Op 24 is Atterbury Trustbeursstudent en Tukkie Ranier van Heerden besig met sy Veekunde-meestersgraad in dierevoeding; waarvoor hy die melkproduksie van Jerseykoeie bestudeer het, onder andere ook tydens ’n onlangse studiebesoek aan een van die wêreld se top veeartsenykunde-universiteite, die Davis kampus van die Universiteit van Kalifornië. Sy droom is om ’n wêreldklas voedingkundige te word, en niks gaan in hierdie baanbreker uitblinker se pad staan nie. Hy vertel die storie van sy reis na sy droom, in sy eie woorde.
“My reis het begin toe ek einde 2013 met ’n matrieksertifikaat in die hand staan met ’n droë keel en ’n duisend vrae. Daar was soveel onsekerheid oor my toekoms. Hoe sou ek dit regkry om doelwitte en drome vir myself te vorm binne my persoonlike omstandighede?
“Ek het in 2013 gematrikuleer by Hoërskool Warmbad in Warmbad, Limpopo, ’n klein vakansiedorpie in die Waterbergdistrik. Ek het keuring by die Universiteit van Pretoria gehad; en moes skouer aan die wiel sit om die beste uitslae moontlik te behaal. My fondasie moes ek bou op die idee dat geleenthede na my toe sal kom na gelang van wat onderaan my matrieksertifikaat staan.
“Finansies – dis waar talle mense se drome, ideale en ongemynde talente verlore gaan. Ek was baie amper een van daardie mense, want dit was ongelukkig net die kaarte wat my toegedeel is. Daar was net nie geld vir universiteitstudies nie, maar ek was vasberade om dit bloot te beskou as ’n struikelblok om te oorkom… Ek is gedrewe en passievol, en het besluit om die beste van die saak te maak. Wat is dan so erg om vir twee jaar by ’n mynmaatskapy in Northam, Thabazimbi te gaan werk en te spaar totdat ek my droom kon najaag?
“En toe: die oproep, Atterbury Trust van Tannie Louise. Na hordes afgekeurde aansoeke het hierdie oproep alles verander.
“Diep waters van geleenthede… ek het in 2014 begin om BSc Agric Veekunde te studeer by UP. Tot op daardie punt was my fokus nie op duidelike gedefinieerde doelwitte nie, dus het ek myself baie vinnig leer ken. Veekunde was my keuse omdat ek vertroue gehad het in my passie vir diere, natuur en boer; en ek het gevoel my vermoëns val iewers daar in.
“Dit was van meet af aan baie duidelik dat ek die beste van hierdie wonderlike geleentheid moes maak en so hard as moontlik werk. Dit was egter eers in my vierde jaar dat dit vir my duidelik geraak het hoekom Veekunde op my pad gekom het. Hierdie studieveld is baie divers, met ’n fokus op dierevoeding, produksie, voortplanting en genetika. Die praktyk hiervan het vir my bevestig dat ek presies was waar God beplan het om my te plaas. Pas na my eindeksamen het ek aansoek gedoen vir ’n Meestersprogram, en was so gelukkig om een van slegs twee studente te word wat jaarliks gekeur word in die veld waarin ek my wou bekwaam, naamlik herkouer-voeding.
“Nadat ek my BSc Agric Veekundegraad in 2017 verwerf het, het ek die MSc Agric Voeding in 2018 aangepak, waarmee ek tans besig is. Ek wil ’n wêreldklas voedingkundige word; en my studie ondersoek die melkproduksie van Jerseykoeie en hoe voeding daarop inwerk. Die motivering vir hierdie studie is onder andere om die impak van melkplase op die omgewing te verlaag, melkproteïene te verhoog, en melkproduksie te verhoog. Die landboubedryf is onder geweldige druk vanuit ’n ekonomiese, sosiale en omgewingsoogpunt, en daar word gereeld maniere gesoek om die vertikale integrasie van hierdie sektor meer effektief te bestuur. My studie was die eerste van sy soort in Suid-Afrika, so daar is werklik geen navorsingsiteratuur beskikbaar nie.
“Dit is juis hieroor dat ek in Maart vir ’n maand ’n uitreikingsbesoek gaan aflê het by die Universiteit van Kalifornië in Davis, wat ’n baie gespesialiseerde laboratorium en kundiges in die veld het, waar ek die nodige ontledings vir my studie kon gaan doen. Die besoek is moontlik gemaak deur befondsing deur die Weskaapse landbounavorsingstrust en ’n privaatmaatskappy omdat ek splinternuwe, waardevolle data daar sou kon versamel. Dit was ’n ongelooflik interessante en leersame ervaring, veral die skaal waarop boerdery daar plaasvind en waarbinne navorsingsgeleenthede bestaan – om te doen te kry met melkproduseerders wat op enige tydstip meer as 9 000 koeie in een area het! Die mense wat ek ontmoet het en almal se verskillende stories was ’n hoogtepunt.
“Ek is tans besig om my skripsie te skryf, en het intussen ook met boerbokke begin boer. My ouer broer ondersteun my geweldig baie, en ek is so dankbaar vir my familie. Die belangrikste les wat my ouers my geleer het, is dat alles in ’n mens se lewe met ’n doel gebeur; en dat ’n mens altyd die beste weergawe van jouself, en eerlik en lojaal wees. Dit is waarna ek strewe.
“Wat Atterbury Trust betref, ek kan nie genoeg sê om my dankbaarheid uit te druk nie. Alles wat ek tot nou bereik het is te danke aan die Atterburyfamilie, wat nie net drome waarmaak nie, maar wat mens aanspoor tot nuwe hoogtes. Al die beursstudente het hul eie uitdagings om te oorkom, en wat die Trust doen, en wat die skenkers wat bydra tot die beursfonds doen, is onmeetbaar. Bydraes soos hierdie kan mense en hele industrieë verander; en het ’n sneeubal-effek wat duisende studente en visioenêre se lewens kan verander.”
Skenkers kan besluit op die studievelde waar hul donasie aangewend sal word, en belastingvoordele kom saam met elke donasie. As jy ’n jongmens soos Ranier wil help om nuwe wêrelde te ontgin en oplossings te vind vir die kwessies wat ons almal in die toekoms sal raak, word gerus deel van ons skenkersfamilie. Kliek hier om meer uit te vind.