Deel van die holistiese MOI beursprogram vir Afrikaanssprekende hoërskoolleerders in die Wes-Kaap is blootstelling aan die arbeidsmark. MOI programbestuurder Jenene Petersen vertel meer.

Hoe staan sake op die oomblik by MOI?
Ons het vanjaar ons eerste twee matrieks en daar is ook ’n groot groep Graad 11s, so dis nou baie relevant om vir hierdie jongmense te kan wys wat die verdere studiemoontlikhede ná afloop van matriek is. Die meeste van ons beurshouers kom uit huise waar hul nie blootstelling aan die formele arbeidsmark gehad het nie, omdat daar armoede en dikwels werkloosheid is, so ons ag dit as ’n baie belangrike deel van wat ons doen.

Julle het ook ’n mentorskapprogram by MOI? Vertel meer daaroor?
Die mentorskapprogram se doel is ook om die leerders voor te berei vir die lewe na matriek.

Ons het jong werkende leiers en senior Atterbury Truststudente wat deelneem as mentors om ons Graad 10- tot 12-leerders gereed te kry met loopbaanadvies en lewenslesse.

Elke Junie-Julie-vakansie bied ons ook ’n Graad 10-kamp aan waar ons die kinders voorberei vir die mentorskapprogram, sodat hulle verstaan wat die mentor se rol behels, asook hul eie verantwoordelikheid as mentee. Vanjaar se Graad 10-kamp se tema is “Lei Jouself”. Die jaarlikse kampe is ’n regte hoogtepunt en is al vanaf Graad 9 af iets waarna uitgesien en opgebou word.

 Het elke student afsonderlik ’n mentor, en hoe werk die program – gee bietjie meer detail?
Ons doelwit is om ’n een-tot-een mentorskapverhouding te hê. Ons is vinnig op pad om dit te bereik.

Die MOI Mentorskapprogram lewer ’n bykomende bydrae tot die vorming en ontwikkeling van leerders om hul volle potensiaal te verwesenlik. Dit is ’n tyd in tieners se lewe wanneer hul identiteit gevorm word en om iemand bietjie ouer langs hulle te hê (iemand wat pas uit die lewensfase kom waarin hulle tans is), vervul ’n kragtige rol in hulle groei tot volwassenheid en lewensmissie.

Die primêre fokus van die program is om leerders in hulle Graad 11- en 12-jare die nodige advies en blootstelling te bied wat hulle in staat stel om sodoende wyse keuses en besluite uit te oefen.

Die mentor is daar om die mentee te begelei en aan te moedig in hulle lewensbesluite/studierigting en selfs ook na matriek te ondersteun tydens hulle tersiêre studies.

Die behoeftes van leerders op hierdie vlak is nie homogeen of een-dimensioneel nie. In die breë benodig hulle egter oor die algemeen hulp en ondersteuning op verskillende terreine. Hierdie sluit in akademiese vaardighede; persoonlike, emosionele en geestelike groei; blootstelling aan en oriëntasie by tersiêre instellings; raad oor die verskillende studierigtings en vakke waaraan hulle moet voldoen en toelatingsvereistes vir spesifieke studierigtings; en ook werkblootstellingsgeleenthede – “job shadowing”.

Van die ander belangrike onderwerpe wat met die mentees bespreek word, is kort- en langtermyn doelwitstelling, hoe om verantwoordelikhede en teleurstellings te hanteer; keuse van vriende en groepsdruk in die skool, hul verhouding met God, en gemeenskapsbetrokkenheid.

Wat is alles op die agenda wat blootstelling aan die arbeidsmark betref?
Ons het onlangs ’n groep geneem om die Universiteit van Stellenbosch se opedag by te woon, en ons beplan ook ’n besoek aan Hugenote Kollege. Dan het ons gereël vir blootstelling aan ’n verskeidenheid van bedrywe. Ons het reeds die Wes-Kaapse Atterbury-span en ’n professionele projekspan bestaande uit argitekte en bourekenaars ontmoet om meer uit te vind oor die konstruksiebedryf; ons was by Bigen Africa se kantoor in Durbanville om van die ingenieursberoep te leer, en het by Heindrich Wyngaard besoek afgelê waar hy meer van ’n loopbaan in die mediawêreld vertel het.

Moedig julle die kinders aan om vakansiewerk te doen?
Ja, ons sien dit ook as ’n belangrike manier om die leerders bloot te stel aan die wêreld van werk, so ons skep so wyd moontlik vakansiewerkgeleenthede. In die Desembervakansie het ’n paar by die Babylonstoren wynlandgoed gewerk, en die Hungry Lion restaurant-ketting wat hul hoofkantoor hier in Stellenbosch het, het ook onderneem om leerders eersdaags op besoek aan al die afdelings te neem.

Is julle op soek na nog vakansiewerk-geleenthede? Wat word van potensiële werkgewers  verwag, en as iemand so ’n geleentheid het, wat moet hulle doen?
Ons soek beslis nog geleenthede. Ons verkies dat potensiële werkgewers ons direk kontak sodat ons die ouers en leerders voorberei. Gunstige werkstoestande en billike werksure word verlang.  Terugvoering vanaf die werkgewer aan die einde van die vakansiewerk oor hulle indrukke van elke leerder word verwelkom.

Ons voorsien die leerders van daaglikse vervoer na en vanaf werk asook hulle werkuitrustings. Leerders stel hulle CVs op en dit word aan die werkgewer gestuur tesame met hulle identiteitsdokumente (16 jaar en ouer). Dit was byvoorbeeld met die Babylonstoren-vakansiewerk, waarvoor die leerders vergoeding ontvang het, verblydend om te sien hoe verantwoordelik hulle was met die aanwending van hulle inkomste. Vakansiewerk leer hulle om betyds op te daag vir werk; uitvoering van pligte asook duidelike kommuikasie en rapportering aan hulle lynbestuurder rakende die uitvoering van take. Hulle bemeester tydbestuur en spanwerk.

Enige ander planne wat jy kan deel?
Ons reël in die komende Junie-Julie-vakansie twee wiskunde-programme, onder andere om die belangrikheid van suiwer wiskunde te beklemtoon, aangesien dit soveel deure oopsluit vir loopbaan-moontlikhede. Vir Graad 11s is daar ’n wiskunde-werkswinkel van 26 tot 30 Junie by Stellumthombo, ’n gemeenskapsorganisasie in Stellenbosch. Die fasiliteerders en organiseerders is afgetrede wiskunde-onderwysers met die passie en die vaardigheid. Hierdie projek is tans in sy tweede bestaansjaar en beoog om leerders se wiskundige vaardighede op te skerp.

Vir die Graad 9-leerders is daar op 13 en 14 Julie ’n wiskunde-wegbreek om diegene met potensiaal aan te moedig om voort te gaan met wiskunde in Graad 10 tot matriek. Dit word ook gefasiliteer deur ’n afgetrede wiskunde-onderwyser en belangrike beginsels en konsepte word vasgelê.

Herinner ons net weer hoeveel leerders in die program is, en hoe hul mees onlangse resultate lyk?
Op die oomblik het het ons 75 leerders in totaal, met twee in matriek, 20 in Graad 11, 24 in Graad 10, 12 in Graad 9 en 17 in Graad 8.

Hulle resultate vir die eerste kwartaal van 2023 (asook  einde van 2022) was bevredigend met meer as 70% wat slaag met Baccalareus.

Die effek van die Covid-pandemie kan ons nog duidelik sien in die huidige Graad 8s wat nuut is in die die hoërskool. Hulle aanpassing is groot en daarom werk ons saam met die hoërskole vir die addisionele aandag op skolastiese, emosionele en geestelike vlakke. Die Junie-eksamen is ’n belangrike aanduiding van leerders se akademiese vordering asook waar addisionele hulp nodig is.

Ons is besonder trots op Herchelle Christians, in Graad 10 by Jan van Riebeeck Hoërskool, wat ingesluit is in die Cambridge wiskunde-program. Herchelle is passievol oor wiskunde en die Cambridge-program sal hom in staat stel om reeds op skoolvlak anders te dink en sy insig rondom wiskunde word beslis bevorder.  Kritiese denke en probleem-oplossing is vaardighede wat Herchelle sal help indien hy beplan om verder te studeer in ingenieurswese of rekenaar-programmering.

Herchelle maak ons trots op vele terreine, insluitend leierskap, akademies en sport. Herchelle se woorde: “Tannie, my fokus is om my akademiese erekleure te verwerf in Graad 11.” Hy is beslis ’n groot aanwins vir Jan van Riebeeck Hoërskool en MOI ondersteun hom met trots!

Indien jy of jou organisasie vakansiewerkgeleenthede in die Wes-Kaap het vir MOI leerders of wil bydra om nog leerders op die MOI beursprogram finansieel te ondersteun, kontak vir Jenene Petersen by [email protected] of 021 012 7330. Alle bydraes tot die Atterbury Foundation kwalifiseer vir B-BSEB punte en ’n Artikel 18A-belastingsertifikaat word ook uitgereik.