Atterbury Trust se nuwe Wes-Kaaptak het reeds begin spore trap in die gemeenskap rondom Stellenbosch, waar die kantoor gebaseer is. Akkerland kleuterskool is een van die nuwe begunstigdes. Surisa Schwalb is betrokke by Atterbury Trust Wes-Kaap finansies en projekte, en vertel meer

Die Wes-Kaap is nuwe terrein vir Atterbury Trust en julle vind seker nog uit wat die behoeftes in die omgewing is. Wat het julle teen dié tyd wys geraak?
Daar is baie skole in die omgewing wat ’n groot behoefte aan kos, onderwysers, boeke en opvoedkundige speelgoed het. Ons het besluit om eerste by hierdie kleuterskool betrokke te raak aangesien die skool relatief klein is en ons op ’n deurlopende grondslag ’n wesenlike verskil en impak kan maak, eerder as om op ’n ad hoc-basis op ’n klomp plekke te probeer hulp verleen.

Onder ons vriende het ons heelwat ouers wat betrokke wou raak by ’n kleuterskool om hulle met finansiële en ander bydraes te ondersteun.

Hoe het julle hierdie bepaalde kleuterskool geïdentifiseer vir hulp – vertel ons iets oor die skool?
Akkerland is in Jonkershoekvallei, en die kinders kom almal uit huise waar die finansiële nood groot is. Johenda Rhode is die hoof daar. Die kleuterskool word deur ’n paar instansies ondersteun op verskillende gebiede, en een hiervan is die Moederkerk in Stellenbosch se Stellumthombo inisiatief wat onder andere opleiding by kleuterskole in die Stellenbosch-area bied. Ons het na Stellumthombo uitgereik om te hoor waar ons betrokke kan raak en Akkerland kleuterskool het vir ons uitgestaan.

Het julle ’n bepaalde strategie wat julle uitrol by die skool?
Ons eerste prioriteit is om Akkerland te ondersteun met Inani se Startwell-pap sodat die kinders elke dag kan begin met ’n gesonde ete wat al die noodsaaklike voedingstowwe bevat en gesonde fisiese ontwikkeling verseker. Geen kind behoort skool te gaan op ’n honger maag nie. Tweedens gaan lewer ons daar vars groente en vrugte af soos wat ons Terugploeg donasies ontvang om sodoende ’n verdere verskil te maak aan die kinders se voedingsbehoeftes. Ons kry ook gereeld donasies van kinderklere en komberse wat ook by Akkerland afgelaai word.

Dan probeer ons ook om bietjie te bederf en nie net aan basiese behoeftes te voorsien nie; en so het ons byvoorbeeld ’n Trustvriendin wat self ’n ma is, wat onderneem het om vir elke kind op sy of haar verjaarsdag ’n koek te bak. Elke kind wat verjaar kry dan ’n geskenk en ’n klein partytjie by die skool om die dag ekstra-spesiaal te maak.

Het julle spesifieke planne vir Mandeladag, wat oor minder as ’n maand is?
Vir Mandeladag beplan ons ’n spesiale dag by Akkerland waar Atterbury Trust Wes-Kaap, Atterbury se ontwikkelingspan in die Kaap en van ons Moedertaal Ontwikkeling Initiatief (MOI) leerders gaan saamspan om die skoolterrein op te helder deur die speelareas te verbeter. Ons gaan ook skopfietse skenk. Ons het al goeie vriende gemaak met ons mede-huurders wat saam met ons in die La Gratitude Herehuis werk en hulle span ook saam met ons om hulle 67 Mandeladag-minute by Akkerland te spandeer!

Hoe werk julle betrokkenheid by Startwell?
Voeding van behoeftige gemeenskappe is een van die doelstellings van Atterbury Trust. Ons ondersteun Startwell deur pap by drie kleuterskole te verskaf.

Eerstens, soos ek genoem het, is dit Akkerland, as deel van Atterbury Trust Wes-Kaap se vroeë kinderontwikkelingsprogram; tweedens aan ’n kleuterskool in Atlantis as deel van die Richmond Park Treasury Trust se projekte wat ook deur Atterbury Trust Wes-Kaap bestuur word; en laastens by ’n kleuterskool in Loxton in die Karoo as deel van ons Karoo Suite-befondsing. In al drie gevalle is wanvoeding ’n wesenlike probleem in die gemeenskap, en die Startwellpap maak ’n groot verskil om groeibelemmering onder hierdie kleuters te voorkom.

Ons ondersteun Startwell ook met bemarking aan ons wye netwerke en met inisiatiewe soos Zahn se Grootswem na Robbeneiland wat ten bate van Startwell was en waarmee R500 000 ingesamel is.

As enigiemand wil bydra, kontak vir Surisa by [email protected] of 0827554704.