As ’n plaasnooientjie van Loxton in die Karoo, ken Beulah van den Heever van droogte. Sy noem die Atterbury Trust beurslening haar reën, en het met finansiële ondersteuning van die trust twee grade by Noordwes Universiteit verwerf, minstens een cum laude. Ons het hierdie uitblinker van nader leer ken.

Hoe het jy as Karookind by Noordwes beland, en van die Atterbury Trust se beursgeleenthede te hore gekom?
My ma het op die PUK geswot en het my altyd haar universiteitstories vertel. Ek het boonop plek in die koshuis gekry, en as iemand wat van Graad 1 in ’n koshuis was, is dit al wat ek ken. Ek het van Atterbury Trust se beurse te hore gekom omdat hulle ook in Loxton hulp gee aan Deon Meyer se Ek Leef Trust waarby my ma betrokke is. Ek is regtig dankbaar dat ek in die Noordwes beland het, want die mense wat ek ontmoet het, die vriende wat ek gemaak het en al die herinneringe is van onskatbare waarde.

Vertel ons iets van jou gesin, en die plaas waar jy grootgeword het.
Ek is die oudste van twee kinders – my boetie, Marthinus, is 20 en gaan volgende jaar op Elsenburg landbou swot. My ouers, Melt en Nicolette, boer deesdae met pasteie! Tydens die droogte moes ons al ons skape skuif na ander boere wat gewillig was om te help met weiding en so het my ma en pa se pasteibesigheid ontstaan. My ma se pasteie het destyds ’n kompetisie gewen en my pa sien toe ’n sakegeleentheid. Die besigheid het so gegroei dat hulle selfs kon werk skep en so minderbevoorregte mense help. My hart bars van trots vir my ouers en my boetie wat soveel sukses gebou het op iets wat hulle in ‘n moeilike tyd van niks af begin het nie.

Wat het jy as kind gedink wil jy “eendag” word en hoe vergelyk jou huidige paadjie met daardie kinderdroom?
Ek wou altyd ’n sielkundige geword het, en het my BCom-graad in Bedryfsielkunde en Organisasiebestuur met Arbeidsverhoudinge vroeër vanjaar behaal. Bemarking was een van my bedryfsielkunde-vakke, en ek het dit baie geniet en in 2021 besluit om dit by te swot. Ek het pas ook my BCom Bestuurswetenskap met Bemarking voltooi. My paadjie het aansienlik verander vanaf waar ek begin het, maar met al hierdie bykomende vaardighede en kennis het ek ongelooflik gegroei en myself op verskeie vlakke beter leer ken.

Ons hoor jy het ’n pos gekry op ’n kommersiële plaas van Januarie 2023 af. Watter soort boerdery is dit, en waarna sien jy die meeste uit?
Lyk my jy kan my van die plaas afhaal, maar jy kan nie die plaas uit my haal nie! Ek gaan vanaf volgende jaar werk as menslike hulpbronne- en bemarkingsbestuurder vir Castello Boerdery in Potchefstroom, waar diverse gewasse verbou word, vanaf mielies en aartappels tot beeste. Ek sien vreeslik uit en kan nie wag om dié nuwe seisoen van my lewe te begin nie. Ek sien uit na al die uitdagings en die mense wat ek gaan ontmoet en by wie ek sal kan leer.

Die Karoo het vir Deon Meyer en Coenie de Villiers geïnspireer om Karoo Suite te skep, waaruit twee pragtige koffietafelboeke voortgevloei het en vir Atterbury Trust geïnspireer het om dit te omskep in opleidingsgeleenthede vir Karookinders. Wat beteken die Karoo vir jou, en wat het hierdie beurs vir jou beteken?
Die Karoo sal altyd my huis bly. Ek is bevoorreg om daar te kon grootword, weg van die gejaag, waar mens leer om die klein dingetjies in die lewe raak te sien en te waardeer. Die mense is warm Jesusmense wat weet waar hul krag vandaan kom. Dit is ’n gemeenskap wat saamstaan in swaarkry, maar ook saam dans in die reën. Die Atterbury Trust beurs het vir my ’n kans gegee waarvoor ek oneindig dankbaar is. Die beurs was my reën – al het dit nie fisies op die plaas gereën vir agt jaar nie, het dit op ander maniere kom reën. Dit het vir my die geleentheid gebied om te kon swot en my talente en liefde vir die lewe uit te leef.

Ek wil die Atterbury span bedank vir alles – dat hulle altyd bereid is om te help, maak nie saak hoe groot of klein die probleem is nie. Dankie dat julle my hand gevat het en saam met my die pad gestap het. Te danke aan julle is ek twee grade ryker, maar dit was nie net ’n beurs nie, julle het familie geword.

Atterbury Trust bied beurs- en ander opleidingsgeleenthede aan kinders van die Karoo, en verwelkom alle bydraes. Vind meer uit oor hoe jy kan help om iemand se toekoms te verander.