Die Boersaam inisiatief is in April 2022 geloods om volhoubare hulp aan behoeftige gemeenskappe te kan befonds, onder die vaandel van Atterbury Trust en Terugploeg. Lood Bester, die brein agter die inisiatief, vertel meer.

Van waar het die Boersaam-gedagte ontstaan – kan jy ‘n bietjie agtergrond gee?
Ons het in die grendeltyd die geweldige behoefte gesien onder arm Afrikaanse gemeenskappe, en het met ons vriende in die boerderybedryf gesels oor wat ons kon doen om te help. So is Terugploeg gebore waar ons vragte landbouprodukte by boere kry om te versprei in plakkerskampe en onder arm gemeenskappe. Dit het geweldig gegroei – ons het tot op hede (aantal) maaltye versprei – en in die proses het ons nou ons eie perseel, en ons het personeel aangestel om die kos te verwerk. Daar is uiteraard maandelikse oorhoofse kostes om Terugploeg se bedrywighede aan die gang te hou, en Terugploeg het nou ‘n volwaardige besigheid geword, wat ’n permanente inkomstestroom nodig het om volhoubaarheid te verseker. Terugploeg moet groter wees as die stigters, sodat dit vir baie jare nog kan voortgaan om kos te voorsien aan die mense wat dit die nodigste het. So het ons op die idee gekom om kuddes beeste te vestig, met die befondsing van skenkers, en dat die jaarlikse aanwas van kalwers dan in kontant omgesit kan word wat beide die oorhoofse kostes kan dek en ook verder voedsel kan voorsien. Ons het dit Boersaam gedoop – ’n projek wat binne Terugploeg deur Atterbury Trust bestuur word, met elke sent wat hieruit gemaak word, wat in die projek teruggeploeg word.

Dit is afgeskop met 20 beeste, is ek reg? Hoeveel is daar nou al in totaal?
Dis reg, ons het begin in die Rustenburg area waar ons ‘n byeenkoms gehou en mense uit die sakegemeenskap gevra het om donasies te maak. Ons het toe die eerste kraal op die plaas van ‘n boer in Rustenburg gevestig en 20 beeste gekoop met die donasies.  Die idee is ook dat dat elke kraal se opbrengs sal aangewend word in behoeftige gemeenskappe daar rondom, sodat die skenkers in ‘n bepaalde gebied ’n verskil maak in hulle eie omgewing. Ons tweede kraal is toe in Bela Bela gevestig en die derde een in die Kalahari naby Askham. Ons het op die oomblik omtrent 60 verse wat reeds gevestig is, met oor-tags in, gemerk as Terugploeg, hulle is op die databasis en word baie goed bestuur deur die betrokke boere. Ons het ook omtrent R300 000 kontantskenkings in die bank, wat aangewend sal word in die vestiging van ‘n  volgende kraal.

Hoe is besluit waar om die kuddes te vestig, en waar wil julle volgende wees?
Die krale word gevestig waar die geld vandaan kom, sodat die mense wat die kontant gee die betrokkenheid kan hê in hulle gemeenskappe. Die boere op wie se plase ‘n kraal gevestig word, word as Boersaam boere geakkrediteer en hulle gee hulle tyd, grond en kundigheid verniet, so ons moet natuurlik die regte mense identifiseer. Hulle sal reeds bestaande beesboere wees, met die nodige infrastruktuur, met stoetbulle wat die Boersaam verse kan dek. As ons so ‘n boer geIdentifiseer en aan boord gekry het, reik ons dan uit na die sakegemeenskap in die area vir die volgende stappe – nie net om geld in te samel nie, maar ook om hulp te begin verskaf in behoeftige gemeenskappe in die gebied. Die volgende kraal word beplan in die Vrystaat in die eerste kwartaal van vanjaar, en dan ook nog een in die Wellington area in die Wes-Kaap.

Wanneer word die eerste kalwers verwag?
Dar is twee modelle soos die projek ontwikkel het. Die eerste kalwers uit ons krale word verwag in die derde kwartaal van 2023 in Rustenburg en daarna kom die volgende klompie in die Kalahari, maar die boer wat die Bela Bela-kraal bestuur, gee elke jaar vir ons ‘n bykomende 15 koeie, wat reeds dragtig is, by. Soos hierdie kalwers gebore word, verkoop ons hulle en die koeie word dan geskuif na van die ander krale wanneer die boer 15 nuwe koeie skenk vir die Bela Bela kraal.

Hoe lyk julle planne vir 2023?
Soos ek genoem het, is die Vrystaat en die Wes-Kaap ons volgende doelwit, en dan mik ons na die Marble Hall-area en Letsitele in Limpopo – so ons wil graag vanjaar nog vier nuwe krale vestig wat elk 20 beeste het. Soos die beeste aanteel, gaan dinge baie vinnig groei – dis ‘n kumulatiewe effek wat stadig begin, maar as hy eers loop sal dit vinniger en vinniger groei. Die boere wat na 20 beeste kyk, gaan in effek na 40 beeste kyk die oomblik as die kalwers gebore word, want ons moet hulle eers kry tot speenouderdom voor ons hulle kan verhandel of na ander krale skuif.

Hoe raak mense deel van Boersaam?
Boersaam is oop vir enige lid van die publiek wat wil deelneem. Ons weet ons werk met mense se geld, en ons neem dit baie ernstig op en dit is hoekom ons deur die Atterbury Trust werk wat al vir die afgelope 25 jaar ‘n geloofwaardige rentmeester is sodat jy met volle vertroue kan weet elke sent word aangewend om beeste te koop. Jy kan van so min as R10 000 skenk vir een bees, of soveel soos jy wil, en enigiemand wat met ons wil ontmoet en moontlikhede in hulle areas bespreek, kan my direk kontak. As ons eers ‘n bees met jou geld gekoop het, word jy ingelig as ’n kalf gebore word; Boersaam word soos ‘n boerdery bestuur met deursigtige databasisse en balansstate. En ook, die donasie wat jy maak is 100% belastingaftrekbaar; ons reik ‘n A18- belasting sertifikaat aan jou uit.

Vir meer inligting, kontak vir Ananja Koen by Atterbury Trust of Lood Bester by 082 9251118 of [email protected].