Jaco Storm is een van 25 ruiters wêreldwyd wat op 3 Maart op ’n perd se rug ’n uitmergelende avontuur gaan aandurf, in die Argentynse wildernis van Pategonië. Hy gebruik hy nou sy nuuswaardigheid as enigste Suid-Afrikaner in dié groep om aandag op Atterbury Trust se beursfonds te vestig, en die studiedrome van een voornemende student ’n hupstoot te gee.

Vertel ons van jou idee om ’n Atterbury Trust beursgeleentheid te verbind aan jou deelname aan die Derby?
Ek werk al vir ’n geruime tyd met die Atterbury Groep en is bekend met die uitstekende werk wat die Atterbury Trust doen, en hoeveel lewens al deur hulle werk aangeraak is. Ek is so bevoorreg om hierdie avontuur aan te pak en het ’n geleentheid gesien om die aandag wat ek hiermee kry te gebruik om ook lig te skyn op die Trust se beursprogram. Sonder veeartsdienste om na die perde om te sien, sou daar nie ’n Gaucho Derby wees nie, so ’n nuwe beurs vir ’n student in veeartsenykundige verpleging – BVetNurs – het sin gemaak. Die toekoms van Suid-Afrika is in die hande van ons jeug, en die toerusting wat hulle benodig, is opleiding en kennis. Die student wat die beurs sal ontvang is reeds geïdentifiseer, en ek hoop mense wat belangstel in my avontuur sal ’n bydrae maak wat uitsluitlik aangewend sal word om die beurs te ondersteun.

Hoe werk die Equestrians Gaucho Derby, en wat maak hierdie ruiter-en-perd avontuur so uitsonderlik? Oor hoeveel dae strek dit?
Dit is 500 kilometer oor 10 dae, met vier verskillende perde, solo, deur een van die mees ongerepte en onherbergsame streke op die planeet, Pategonië in Argentinië. Dit is die tweede keer dat dit plaasvind; die eerste een het enkele dae voor die globale Covid-inperkings in 2020 klaargemaak, en verlede jaar se weergawe kon weens Covid nie gebeur nie.

Wat die Gaucho Derby uitsonderlik maak is dat dit al die komponente van ’n ware avontuur insluit; nie net die fisieke uitdaging van ’n ultra-langafstand uithourit op ’n perd nie, maar ook oorlewing, navigasie en ekstreme weersomstandighede.  Deelnemers moet selfonderhoudend wees met ’n 10kg gewigsbeperking vir alle toerusting wat tent, slaapsak, klere en kos insluit en op die plaaslike  perde saamgedra moet word.  Ruiters ontvang slegs die koördinate van die volgende veeartsstasie waar hulle moet aandoen en navigeer dan self deur die wildernis-landskap wat veral bekend is vir berge, riviere, sneeu en stormwinde.

Vanwaar die idee om hierdie avontuur aan te pak? Watter soort ervaring is nodig, en hoe kwalifiseer jy persoonlik – vertel ons van jou perdry-ervaring?
Die gesegde “avonture kan gevaarlik wees, maar roetine is dodelik “is ’n deel van my motivering.  Dit is vir my ’n unieke geleentheid om my liefde vir perde, die natuur en uitdagings te kombineer in een avontuur wat my tot die uiterste sal beproef.

Deelnemers moet natuurlik perdry-fiks wees, lang ure in die saal kan deurbring op onbekende perde  en deur onherbergsame terrein, en ook kan kophou en planne maak om te navigeer en oorleef.

Ek is al vir die grootste deel van my lewe by perde betrokke, hetsy as ruiter, teler of eienaar en het ’n besondere band met die diere, asook bewondering vir hulle vermoëns. Ter voorbereiding het ek verskeie multidag avontuur-ritte gedoen in plekke soos die Wildekus saam met Wiesman Nel wat in 2019 voor geëindig het in die Mongol Derby, die voorloper van die Gaucho Derby, wat vir 10 jaar in die steppe van Mongolië gehou is. Met die raad en bystand van top perdemense soos Wiesman en die Ultra atleet Adriaan Saffie glo ek dat ek reg voorbereid sal wees.

Op die aansoekvorm vra hulle hoekom jy die Derby wil doen. Wat was jou antwoord?
Behalwe wat ek hier bo noem, het ek ook bygevoeg dat ek weens die inperking ’n 10-dae-lange perde-avontuur in Lesotho moes uitstel, asook ’n vyf-dag-lange rit langs die Wildekus. Ek was van jongs af gefassineer deur alle ontdekkingsreisigers, of hulle nou die wildernis van Afrika aanvat of op tuisgemaakte vlotte avontuur gaan soek. My eerste solo-avontuur was op die ouderdom van 12 toe ek nege dae en 400km aangepak het met net ’n waterbottel, ’n tent en ’n fiets sonder ratte.

Ek het al talle reis-avonture aangepak, onder andere ’n perdesafari in Botswana, en talle kampeer- en visvang-avonture dwarsoor Suider-Afrika. Ek het ook Machu Picchu geklim en baie lande op die fassinerende Suid-Amerikaanse kontinent verken.

Uiteraard het dit baie gesprekke en oortuiging geverg tot hulle my aanvaar het as een van die 25 deelnemers van oor die wereld.

Hoe kan mense help om dit te laat gebeur?
Enige donasie om die student te help sal wonderlik wees en kan direk in Atterbury Trust se Donasiewinkel gemaak word – daar is ’n paar betalingsopsies. Ek sien uit na my avontuur, maar ook na die kans om ’n jongmens te help toerus vir die toekoms en hulle eie lewensavontuur.

Volg Jaco Storm en sy mede-deelnemers se gaucho-ekspedisie lewendig van 3 Maart af op Facebook @derbygaucho. Sien ook Instagram @gauchoderby en @theequestrianists.

Hou hierdie spasie dop vir ’n aankondiging oor en ’n profiel van die begunstigde student.