Grace Valley is ’n veilige hawe vir behoeftige bejaardes by De Wildt, tussen Pretoria en Hartbeespoortdam, en dit is Atterbury Trust se voorreg om ’n opgraderingsprojek daar te bestuur. Atterbury Trust se finansiële en operasionele bestuurder, Ananja Koen, gee die agtergrond.

Vertel ons meer van Grace Valley toevlugsoord, en die projek wat Atterbury Trust daar aangepak het?
Die welsynsorganisasie Grace Valley voorsien verblyf en daaglikse maaltye aan behoeftige, oorwegend bejaarde mense wat geen ander heenkome het nie, vir ‘n maandelikse bydrae van R1100. Die inwoners het gemeenskaplike ablusiegeriewe wat in ’n haglike toestand was. Die badkamers het by my bly spook sedert my eerste besoek aan Grace Valley en ek het die foto’s daarvan vir Atterbury se ontwikkelingsbestuurder, Pieter Olivier gewys. Hy het dadelik gesê ons kan ’n plan maak en die badkamers opgradeer. Met die ondersteuning van Atterbury se medewerkers, het Pieter ’n span donateurs bymekaargekry wat produkte en arbeid wou skenk en Atterbury Trust kon die laaste finansiële bydrae wat nodig was by ons netwerk van wonderlike skenkers insamel.

Die Atterbury Trust se netwerk is altyd so inspirerend! Wie het almal bygedra om hierdie projek moontlik te maak?
Dit was behoorlik ’n spanpoging! Italtile, Dulux Paint en Dis-Chem Castle Gate het voorraad geskenk en Multinet Systems het die nodige arbeid verskaf… die netwerk in aksie, want een van ons Atterbury Trust beursalumni, Ninette van Graan, werk by Multinet en het aan die bestuur daar die nodige motivering voorgelê. Dan het RLB Pentad die opmetings en kosteberamings gedoen, en Atterbury Property het die projekbestuur hanteer. Kontant is geskenk deur Fledge Capital, Atterbury Property en ander individue, om van die uitgawes te dek.

Die Atterbury Trust ondersteun verder ook vir Grace Valley op ’n gereelde basis deur Terugploeg se landbouprodukte aan die inwoners te verskaf. En vir die Kerstyd het die personeel van Dis-Chem Castle Gate onder leiding van Karien van Staden ’n Kerspakkie vir elke bejaarde opgemaak.

Ons is dankbaar vir elke medewerker wat bydra om ’n positiewe verskil te maak. Saam het ons ’n veel groter impak en kan ons omvattende ondersteuning aan behoeftige gemeenskappe verskaf.

Is die hele projek nou klaar?
Nog nie, dit neem effens langer as wat ons aanvanklik gedink het, omdat dit geblyk het dat daar ekstra loodgietery en elektriese werk nodig was. Ons het gehoop om die hele projek in 2022 af te handel, maar ons wil dit behoorlik doen! Ons maak nou klaar met Fase 1, die mans se ablusiegeriewel, en sal Fase 2 vroeg in Januarie voltooi.

Wat behels die tweede fase?
Dit sluit in die uitbreek van mure in die vrouebadkamer, waar al die loodgieterswerk en elektrisiteit nuut geïnstalleer word. Die badkamers word binne nuutgepleister, ons teël die vloere, storte en mure en vervang die wasbakke, toilette en bad. Ons gaan ook die gebou aan die buitekant verf.

Dit moet baie bevredigend wees om so ’n verskil te kan maak…
’n Projek soos hierdie maak my net weer bewus van hoe spesiaal Suid-Afrikaners is en dat dit die rede is hoekom ek altyd trots Suid-Afrikaans sal wees! Geen uitdaging of probleem is ooit te groot om op te los nie en daar is altyd iemand wat bereid is om ’n hand uit te steek en mense te help! Ek sien baie uit daarna om vroeg in die nuwe jaar vir Grace Valley se mense welkom te sê in badkamers waarop enigiemand sal trots wees.

Indien iemand wil betrokke raak met verdere ondersteuning van die behoeftige bejaardes by Grace Valley, kontak vir [email protected] of skakel 012 ­­4711 600.