Dis wonderlik om te sien hoe die Terugploeg-boodskap versprei, en die aandag van weldoeners  van oraloor trek. Lourens van der Linde is ’n Vrystater in murg en been met geen besonderse verbintenis met Pretoria en sy mense nie, maar toe Zahn Hulme van Atterbury Trust vroegoggend op RSG Landbou van Terugploeg vertel, het hierdie boer en sakeman sy hand diep in sy sak gesteek. LFC Meule het sover agt ton mieliemeel geskenk, en dit is bloot die begin. Ons het gaan kennis maak.

Is julle mielieboere ook, of waar kom die mielies vandaan wat julle by LFC Meule verwerk? Vertel ons meer van die besigheid, is dit ’n familiesaak, en wie is almal betrokke?
Ek was eers ’n mielieboer, ja, maar ek het in 1993 begin maal en toe die meule in Wesselsbron opgerig. Ons familieplaas is Klein Constantia, en ons familie is al van die 1880s hier – my seuns is nou die vyfde geslag. My ouma was ’n nooi Van Rensburg wat sowat 50 jaar na die Groot Trek saam met haar ouers hier aangekom het van Albertinia se wêreld af. Sy is getroud met my Oupa Van der Linde en hulle het op haar familiegrond hul lewe saam gebou. Ek het drie seuns: Lourens, Francois en Cobus – dis waar die naam van LFC Meule vandaan kom. Francois en Cobus is betrokke by die meule, en Lourens, die jongste, boer op ons plaas.

Wie is julle kliënte by die meule?
Ons bemark aan die groothandel regoor die land; al die grootwinkelkettings, en ons is ook die alleenverskaffer vir PicknPay se eie mieliemeelproduk – so as jy enige van die PnP Super Mieliemeelpakke landwyd omdop en soek vir die verpakkings- en vervaldatum, sal jy die LFC-kode daar sien… Ons lewer al lank vir hulle, maar het die kontrak vir die ekslusiewe eie produk al van ongeveer 2014 af.

Dit was ’n wonderlike skenking vir Terugploeg – agt ton mieliemeel gaan baie honger stil! Hoe het julle by die Terugploeg-inisiatief betrokke geraak?
Ek het eerste van die projek gehoor op RSG Landbou en toe op die Atterbury Trust se webwerf verder gaan kyk; dis maar deur my verbintenis met Henri Gelderblom van Dekker en Gelderblom, wat ons ingenieurs is, en wat weer op hulle beurt vir Louis van der Watt van Atterbury ken en baie jare al ingenieurswerk vir Atterbury doen. Ek het gesien dis ’n Afrikanersaak, wat hulp gee aan Afrikaners wat swaarkry. Ons is geseënd om oorvloed te hê, en as jy sien mense kry swaar en trek aan die kortste end, dra jy by waar jy kan.

Ons sien met Terugploeg dat baie boere so baie doen vir die gemeenskappe rondom hulle – is julle by ander welwillendheidsaksies ook betrokke?
In die ou dae was daar die Oranje Vrouevereniging, die OVV, wat nou Vrystaat Versorging in Aksie is – hulle doen ’n wye verskeidenheid van welsynwerk: voedselvoorsiening, maatskaplike hulp met sosiale probleme, en so meer. My vrou is daar betrokke en ons het ’n kombuis op die dorp wat ’n koekiebak-projek het waar ons werk verskaf en dan weer die koekies verkoop en so die projek aan die gang hou. Die Plaaskombuis op Wesselsbron verkoop die heerlikste outydse soetkoekies, gemmerkoekies, noem maar op – hulle verkoop ook Kerskoekies en ons het toevallig verlede jaar met die feestyd vir Atterbury ‘n blik Kerskoekies geskenk as ‘n welsynsgebaar; om vir die personeel uit te deel.

Wat maak die Terugploeg-inisiatief besonders, in jou opinie; hoekom is dit een wat jy spesifiek gekies het om te ondersteun?
Dit was juis omdat ek gesien het dat dit ten bate van die hulpbehoewendes is; die staat help nie hierdie mense nie, en hier is ‘n inisiatief wat omgee vir spesifiek behoeftige Afrikaners.

Wat reken jy is die rol van die private sektor in die opheffing van die gemeenskap?  Hoekom dink jy dit is belangrik dat instansies soos die Atterbury Trust, LFC en Vibro en ander saamstaan om inisiatiewe soos Terugploeg te vorm?
Ek dink dit is ‘n kwessie van dankbaarheid. Veral vir dié van ons wat by die landbou betrokke is, ons lewe van die natuur en ons is afhanklik van ons Skepper; so as dit met jou goed gaan, is daar groot blydskap. Mens is dankbaar as dit goed gaan met die landbou en dit is net natuurlik om nie alles vir jouself te wil hou nie. Ja, jy moet altyd jou besigheid groei, en nie staties bly nie, maar jy bly ook getrou aan jou geloofsbeloftes.

Hoe ver dink jy kan so ’n projek gaan? Waar sal jy graag vir Terugploeg wil sien in die toekoms, en is jy van plan om betrokke te bly?
Ek reken, as jy vandag se ekonomie in ag neem, dat daar nie ’n einde aan sulke projekte gaan wees nie; ons sal moet betrokke bly met welsynshulp en bystand. Ek sal beslis deurlopend nog wil gee, en ek hoop dat daar in die toekoms in die Vrystaan ook soortgelyke projekte kan ontstaan.