Dit was pas weer die spesiale jaarlikse byeenkoms in die wynlande van Stellenbosch, waar Atterbury Trust en Jean Engelbrecht van Rust en Vrede weldoeners onthaal met ’n eiesoortige aand van musiek en goeie wyn. Ons gesels met uitvoerende trustee, Zahn Hulme in haar kantoor in Stellenbosch.

Versnit is vir die eerste keer in 2012 aangebied en sedertdien, met uitsondering van 2021 toe Covid-beperkinge in plek was, nog elke jaar. Hoe het hierdie spoggeleentheid oor die afgelope 11 jaar bygedra tot Atterbury Trust se werksaamhede?
Versnit het oor die afgelope 11 jaar ontwikkel tot Atterbury Trust se grootste enkele fondsinsamelingsinisiatief. Daar is byvoorbeeld in 2022 meer as R 3 miljoen se donasies op die aand ingewin. Versnit het ook ’n Stellenbosse instelling geword – wat dan nou beter as om ’n Saterdagaand in laat Januarie op die mooie Rust en Vrede se grasperk na asemrowende musiek te luister – die berge te sien kleur verander met ’n glasie van die beste rooiwyn in jou hand? En behoeftige kinders kry boonop die geleentheid om verder te studeer.

Hoekom dink jy is Versnit jaar na jaar so ’n sukses? Is daar ’n wenresep?
Na my mening is daar is ’n paar faktore wat bydra tot die sukses. Die Rust en Vrede landgoed het een van die heel mooiste historiese Kaapse opstalle – in Januarie groei die krismisrose hemelhoog, die druiwe is ryp en Jean maak van die beste rooiwyn in ons land. Die tyd van die jaar – almal is net terug by die werk, kinders terug in die skool of universiteit en die vooruitsig van ’n bietjie van ’n breek van die harde realiteit is baie aanloklik. Die kwaliteit van die vertoning –Matthys Maree, Alexa Stracham, Clarissa Meyer en Elri Mans van Cotton Events en elke kunstenaar betrokke dra by tot ’n voortreflike aand. En natuurlik die “Vriende van Versnit”. Lojale donateurs word jaar na jaar genooi en bykans almal op die lys van genooides, is daar. Dis lekker om te sien hoe mense mekaar met oorgawe groet en heerlik saamkuier.

As jy terugdink oor die jare, kan jy twee hoogtepunte uitsonder wat besonder baie beteken het?
Een van my persoonlike hoogtepunte was beslis by Versnit 2022 – Karen Zoid het “As musiek begin speel” gesing en my man en my jongste seun (wat by Versnit gewerk het) was langs my. Die woorde van daardie lied wat Karen vir haar eie seun geskryf het, is deel van my lewensmotto: “My seun jy moet luister wat ek vir jou sê, jy gaan eendag moet veg met als wat jy het. Soms gaan jy voel, wat is die doel? Genoeg is genoeg. En as jy ooit voel die lewe is een groot gesuffer, reik jou hande uit en help ’n ander met minder as jy, gaan maak iemand bly, want dan sal jy altyd kan saamsing as die musiek begin speel en dans in die somer se reën…” Dit was ook die jaar waarin die Stellenbosse universiteitskoor opgetree het – ’n onvergeetlike prentjie toe daardie pragtige klomp energieke jongmense op die trappe van die herehuis gestaan en uit volle bors gesing het.

Daar was ook ’n jaar, ek dink 2013, toe ons letterlik die maan laat opkom het oor die wingerde. Daardie prentjie sal vir enig in my gedagtes ingeprent bly.

Is daar kunstenaars wat al van die begin af elke jaar deelneem? Hoe kies julle die kunstenaars elke jaar?
Daar is definitief ’n paar kunstenaars wat bykans elke jaar deel is van Versnit – mense soos Stef Bos, Elvis Blue, Karen Zoid, Corlea om maar ’n paar te noem. Daar word ook elke jaar ’n “nuweling” – jong opkomende kunstenaars – ’n kans gegee. Johan Badenhorst, die man met die fluweelstem, is ook van die eerste jaar af ons compere by Versnit.

Daar word gepoog om elke jaar ’n unieke vertoning aanmekaar te sit, juis omdat feitlik dieselfde gehoor die vertoning bywoon. Matthys en Alexa kry dit reg om elke Versnit spesiaal te maak en daar is elke jaar verrassings – met die orkes of strykers of ’n nuwe kunstenaar wat ingesluit word; duette, kombinasies van kunstenaars en ’n mengsel van immergewilde liedjies asook interessante splinternuwe toonsettings.

Daar word jaarliks ’n toekening gegee vir ’n besondere bydrae tot die Afrikaanse kultuurskat – mense soos wyle PG du Plessis, Sandra Prinsloo, Koos Kombuis en Laurika Rauch het dit al ontvang. Wie is vanjaar bekroon?
Stef Bos het vanjaar die toekenning ontvang en het dit met soveel grasie ontvang. Hy het sy storie gedeel – hoe Johannes Kerkorrel se Hillbrow hom na Afrikaans en Suid-Afrika toe getrek het, en verantwoordelik is dat hy ’n Afrikaanse vrou en drie Afrikaanse kinders het!

Ek deel sommer hierdie stukkie wat hy ’n aantal jare gelede na ‘n Versnitkonsert geskryf het:

Agter die verhoog

Kort voor jy gaan sing

Die son gaan onder

En jy sien die berge in die verte in ‘n betowerende lig

Die eerste sterre verskyn

Jy voel klein

En dis die beste ding om te voel

Wanneer jy moet sing

Dit is Versnit

Onbeskryflik

Wonderlijk

Eenmalig

 ’n Wijnplaas waar die tyd stil staan

Die goeie geselskap van Jean Engelbrecht

En ’n gehoor soos oop arms

Wat woorde en musiek laat tuiskom

 Dit staan in my top 10 van verhoogervarings.

En is daar weldoeners wat jy wil uitsonder, wat dalk elke jaar skenk, dalk al elke jaar geskenk het van die begin af?
Daar is beslis ’n hele aantal baie lojale donateurs, wat jaar na jaar ’n betekenisvolle bedrag gee – ver meer as R100 000. Hulle weet wie hulle is, en ek sou verkies om nie name te noem nie. Ons hou noukeurig rekord van elke donasie, aangesien ons Artikel 18A-sertifikate uitreik vir die belastingaftrekbare donasies.

Lexus en Toyota dra jaarliks ook bykans R500 000 by en Atterbury Property R380 000 – dit help ons om ’n groot deel van die direkte Versnitkostes te delg. En dan natuurlik word Rust en Vrede se werf met al die heerlike wyn, versnaperinge en water deur Jean Engelbrecht van Rust en Vrede verskaf.

Was daar vanjaar met Atterbury Trust se 25ste jaar, ’n spesifieke oorweging met Versnit – hetsy die boodskap, of wat beoog word met die opbreng, of op enige ander gebied?

Atterbury Trust het nou ’n kantoor in Stellenbosch waar ons ook met nuwe donateurs en organisasies wil hande vat. Ons wil ook inisiatiewe soos Terugploeg en Triomf vestig in die Wes-Kaap en daardie boodskap is vanjaar sterk oorgedra.

As jy ’n donasie wil maak om by te dra tot die werksaamhede van die Atterbury Trust, kliek op Donasiewinkel/Versnit2023 of kontak [email protected].