Ontmoet Atterbury Foundation se nuutste direkteur, 31-jarige Godfrey Mmagawo, ’n boorling van die Vrystaat wat sy geestelike heimat in die Wes-Kaap kom vind het.

Hoe sal jy jou grootwordjare beskryf?
Ek is gebore in Allanridge in die Vrystaat en het my eerste vyf jaar meestal by my oupa en ouma gewoon op die plaas waar hy gewerk het. My ma was ’n huishulp in Welkom en my pa het ons verlaat toe ek ’n baba was, so ons was arm en dit was moeilike jare. Niemand in die familie het skool klaargemaak nie. Op ses het ek voltyds by my ma in Welkom gaan bly. As klein seuntjie het ek regtig gemis om ’n pa te hê wat my liefhet en vir my ’n rolmodel kon wees, wat my kon leer hoe om ’n man te wees. Ek het gemis om in ’n gesin groot te word waar mamma en pappa lief is vir mekaar en waar ek kon sien hoe ’n gesonde familie moet funksioneer.

Wat was jou droom om eendag te word as jy groot is?
As ’n seuntjie het ek nie eintlik toekomsdrome gehad nie, want die omgewing waarin ek grootgeword het, het nie rêrig sulke gesprekke gestimuleer nie. Later het ek vir die hoof by my laerskool gesê ek wil ’n dokter word; dit het lekker geklink, maar daar was nie regtig vir my sulke geleenthede nie. In matriek, danksy God se genade, het ’n onderwyser potensiaal in my gesien en my ondersteun om moontlik regte te studeer. Dit het net op die regte tyd gekom, want in daardie stadium het ek uit die huis getrek weens moeilike omstandighede met my stiefpa. Ek het toe in ’n karavaan ingetrek saam met ’n vriend en my onderwyser het my ondersteun om aansoek te doen by Kovsies om regte te studeer.

Wat was die grootste aanpassing vir jou as student op Kovsies?
Die grootste uitdaging was die feit dat ek 10km van die kampus gebly het, en partykeer klas toe moes stap omdat daar nie genoeg geld was vir vervoer nie. In my eerste jaar het ek geen handboeke gehad nie, so ek moes baie keer laat op kampus bly sodat ek in die biblioteek kon studeer. My ma is ook ongelukkig ses maande nadat ek begin studeer het, oorlede.

Dit was vir my baie moeilik om by die Kovsies-omgewing in te pas, omdat ek as klein kindjie saam met my oupa op die plaas erge diskriminasie ondervind het. Ek moes vinnig leer om deur daardie kinderpyn te werk en het myself doelbewus in ongemaklike situasies geplaas met mense wat nie soos ek lyk, soos ek praat of dieselfde agtergrond het nie.

Ons verstaan jy het daar in die koshuis besef die pad vorentoe is met versoening… hoe het dit toe uitgespeel?
As ’n seuntjie was my eerste ervaring van blanke mense die onvriendelike boer op die plaas. Hy het my persepsie van “tipiese” Afrikaners gekleur sodat ek geglo het dat alle blanke mense my altyd sleg sou behandel. So toe ek by Kovsies begin swot, was daar soveel meer uitdagings as my studies. Toe ek uiteindelik plek kry in een van die studentekoshuise was ek só bly, maar toe ek die aand daar aanmeld met my tassie in die hand, was daar duidelike ongemak en die HK het my ingelig dat daar nie vir my plek was nie. Uiteindelik het ons agter die kap van die byl gekom. Daar was plek, maar dit was saam met ’n blanke seun en hierdie historiese “wit Afrikaner” koshuis het nog nooit voorheen toegelaat dat wit en swart ’n kamer deel nie. Dis maar moeilik om nie vernederd te voel in so ’n situasie nie; mens voel kwaad en emosioneel. Uiteindelik het ek wel in die kamer met die Noord-Kaapse seun ingetrek en hoewel dit aanvanklik maar spanningsvol en ongemaklik was, het ons uiteindelik vir drie jaar saamgebly, saam op die HK gedien en selfs toe ons in enkelkamers kon bly, het hy gereeld op my bed kom “crash” met ’n “Rooms, ek mis jou!”

Het jy toe wel regte geswot?
Ek het begin met ’n voorbereidingsgraad om LLB te swot, maar na twee jaar waarin die Here my op ’n reis van self-ontdekking gevat het, het ek my graad verander na Sosiale Wetenskappe. Ek het ontdek dat ek geroepe is om mense te dien. Dit het nie meer vir my gegaan om ’n suksesvolle prokureur te wees met geld en status nie, maar eerder oor mense wat gedien moet word.

Watter draaie het die lewe geloop om jou van die Vrystaat tot in die Wes-Kaap te bring?
Na my graad het ek weer eens ’n roeping gevoel, dat ek Stellenbosch toe moes trek. Ek het voltyds begin werk vir ’n sportbediening-organisasie (SCAS) wat deur sport die evangelie verkondig. Dit het vir my deure oopgemaak om die evangelie te verkondig, maar ook om my roeping as brugbouer te kan uitleef tussen jong mans van verskillende rassegroepe. Ek kon ook dwarsdeur Suid-Afrika reis en ons ongelooflike land leer ken en liefkry.

Hoe lank al is jy by In Harmonie, en wat behels die werk?
Ek is sedert 2021 ’n operasionele spanleier by In Harmonie op Hannelie Rupert se wynplaas, La Motte buite Franschhoek. In Harmonie is ’n organisasie wat met Christelike leiers in Suid-Afrika werk. Ons skep ’n spasie om leiers te ontwikkel wat in harmonie leef met God, hulself en ander. Die hoofpilare van ons visie is Rus, Restorasie en Rekonsiliasie. My verantwoordelikheid is om onder die leiding van die direksie hierdie visie operasioneel uit te rol met verskeie programme.

Wat geniet jy die meeste omtrent die werk en wat is die grootste uitdaging?
Dis lekker om te kan sien hoe leiers van verskillende kulturele en sosio-ekonomiese agtergronde mekaar ontmoet, om dieselfde tafel sit en saamwerk om Suid Afrika uit te bou. Ek is in my hart ’n netwerker, so ek geniet ons rol as brugbouers wat verhoudings aanmoedig tussen leiers wat nie sommer op ’n gewone dag om dieselfde vuur sou sit nie. Dis kompleks omdat ons soms met baie moeilike situasies werk. Suid-Afrika het ’n baie hartseer geskiedenis en enigeen wat in versoeningswerk betrokke is, sal getuig van die moeilike dinamika waarmee mens gekonfronteer word. Daar is nog baie pyn, en tussen alles het mens ook nog self persoonlike seer wat deurgewerk moet word. Maar dis baie betekenisvol om die getuienisse te beleef soos mense hulle verskille opsyskuif en met mekaar versoen.

As ’n pa, wat hoop jy om jou seun te leer oor die mag van versoening?
Mense sê dikwels hulle smag daarna om “kleurblind” te wees, en almal dieselfde te kon hanteer ongeag kleur of agtergrond. Maar ek hoop om ’n seun groot te maak wat wel die diversiteit in Suid-Afrika sal raaksien, wat sal besef dat ons almal uniek deur ’n God geskape is wat ons almal liefhet en wat ons met mekaar en met Homself versoen wil sien. Ek hoop Oyintando sal besef wat ’n voorreg dit is om ’n Suid-Afrikaner te wees, want al ons verskille verf eintlik ’n baie mooi prentjie van wie ons Skepper is. Daar is iets moois en uniek in elke kultuur wat iets moois van God weerspiel.

As jy jou drome vir Oyintando kan opsom in een sin, wat sou jy hom toewens?
My droom vir hom is dat hy ’n diep verhouding met God sal hê, ’n liefdevolle man vir sy vrou en ’n teenwoordige pa vir sy kinders sal wees.

Hoe het jou paadjie gekruis met dié van Atterbury Foundation?
Ek het die voorreg gehad om op ’n paneel te wees met Francois van Niekerk vir ’n MOI-funksie waar ek leerders toegespreek het. Ek het toe vir Zahn ontmoet en nog tyd spandeer met Francois. Uit dié verhouding is ek vanjaar genooi om op die direksie te dien.

As direkteur, wat hoop jy om te kan bydra tot hoe die Foundation sy projekte benader? Wat dink jy van dié projekte wat jy reeds leer ken het?
Dit is vir my ’n groot voorreg om deel te kan wees van die Foundation se werk. Ek besef dat ons nie net die lewens van individue verander nie, maar dié van generasies. Een kind wie se lewe opgehef word, het die potensiaal om sy onmiddelike gesin se lewens te verander. Een gesin wat opgehef word het die potensiaal om ’n gemeenskap op te hef. Een gemeenskap wat opgehef word, het die potensiaal om die land te verander. So ek is ongelooflik trots op die holistiese benadering wat die Foundation het om kinders voluit te ontwikkel, in alle areas van hul lewens. Dit is soms maklik om net geld te gee vir ’n kind om goeie onderwys te kry, maar daar is soveel ander struikelblokke wat kinders moet oorkom weens hul agtergrond. So die Foundation se werk is na my mening uiters betekenisvol.

Ek hoop om die Foundation te help om verder uit te brei en ook ander moedertaalgroepe benewens Afrikaanssprekendes in te sluit. My diep begeerte is om jong leiers te help ontwikkel wat verantwoordelikheid aanvaar – nie net van hul eie lewens nie, maar wat ook kan bydra om Suid-Afrika te herbou. Ek dra graag hiertoe by.

Waarvan hoop jy om in die toekoms meer te sien?
Ek hoop vir meer etiese leiers wat sal leiding neem in ons land; leiers wat opstaan omdat hulle geroepe is om dienaars van die gemeenskap te wees, nie vir eie gewin nie. My wens is vir programme wat plaaslike leiers bemagtig om hul eie gemeenskappe te ontwikkel, waar die gemeenskap self ’n stem het waarna geluister word. Ek hoop om meer samewerking tussen alle Suid-Afrikaners te sien, want deur hande te neem en saam in ons land terug te ploeg, kan ons ’n verskil maak. Laastens hoop ek om meer kinders te sien met teenwoordige pappas wat hulle met liefde grootmaak en as voorbeeld dien.

En waar hoop jy self om oor 10 jaar te wees, beide professioneel, en in jou persoonlike lewe?
Eerstens hoop ek om ’n goeie man te wees vir my vrou, Boitumelo, en ’n goeie pa vir my kinders. Ek hoop om ’n groot rol te speel in die versoening van mense tot God en ook tot hul medemens. Ek hoop om ’n katalitiese rol te speel om programme in Suid-Afrika te loods wat minderbevoorregte mense sal help om toegang te kry tot hulpbronne wat hulle ’n kans sal gee in die lewe. Hierdie hoop ek om te doen deur verhoudinge te fasiliteer tussen die regering, sakewêreld en plaaslike gemeenskappe.