Van kleintyd af wou Atterbury Trust beursstudent Xzania Watkinson ’n verpleegster word, sodat sy mense kon help. Die 23-jarige het aan die einde van 2019 haar vier jaar as ’n B Cur Verpleegkunde-student by NWU se Potch kampus afgesluit as een van die top 20 in haar jaargroep. Die slimkop het haar toekomsplanne met ons gedeel…

Vertel ons ietsie van jou agtergrond en gesinsopset.
Ek het by Hoërskool Hugenote in Springs matriek geskryf, en ek het ‘n ouer broer en jonger sussie wat albei in menslike hulpbronne  werk. My ma is ’n finansiële beampte en my pa is ’n voorman. Ek het in my ouerhuis gebly tot nou, maar trek binnekort Witbank toe vir my gemeenskapdiensjaar.

Vertel ons van jou buitengewone naam – is daar ’n storie daaragter?
My ma het my vertel dat Zania sonskyn beteken. Sy is geskei van my biologiese pa terwyl sy swanger was met my, en het toe besluit sy sit die X vooraan my naam vir die sonskyn uit haar verlede. Sy is weer getroud en haar tweede man is die pa wat my grootgemaak het.

Hoe het jy destyds by die Atterbury Trustbeurs uitgekom? Het jy enige ander opsies vir befondsing gehad as dit nie sou uitgewerk het nie?
Ek het by ’n vriendin, wat reeds een van Atterbury se beursstudente was, daarvan gehoor. My ouers het by verskeie banke vir studielenings aansoek gedoen maar ons is by almal afgekeur. As dit nie vir Atterbury Trust was nie, sou ek heel waarskynlik moes opskop.

Hoekom het jy Verpleegkunde gekies – was dit ’n kinderdroom?
Ek wou van kleinsaf ’n verpleegster word. My ouma was ook die matrone van Welkom se hospitaal. Dis vir my die grootste voorreg as ek aan die einde van die dag kan sê ek het iemand gehelp, al was dit iets kleins.

Wat was jou gunsteling deel van jou kursus?
Ek het altyd die praktiese ervaring die meeste geniet. Van my eerste tot derde jaar het ek twee keer weekliks van 7:00 tot 16:00 gewerk, en elke tweede naweek 7:00 tot 19:00. Ons het ook tydens vakansies 7:00-19:00 gewerk om te verseker dat ons die vereiste 4 000 ure se ervaring opdoen wat die SA Verpleegstersraad vereis om te kan kwalifiseer.

Wat was vir jou die moeilikste aspek van die kursus?
Dit was baie moeilik as jy die volgende dag ’n toets skryf – soms twee toetse! –  as jy sopas ’n 7:00-16:00 gewerk het! En dit kom saam met die werk, maar soms verloor jy ’n pasiënt en daardie dae was altyd ekstra moeilik.

Ons hoor jy het deelgeneem aan ’n projek met die Phelophepa Train of Hope, wat as ’n mobiele kliniek gesondheidsorg na afgeleë plattelandse dorpies neem. Kan jy ons meer vertel?
Die Top 20 in ons finalejaargroep is hiervoor gekies en ons is in twee groepe verdeel. Ons groep is vir twee weke in Julie Polokwane toe. Op die trein is verskeie dienste aangebied: sielkundige berading, ’n tandarts, ’n oogarts en ’n gesondheidskliniek. Ek het in die gesondheidskliniek gewerk waar ons op ons eie pasiënte moes ondersoek, diagnoseer en behandeling voorskryf of verwys na die hospitaal indien nodig. Elke geval is agterna met die geregistreerde verpleegster bespreek, en sy moes op elk van ons pasiënte afteken. Ons het soms ook in die gemeenskap ingegaan as mense nie tot by die trein kon kom nie – een keer na ’n laerskool en ’n ander keer na ’n ouetehuis. Ons het op die trein gebly… dit was een van daardie ervarings waar jy nie werk en huis van mekaar kon skei nie!

Wat was jou blywende indrukke van die projek – is dit iets wat jy weer sal wil doen?
Baie beslis. Dit het my oë oopgemaak vir hoe groot die nood daar buite is, en hoe baie armoede daar werklik is. Party mense het twee nagte op die stasie geslaap net sodat hulle ons kon sien. In die twee weke het ons net in in die gesondheidskliniek op die trein 1 300 pasiënte gesien. Ek is so bevoorreg om deel te kon wees en ’n verskil te kon maak.

Waar hoop jy om oor vyf jaar te wees – wat is jou toekomsdroom?
Vanjaar (2020) doen ek my gemeenskapsdiensjaar, en daarna wil ek baie graag vir ’n jaar vir Dokters sonder Grense gaan werk. Ek wil ook spesialiseer in intensiewe sorg, wat ’n verdere twee jaar sal neem. Maar ek weet verseker dat my hart lê om te werk in ’n staatshospitaal waar ek baie meer mense kan help.

Wat sou jou boodskap wees aan mense wat oorweeg of hul ’n skenking moet maak aan die Atterbury Trust Beursfonds? Wat beteken die beurs vir jou?
Dit beteken so baie… sonder die beurs sou ek nie vandag gewees het waar ek nou is nie. My drome is besig om waar te word; ek het vier jaar se waardevolle kennis opgedoen en kan elke dag mense help danksy hierdie geleentheid wat ek gekry het om te studeer. Met my storie wil ek elkeen wat in die posisie is om ’n bydrae te maak tot iemand se toekoms aanmoedig om iets te skenk sodat iemand anders se drome ook waar kan word.

Elke skenking aan die Atterbury Trust beursfonds is geregtig op ‘n Artikel 18A-belasting-sertifikaat. As jy wil bydra en iemand se lewe verander, kliek hier.