By Atterbury Trust is dit vir ons ’n eer om oplossings te vind vir hardwerkende, talentvolle studente wat weens finansiële beperkings nie kan bekostig om verder studeer nie. Dis nie aldag dat ons die kans kry om ’n mediese dokter te help om hom in ’n spesialisveld te kwalifiseer, sodat hy op ’n selfs hoër vlak kan bydra tot sy gemeenskap se gesondheidsorg nie, en die verhaal van Dr JT Coetzee het ons aangegryp. Ons reik graag uit na ons wonderlike netwerk van groothartige skenkers om hierdie droom werklikheid te maak.
Stel net voor die frustrasie van ’n jong skitterdokter wat graag wil verder studeer en kwalifiseer as ’n spesialis in ’n broodnodige veld, maar omdat hy nie die regte bevolkingstatus het nie, kry hy nie keuring nie want daar is geen fondse vir mense soos hy oor nie. En dink net aan die kommer van ’n voorste hospitaal wat spesialiseer in kardiotoraks-operasies, en wat ’n dringende behoefte aan nuwe jong sjirurge het soos die bestaande spesialiste ouer word en begin aftree.
Dit is die situasie by Zuid-Afrikaans Hospitaal (ZAH), en ook die werklikheid waarin Dr Jacobus (JT) Coetzee hom bevind in sy begeerte om ’n kardiotoraks-sjirurg te word.
Kardiologie en kardiotoraks-operasies vorm die basis van die mediese en snykundige dienste wat by ZAH aangebied word, en daar is tans vier voltydse snydokters op die span om die groot navraag na behandeling vir ernstige hart en longkwale te hanteer. Hierdie kundigheid is in baie groot navraag, omdat kardiovaskulêre siekte naas HIV/Vigs die hoofoorsaak van dood in Suid-Afrika is. Die opleidingsowerheid vir die gesondheids- en welsynsektor het bevestig dat kardiotoraks-sjirurge vandag een van die broodnodigste kategorieë van dokters in die gesondheidswese is.
By ZAH is daar so baie kardiologie-aktiwiteit dat daar 24/7 ’n kardiotoraks-sjirurg aan diens moet wees om al die pasiënte wat hartprosedures ondergaan, te ondersteun. Die behoefte aan ’n nuwe spesialis het die hospitaal gelei om Dr JT Coetzee te identifiseer as die ideale kandidaat; en sy dit was sy indrukwekkende CV en lewenslange droom om die skoene van ‘n kardiotoraks-sjirurg te kan volstaan, wat hom in die visier gebring het.
Dr Coetzee het reeds die primêre eksamen, wat die basiese snykundige vaardighede insluit, afgelê, en is dus reeds in besit van die minimum kwalifikasie wat die Kollege van Kardiotoraks-Sjirurge van Suid-Afrika vereis. Op die oomblik is hy besig om hom vir die intermediêre eksamen voor te berei.
Tans werk hy as mediese offisier by die Kimberley Hospitaal in algemene snykunde en kardiotoraks-snykunde, nadat hy in sy mediese internskap en gemeenskapsjaar gefokus het daarop om ervaring op te doen in kardiotoraks-snykunde. Hy is ’n graduandi van die Universiteit van Pretoria waar hy in 2015 sy MBChB met ’n Eersteklastoekenning verwerf het, en waar hy ook twee hoogaangeskrewe akademiese medaljes verwerf het, die Trubshaw-medalje en die Frederich Luvuno-medalje. Dr Coetzee is die medeskrywer van ’n artikel oor wond-infeksie wat in die vakletterkunde verskyn het, en gaan later vanjaar sy navorsing aanbied by ’n mediese konferensie.
Dit word voorsien dat Dr JT wanneer hy gekwalifiseer het, ’n groot aanwins sal wees vir die kardiotoraks-dissipline as geheel. Die idee is dat hy in sy vrye tyd by die hospitaal se ongevalle-afdeling sal werk om sy vaardighede ten beste te ontwikkel tot al sy pasiënte se voordeel.
Dit is nie kinderspeletjies om ’n kardiotoraks-sjirurg te word wat mense se lewens in hul hande hou nie, en die harde werk en unieke spesialiteitsrigting gaan ook gepaard met ’n baie hoë prysetiket. Die koste vir die opleidingsprogram word geraam om sowat R900 000 per jaar, of R3,6 miljoen in totaal te wees vir die vier jaar. Gelukkig is meer as die helfte hiervan reeds gevind, danksy die groothartigheid van ’n handvol skenkers, insluitende ’n voorste farmaseutiese en toerusting-maatskappy, wat reeds in beginsel ’n borgskap vir 50% van Dr JT se kursus goedgekeur het. Vir sy eerste studiejaar, in 2020, word wel nog R200 000 benodig.
Ons doen ’n beroep op almal wat graag ’n bydrae wil maak tot die instandhouding van uitmuntende mediese kundigheid in Suid-Afrika. Eenmalige skenkings, sowel as maandelikse skenkings kan gemaak word.
Enigiemand wat ’n skenking ten bate van Dr Coetzee deur die Atterbury Trust-beursfonds maak, sal ’n Artikel18A-belastingsertifikaat ontvang om die skenking as belastingaftrekbaar te eis. Om meer uit te vind oor hoe om te skenk, stuur gerus ’n epos aan [email protected]
ZAH is ’n 139-bed private, onafhanklike, nie-vir-wins hospitaal in Muckleneuk, Pretoria, wat al sedert 1904 bestaan.