Tatum Ferrier is een van MOI se beurshouers, en hierdie uitblinker is tans in Graad 11 aan Hoërskool Stellenbosch.

Sy is ’n deelnemer aan ATKV Redenaars 2023 kompetisie, en het vandeesweek in Bellville Hoërskool by die semifinaal vir Kaapse skole die volgende treffende toespraak gelewer:

Romeine 12 vers 8: Wie kan bemoedig, moet bemoediging gee; wie mededeelsaam kan wees, moet dit met opregtheid doen; wie leiding kan gee; moet dit met toewyding doen; wie barmhartigheid kan betoon, moet dit met blydskap doen. Waarop dit dan eintlik neerkom, is wie kan bemagtig, moet bemagtiging gee, want dan vervul ons die wet.

Geagte Voorsitter, Dames en Here

Na my sienswyse glo ek dat funksionele skole, die gemeenskap en positiewe rolmodelle die jeug kan bemagtig om hulle rol in die samelewing te vertolk. Volgens Statistiek Suid-Afrika se kwartaallikse arbeidsmagopname wat op 23 Augustus 2022 gepubliseer is, is Suid-Afrika se werkloosheidskoers 33,9%. In hierdie dokument verklaar die statistiekdiens dat die werkloosheid hoër is onder die jeug weens baie jongmense wat nie tersiêre of sekondêre onderrig ontvang het nie. Om die knoop deur te haak oor hierdie kwessie moet ons aandag daaraan gee om ons jeug te bemagtig met die regte wapens om ’n sukses van hulle toekoms te maak.

Die eerste pyl in my bemagtigingskoker is doeltreffende opvoeding. Funksionele skole speel ’n kritieke rol daarin om ons toekomstige leiers te bemagtig. “Staan op, sit stil, boeke oop, leer jou les” is van die konnotasies wat baie mense maak oor wat in die klaskamer aangaan. Volgens Celeste Labuschagne, ’n vakspesialis vir wetenskappe by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum(SOS) in ’n artikel op 26 Mei 2022 op Maroela Media, is dit nie die geval nie, want skole leer vir leerders selfdissipline, leergierigheid, nuuskierigheid en opgewondenheid.

Funksionele skole bemagtig die jeug deur kritiese denke by leerders te kweek sodat alles nie net handboek-werk is nie, maar eerder die leerders se vermoë om die werk te bevraagteken, stimuleer. Volgens Labuschagne bied funksionele skole vir leerders die kans om meer sosiaal te verkeer aangesien hierdie skole baie verskillende geleenthede aanbied. So is daar byvoorbeeld spansport wat uitstekende leierskaps- en kommunikasievaardighede by die jeug kweek, en wat weer nuttig gaan wees wanneer jongmense die arbeidsmark betree.

Reon Janse van Rensburg, ’n adviseur by die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO) het op 18 Januarie 2022 op www.solidariteit.co.za geskryf dat doeltreffende opvoeding leerders help om te groei en ontwikkel deur hulle met fisiese en emosionele wapenrusting te bemagtig.

Dit is ontsettend belangrik om vir ons jeug ’n agterdeur oop te hou omdat meer as 34,5% van Suid-Afrika se jeug betrokke is by bendegeweld.

My tweede argument behels dus dat die gemeenskap die jeug kan bemagtig. Die gemeenskap is die omgewing waarin jy jouself bevind en dit het die vermoë om óf ons jeug te bemagtig om ’n sukses te maak óf hulle te benadeel sodat hulle misluk. Wanneer ’n jongmens in ’n gemeenskap is waar daar verhoogde misdaad en bendes is, soos ’n groot gedeelte van SA se jeug, kan dit veroorsaak dat so iemand gedwing word om ook in hierdie voetspore te volg. Dit mag nie eers altyd vrywillig wees nie, maar eerder geforseerde aksies.

Gemeenskapsprojekte wat die jeug bemagtig sluit onder ander in inisiatiewe soos Youth Outreach, gebaseer is in Stellenbosch, wat daarop gemik is om kinders te help wat in gevaarlike omgewings en gewelddadige huishoudings woon. “Hierdie soort projek help kinders uit moeilike omstandighede om nog steeds ’n sukses van hulle lewe te maak ongeag waarvandaan hulle kom,” sê Christelle Oosthuizen, ’n maatskaplike werker by Youth Outreach, in ’n onderhoud wat op 31 Maart 2021 gevoer is.

’n Gemeenskap kan daartoe bydra dat kinders se karakter gevorm word. So sê Dr. Jeanette De Klerk-Luttig van die Kantoor vir Morele Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch, wat skole en organisasies help om kernwaardes te vestig, in ’n artikel van 4 Mei 2017 op Maroela Media. Sy skryf dat die sleutel tot ’n land se sukses of mislukking in die geslaagdheid van die karakteropvoeding van kinders lê. Wat sy hierby bedoel, is dat as ’n gemeenskap swaar trek en nie die jeug bevoordeel nie, sal die jeug negatiewe waardes kweek wat gaan verseker dat hulle nie ’n positiewe rol in die samelewing kan vertolk nie. Maar as ’n gemeenskap die jeug bemagtig deur positiewe omstandighede te skep, sal hierdie jongmense hul plek opneem in die samelewing danksy die ondersteuning wat hulle ontvang.

Nelson Mandela, Oprah Winfrey en Joyce Meyer is van die bekende name wat by ons opkom wanneer ons aan positiewe rolmodelle dink. My laaste argument behels dus die vermoë van rolmodelle om ons jeug te bemagtig om hulle plek in die samelewing in te neem. Rolmodelle is van kardinale belang aangesien hulle ons definisies van sukses beïnvloed. Volgens Hestie Byles, ’n opvoedkundige sielkundige verbonde aan die Universiteit van Pretoria, is die jeug meer geneig om rolmodelle te kies met wie hulle kan vereenselwig.

Op 30 Maart 2016 in die artikel, “Wie is jou kind se rolmodel?” op www.solidariteit.co.za, skryf sy dat as ’n kind byvoorbeeld ’n ryk sakeman wil word, Jeff Bezos ’n logiese rolmodel sou wees. Die rolmodel bied vir die kind die maatstawwe om aan te wend om te verseker dat hulle drome verwesenlik word.

Byles verduidelik verder dat kinders soms ’n rolmodel kies om ’n sekere leemte in hulle lewe te vul. So sal die afwesigheid van ’n pa byvoorbeeld veral ’n seun negatief beïnvloed en dit kan veroorsaak dat hy ’n rolmodel binne sy eie verwysingsraamwerk kies – en hieruit spruit negatiewe vriende.

Dit is hoekom die volwassenes in ’n jongmens se lewe daarvoor verantwoordelik is om positiewe waardes uit te leef en sodoende die jeug te bemagtig deur ’n voorbeeld te stel wat die jeug kan navolg.

Om my argumente op te som, diegene wat die jeug kan bemagtig, is soos volg: funksionele skole, die gemeenskap en positiewe rolmodelle. Elkeen met sy eie bydrae wat relatief klein lyk, maar wat ’n groot impak maak op watter rigting ’n jongmens se lewe inslaan.

Bemagtig die jeug vir hulle toekoms sodat elkeen sy of haar rol in die samelewing kan vertolk, want dan vervul ons die wet om bemagtiging te gee aan die jeug wat dit benodig!