MOI se beursprogram vir behoeftige bruin Afrikaanssprekende hoërskool-leerders is in sy vierde jaar, en die eerste matrieks sal in 2024 hul laaste skooljaar aanpak. MOI Programbestuurder Jenene Petersen deel die goeie nuus oor hoe die beurshouers vorder

Hoe het die resultate vir 2022 gelyk?
Ons het al vir drie jaar in ’n ry ’n slaagsyfer van 100%. Meer as 80 persent van ons Graad 10-tot 12-leerders kwalifiseer vir Baccalaureus-grade. Ons is trots op die uitstekende slaagsyfer; dit help ons om elke beurshouer aan te moedig om te strewe na hul persoonlike beste.

Ons fokus is nou om die spannetjie te motiveer om te besef dat hulle enigiets kan bereik as hulle net in hulself glo en die dissipline en harde werk insit om hulle drome te verwesenlik.  Ons is regtig opgewonde oor ons Graad 11s wat die 2024 matrikulante sal wees. Die senior leerders ontvang tans loopbaanblootstellings. Ons het reeds in die eerste kwartaal besoeke afgelê by verskeie bedrywe, insluitende media, ingenieurswese en bou- en konstruksiefirmas. Daar is vele besoeke in die pyplyn wat ook praktiese bedrywe insluit soos somatologie, toerisme en die hotelbedryf, en landbou. Ons kan reeds agterkom wie die entrepreneurs in die groep is en die blootstelling aan die regte wêreld van werk laat hulle ogies blink!

Het daar nuwe leerders bygekom in 2023?  Hoeveel beurshouers is daar nou in totaal?
Ons het 18 nuwe Graad 8s wat hulle hoërskoolloopbane begin, en hulle is almal van die Paarl en Stellenboschomgewing.  Hulle is ook die eerste groep wat ons nuwe Graad 7-voorbereidingsprogram vir hoërskool voltooi het. Die program is gemik daarop om die gaping in skolastiese en emosionele ontwikkeling te oorbrug en die groot sprong vanaf laerskool na hoërskool vir leerders bietjie makliker te maak. Ons het nou altesaam 76 beurshouers en hulle is versprei tussen 14 vooruitstaande Afrikaanse hoërskole in die wynlanddistrik.

Twee leerders is aan die einde van 2022 uit die beursprogram onttrek. Ons ag dit belangrik dat al die beurshouers hierdie geleentheid aangryp deur te voldoen aan die akademiese vereistes asook MOI se waarde-gebaseerde gedragskode soos ons aan hulle uiteensit wanneer hulle die beursprogram betree.

Baie van die beurshouers kom uit huise waar hul ouers nie self matriek het nie. Wat vind julle is een van die grootste uitdagings vir dié jongmense?
Daar is baie meer oorwinnings om voor dankbaar te wees, maar ja, die uitdagings kom. En net wanneer jy dink daar is ’n deurbraak, kom daar soms ’n teleurstelling. Daar is groot maatskaplike uitdagings by die huis en in die gemeenskappe waarvandaan ons leerders kom. Ons sien dit veral wanneer hulle terugkeer koshuis toe na ’n skoolvakansie. Ouers werk soms skofte en dan is daar dus geen toesighouding tuis nie. Daar is ook bitter min vaderlike rolmodelle by ons MOI-leerders se huise. Die negatiewe blootstelling in die gemeenskap en op sosiale media het ’n groot invloed op jongmense se keuses, en ons onderstreep dat keuses wat hulle vandag neem, hul toekoms beïnvloed en dat hul verantwoordelikheid moet aanvaar vir die gevolge van hul besluite.  Ons interaksie met die ouers is net so belangrik soos dié met die jongmense en daarom vereis dit gereelde besoeke van die MOI-span by die ouerhuise van ons leerders. Ek is dankbaar vir die wonderlike ouers wat altyd hulle samewerking gee wanneer dit nodig is om dissipline toe te pas.  Die meeste van ons beurshouers is die eerste generasie in hul familie wat die kans kry om matriek te slaag en selfs die geleentheid gaan hê om verder te studeer, daarom neem ons graag die ouers saam op reis op pad na matriek.

Kan jy ’n suksesstorie deel van een beurshouer se besondere prestasie?
Ek dink dadelik aan Tatum Ferrier by Stellenbosch Hoërskool. Sy is iemand wat hoë eise aan haarself stel en konstant hard werk om haar doelwitte te bereik. Sy is ’n fantastiese rolmodel vir die res van ons beurshouers – sy handhaaf ’n goeie balans tussen akademies en buitemuurs, waar sy al tot op nasionale vlak van die ATKV-redenaarskompetisie gevorder het en sy werk ook as verslaggewer vir die skoolkoerant. Sy het aan die einde van Graad 10 volle akademiese erekleure ontvang, en ook die tweede plek in haar graad behaal met ’n akademiese gemiddelde van 95%. Ons is opgewonde oor haar toekoms en die positiewe bydrae wat dié hardwerkende meisie gaan lewer tot ’n positiewe werksmag, samelewing en land. Ons is 100% agter haar met akademiese en emosionele ondersteuning sodat sy ook in Graad 11 en 12 haar heel beste kan gee. Ons is reeds besig met beroepsblootstelling en om haar met professionele beroepsleiers in kontak te bring.

Watter groep-interaksies word vir die beursstudente beplan vir vanjaar?
’n Opwindende program wag vir 2023, en een van die hoogtepunte is ons jaarlikse leierskapsberaad met temas en sprekers wat wêrelde oopmaak vir die leerders.

Die Graad 8s het reeds begin met ’n beeldhoukunsprojek, waar hulle die kans kry om kreatief te wees en met klei na brons ’n werk te skep wat hulle lewensstorie uitbeeld.

Graad 9 se hoogtepunt is die individuele voorligting rondom vakkeuses en die terugvoer aan elk van hulle in die teenwoordigheid van hul ouers of voogde. Hier droom MOI, ouer en leerder saam aan ’n lewensdoelwit wat nie net die leerder bevoordeel nie, maar ook die Koninkryk en hulle gemeenskappe positief beïnvloed.

Graad 10 sien uit na ’n leierskapskamp waar ons hulle voorberei vir leierskap en mentorskap.

Graad 11 se hoogtepunt is die loopbaanvoorligting en die beroepblootstellings. Ons besoek maatskappye en gesels met mense in verskeie beroepe. Ons help ook om vir hulle vakansiewerk te reël wat kan dien as ’n voorsmakie van die werkslewe.

Dit is belangrik dat hierdie blootstelling saam met pret en spanbou kom, terwyl hulle ook ‘n verantwoordelikheidsin aanleer, asook hoe om goeie keuses te maak. Só berei ons hulle voor vir die lewe ná hoërskool.

Die MOI program is soos al Atterbury Trust se werksaamhede afhanklik van donasies. As jy ’n hand kan uitreik en ’n skenking maak, kan ons ’n 18A-sertifikaat vir belastingdoeleindes uitreik. Ons hoor ook graag van belowende laerskoollerders wat in die program opgeneem kan word. Vind hier meer uit.