’n Teater is ’n plek van drome, ’n ingewikkelde en verweefde stelsel van boukundige towerwerk wat saamspan om te sorg dat ek en jy wat ons kaartjie koop en terugsit as die ligte afgaan, kan glo daar is ’n ander wêreld wat hom op die verhoog afspeel. En om ’n nuwe teater van die grond af te bou, is ook nie sommer enige dag se kap en timmer nie. Vra maar vir Gerrit van den Berg, ontwikkelingsbestuurder van Lynnwood Bridge, en die Atterbury Teater.
Die teater was van die begin af ’n ankerelement toe die Lynnwood Bridge sentrum beplan is, iets waaroor Atterbury medestigter Louis van der Watt sterk gevoel het. “Laurika Rauch het die lot van Afrikaanse kunstenaars by Louis bekla – die probleem dat daar by teaters in staatsbesit relatief min tyd ingeruim word vir Afrikaanse optredes,” verduidelik Van den Berg. “Die talent is daar en die aanvraag is ook daar, maar daar is nie altyd teater-ruimte en –tyd beskikbaar nie. Ek glo dit was deel van die beweegrede om ‘n teater te bou waar Atterbury as kunste-ondersteuner self kon besluit wat op die planke kom.”
Die projekspan het ’n recce gaan doen in Londen se legendariese West End teaterdistrik, en talle teaters besoek om ’n duidelike beeld te vorm van wat hulle met hulle splinternuwe teater wou doen, sê Van den Berg. Die argiteksfirma Studio 3 Architects International het al die behoeftes in ag geneem, en met die luukse van moderne tegnologie tot hul beskikking ‘n teater ontwerp wat intussen al ’n prys gewen het vir innovasie in die ontwerp van die plafonne in die teater.
Akoestiek was een van die grootste uitdagings, iets wat nie by meeste bouprojekte juis veel aandag verg nie, maar wat kennelik van uiterste belang is vir ’n teater. “Planet Fitness is reg onder die teater, so daar is van meet af aan bouplanne gemaak om die doef-tss van gimnasium-musiek uit die teater te hou,” sê Van der Berg. ’n Dubbele betonblad met polistireen tussenin het die vloer van die teater gevorm. En elke element in die teater is getoets vir akoestiek. ’n Akoestiese ingenieur is ingebring om seker te maak dat die klank van die hoogste gehalte sou wees. “Alles moet getoets word vir die effek wat dit op die akoestiek het,” verduidelik Van der Berg. “Tapyte, die gordyn, die plafon, die stoele; selfs die onderkant van die stoele! Akoestiese panele is geinstalleer en die konstruksie van die plafon het baie tyd en kundigheid geverg.”
Die ander uitdaging wat hom soms slapelose nagte gegee het, is siglyne… ook ’n bou-uitdaging uniek aan ’n teater. “Om seker te maak dat elke ou in elke stoel die hele tyd alles sien wat op die verhoog aangaan, klink dalk eenvoudig, maar dan kom jy agter ’n handreling hier, of die hoogte van die trappies daar, of die wydte van die paadjie, is skielik in die pad van iemand se siglyn. Ons moes telkemale afbreek en oordoen as ons agtergekom het iets meng nou in met die siglyne. Maar waar daar fout opgetel is, het ons dit reggemaak; en seker gemaak dat die endresultaat werk. Geweldig baie fyn detailwerk is geverg om seker te maak alles is perfek: behalwe siglyne en akoestiek ook beenruimte, waar en hoe die ligte hang op die verhoog, wat by wat moet kan verbybeweeg…”
Omdat die teater ook van meet af aan sou bemark word as konferensiefasiliteit, is daar spesiale stoele met uitvoutafels, soos dié in vliegtuie, in die eerste paar rye geinstalleer. Sodoende is daar gemaklike skryfplek vir konferensiegangers. En dit was ’n baie goeie belegging, want die teater het vining ’n gewilde konferensiespasie in Pretoria geword, wat bedags gons met konferensies, en saans die deure oopgooi vir vermaak.
‘n Verdere ekstra is die hipermoderne opname-ateljee met toerusting uit die boonste rakke waar kunstenaars musiek kan opneem, en alle klankmeng en produksie nodig vir ’n album kan uitvoer, onder een dak. Die ateljee het ’n venster wat uitkyk op die verhoog sodat daar ook lewendige opnames van optredes op die verhoog gemaak kan word.
Twee private kleedkamers vir hoofkunstenaars en ’n sentrale kleedkamer wat ondersteunende kunstenaars kan deel is ingerig, en ’n baie belangrike byvoeging was die rokersbalkon wat na buite uitkyk, want soos dit nou maar gaan moet artieste hulle krukkie kan aansteek of daar is groot ongelukkigheid!
Die bouproses het ongeveer 18 maande geneem, dieselfde projektyd min of meer as die res van Lynnwood Bridge, aldus Van den Berg. In die tyd het heelwat kunstenaars kom kyk, kom raad gee uit ’n kunstenaars-oogpunt en saam opgewonde geraak oor die nuwe teater in wording. En toe alles uiteindelik klaar is, het die einste Laurika Rauch die teater op 18 Mei 2011 geopen met ’n opvoering wat sy spesiaal saam met Johan Badenhorst vir Atterbury geskep het. “Stuur Groete vir Mannetjies Roux” het 24 aande gedurende die openingsmaand die applous laat dawer en elke vertoning was stampvol.
Die Atterbury Teater is ’n klassieke konsertsaal spasie wat net eenvoudig werk, vir kunstenaars sowel as vir gehore. Die vloei werk, die vermaakarea in die voorportaal werk, waar die gehoor inkom en vooraf kuier werk; wat agter the verhoog aangaan, werk vir die kunstenaars. Talente soos Nataniël, Stef Bos, Amanda Strydom, Karlien en Bobby van Jaarsveld, Danie Niehaus en Margit Meyer-Rödenbeck is almal gaande oor die teater. Danie Niehaus se opinie som dinge mooi op: “Ek beskou die Atterbury as die beste konsertteater tans in die land vanweë sy sentrale ligging, netheid, puik toerusting, effektiewe personeel en fantastiese akoestiek. Daar is boonop hope veilige parkeerplek en verskeie uitstekende restaurante om by te eet. Die atmosfeer van die teater is heerlik en bevorderlik vir enige vorm van kuns. Lank lewe die Atterbury Teater!”