdings en Attacq graag as toernooiborge aan boord is. “Ons is albei maatskappye wat landwyd ’n teenwoordigheid het, en ons glo beide dat dit in Suid-Afrika grootliks van die privaatsektor afhang om sulke geleenthede vir die jeug te skep,” sê Faan van der Walt van WEBUYCARS.

“Dit is lekker om vir jong krieketspelers van regoor die land die kans te gee om in die gewilde T20-formaat hul wedstrydspierete oefen sodat hulle wanneer die seisoen begin, hulle reg is om hul beste te lewer,” meen Joe Cloete, van Hoërskool Centurion wat saam met Hoërskool Menlopark en Hoërskool Waterkloof verantwoordelik is vir reëlings agter die skerms.

Die toernooi vind van 21 tot 24 September plaas en gaan ’n jaarlikse instelling word. Twee Noord-spanne en twee Suid-spanne sal elk van vier groepe verteenwoordig in die aanvanklike indeling, wat Maandag by die bekendstelling getrek en bevestig sal word. Elke span sal drie groepwedstryde speel en daarna sal elke groep se top twee spanne in die uitspeelrondtes in ’n kwarteindstryd, halfeindstryd en eindstryd speel. Die oorblywende agte spanne ding dan verder mee in die Plaatafdeling.

Die algehele prysgeld van R100 000 maak benewens die groot prys vir die wenskool ook voorsiening vir kontantpryse vir die spanne wat die tweede en derde plekke behaal, asook vir die Plaatafdeling se wenners. IXU, saam met Puma is produkborge wat wedstrydballe, daaglikse pryse vir uitblinkers en klere borg. Toeskouers sal gratis kan kom kyk, en vir diegene wat nie by die velde kan uitkom nie, sal twee wedstryde daagliks deur Pitchvision lewendig gestroom word op die internet. Vir meer inligting oor wedstrydtye en velde, hou die toernooi se Facebookblad @NoordSuidT20Skolekrieket dop.

Kapteine van die skole met ambassadeur, AB de Villiers, Faan van der Walt van WeBuyCars en Louis van der Watt, CEO van Atterbury.

 

Die krieket kapteine van T20 skole saam met AB de Villiers.