Atterbury Trust se uitvoerende trustee Zahn Hulme was daar toe die Trust 25 jaar gelede gebore is. Sy kyk terug op ’n kwarteeu van deernisvolle planne maak om ’n beter samelewing te help skep.

Atterbury Trust is vanjaar 25. Hoe vier julle dit?
Nalatenskap is die oorhoofse tema wat die Trust se 25 jaar-vieringe saamvat. Die Atterbury Trust het oor die afgelope 25 jaar ’n betekenisvolle impak op soveel mense se lewens gehad. Van die ongeveer 800 beurse wat toegestaan is sedert 1998, het ongeveer 670 studente reeds hulle grade behaal. Amper 300 van hierdie studente het hulle beurslenings ten volle terug betaal.

Ons is tans hard besig om van hierdie alumni suksesstories in te samel – ons wil graag weet waar oor die wêreld die Atterbury Trust alumnifamilie hulself bevind, wat hulle nou doen en ook uitvind van hulle families en gesinslewe. Hulle stories van sukses en betekenis is ’n inspirasie vir almal.

Ons beplan ook om soveel as moontlik van ons Atterbury Trust alumni bymekaar te kry vir ’n groot makietie-reünie by die Atterbury Teater in Pretoria. Ons wil ’n paar gewilde kunstenaars wat oor die afgelope klomp jare ’n pad met die Trust gestap het soos Stef Bos, Elvis Blue of Karen Zoid kry om op te tree. Die voorlopige datum is 23 Augustus.

Jy was van die heel begin betrokke. Wat het julle destyds gehoop sou die Trust bereik, en hoe voel jy oor waar dit wel vandag is?
Ons het regtig klein begin – heeltemal onder die radar. Ses studente het in 1999 met hulle studies begin. Ek was destyds nog ’n dosent by Unisa en Tuks en het smiddae na werk die keuring en daarna ondersteuning van beursstudente gedoen. Daardie eerste jaar is net ses beurse toegestaan. Ek sou nooit in my wildste drome kon dink dat ons na 25 jaar by bykans 800 Atterbury Trust beurshouers met ’n deurvloeikoers van hoog in die 90% sou staan nie! Wat nog te sê van Atterbury Teater, Triomf Kliniek, Terugploeg en Boersaam!

Ons het onlangs ons Stellenbosch- en Pretoria-beursfunksies gehou en as ons alumni terugkom, “huis toe” soos sommige van hulle sê, en ons sien wat hulle met die kosbare geleentheid van tersiêre opvoeding gemaak het, staan ek telkens verwonderd en oorweldig oor hoe die vertroue wat ons in hulle stel en die kans om verder te kan studeer ’n sirkel van armoede breek en mense en hulle onmiddelike families se lewens op ’n heeltemal nuwe trajek plaas.

Dit is werklik lewensveranderend. Die oorgrote meerderheid van ons beursstudente kom uit gebroke families en vandag is daar soveel van die alumni wat goeie werke het, ’n gelukkige gesinslewe nastreef en in baie gevalle ook vir hulle ouers en ander familielede sorg. Die woorde van waardering en erkenning van die Trust se rol in hulle lewe laat my telkemale met ’n knop in die keel.

Daar is so baie wat bereik is, maar as jy moet kies wat die hoogtepunte was in elk van die kategorieë van opvoeding, kultuur en welsynswerk, wat sou jy uitsonder?
Die lewensveranderende impak van opvoeding op studente se lewens dink ek is die mees sigbare – in die begin was ek direk betrokke by elke student se situasie, huislike onstandighede en uitdagings. As ek dan na ’n paar jaar weer met hulle kontak het en die radikale verandering sien, besef ek net weer die waarde. Ewigheidswaarde wat nie in geld gemeet kan word nie.

Op skoolvlak is die Wes-Kaapse Moedertaal Ontwikkelings Inisiatief (MOI) besig om bykans 80 belowende jongmense se kanse op sukses in die lewe ‘n stweige hupstoot te gee en ons glo dat hierdie leerders eendag hulle merk in hulle onderskeie gemeenskappe gaan maak.

Die stories van Triomfpasiënte raak my hart – ons het al meer as 5 300 mense gehelp. Pasiënte wat letterlik in doodsgevaar was en hoop verloor het deur swak of totaal afwesige sorg by staatshospitale – baie velkankerpasiënte byvoorbeeld – en hoe die ingryping van ons vrywiligerdokters dan nuwe lewe en hoop bring. Sorg met waardigheid. Ander behoeftige mense kry brille en kan die wêreld weer vierkantig in die oë kyk.

Dan ook Terugploeg wat vinnig besig is om die kerf van 500 ton kos te nader! Ek is so trots op die pragtige verpakkings-, verwerkings- en verspreidingsfasiliteit wat langs die N4 opgerig is en die nuwe planne vir groentetuine en komposproduksie. Ek staan so dankbaar teenoor vrygewige boere en ander skenkers wat ons in staat stel om hulp wat werk te verleen.

Dan nie eers gepraat van die pragtige Atterbury teater waar kunstenaars en gehore die geriewe van ‘n wêreldklas teater kan benut nie!

Hoekom dink jy is die Trust so suksesvol? Wat is die geheim?

Ek glo Francois van Niekerk se diepe bewustheid van ons Godgegewe verantwoordelikheid van rentmeesterskap op aarde en Louis van der Watt se entrepeneurshart wat van die begin af gestalte gegee het aan die werk van die Trust, het my vir die afgelope 25 jaar geïnspireer.

Mense het hoop nodig in ons land en die Trust skep hoop. Veral onder behoeftige Afrikaanse mense wat agter in die ry staan vir hulp van regeringskant af. Opvoeding, voeding en gesondheid is krities belangrik – dis eintlik ’n basiese mensereg en ons tree daar in vir baie mense.

Ek glo ook ons het ’n geloofwaardige reputasie opgebou – die werk wat ons doen is deursigtig. Ons het ook ’n lojale sirkel van ondersteuners – die groter Atterbury Property netwerk sowel as die lojale vriende van die Atterbury Trust en Versnit. Ons deel die suksesstories met deernis en respek in ons nuusbriewe en sosiale media en dit inspireer weer ander mense om ook betrokke te raak op terreine waar hulle kan hulp verleen..

As jy kon teruggaan na die heel begin, sou jy iets anders begin het met wat jy vandag weet?
Sjoe, moeilike vraag, maar ek dink nie regtig so nie. Die Trust het klein begin met ’n baie persoonlike aanslag. Ons was regtig intens betrokke by elke student en projek. Die feit dat die Trust organies ontwikkel en gegroei het en dat die regte mense en projekte op die regte tyd oor ons pad gekom het, het bygedra tot die sukses van die Trust. En dit bly elke dag ’n voorreg om ’n instrument in die Here se hand te wees en dit my lewenstaak te maak om mense met minder as ek te help en ondersteun.

Wat is jou droom vir Atterbury Trust se volgende kwarteeu?
Ek droom en glo die Trust gaan van krag tot krag gaan met genade van bo, lojale donateurs en ons passievolle Trustspan se kreatiewe insette, toewyding en harde werk.