Aanhouer wen, en Renita Fourie weet alles daarvan! Die Vrystaatste boervrou het met haar slim spin op ’n hoenderboerdery die Akademiaprys vir Beste Nuwe Besigheid ingepalm, nadat sy in 2013 die tweede prys behaal het! Atterbury Trust leer meer oor hoe sy “gewone” pluimvee in smaaklike geriefkos verander

Hoe het jy van die kompetisie te hore gekom?
Ek het in 2013 toevallig ’n advertensie in die Courant, ’n gemeenskapskoerant, gesien en besluit om dit ’n kans te gee. En toe kom ek tweede! So ek het in 2014 besluit om dit weer te probeer, omdat ek so baie oor myself en die besigheid geleer het tydens, en ook na, die eerste kompetisie.

Vertel ons bietjie van jouself, hoe jy by hoenderboer en sakevrou uitgekom het?
Ek is ’n gebore en getoë Bloemfonteinse plaasmeisie. Na ’n B.Com (Regte) aan die Universiteit van die Vrystaat het ek aanvanklik as rekenmeestersklerk gewerk en toe later as batebestuurder by ’n beleggingsfirma. Toe ek en my skoolliefde, Chris Fourie, getroud is, het ek daagliks 160km heen en weer gependel tussen Bloemfontein en Petrusburg. Toe ek swanger raak, het ek bedank en is plaas toe. Ons seuntjie, Ardu, word nou ses. Mettertyd het ons besluit om die hoenderboerdery, wat eers net ’n bysaak was, uit te brei. Ons boer hoofsaaklik met Ngunibeeste en boerbokke, maar ons huur die grond waarop ons boer en ’n hoenderboerdery verg baie minder grond, so indien ons ooit moet skuif, kan die boerdery maklik op ’n kleiner plaas ook werk.

Het jou onderneming ’n aparte naam – apart van jou en en jou man se ander boerdery? Presies wat doen die onderneming?
Ons boerdery word onder Chiren Trust bedryf – Chiren is ’n samevoeging van ons name, Chris en Renita. Ek het in 2014 ’n aparte maatskappy geregistreer, Chiren Chix (Pty) Ltd, waarin ons op die ou end die hele hoenderbesigheid gaan hanteer. Tans is die trust in beheer van die grootmaak en slag van die die hoenders, en die abattoir is tot volgende jaar geregistreer in die trust. Chiren Chix hanteer die bestuur en die waardetoevoeging. Chris is steeds betrokke, hy doen enige bouwerk en hanteer al die fisiese gebreke. Die waardetoevoeging behels die ontbening en vul van die hoenders. Die hoender word ontbeen en gevul, opgerol in ’n net en kom dan in ’n oondsakkie. Die kliënt prik slegs die sakkie, sit die bevrore rol in die oond en so 80 minute later het jy ’n heerlike hoendergereg.

Toe julle besluit het om op die hoenderboerdery te fokus, watter stappe het julle gevolg?
Ons het dit in 2013 ernstig aangepak as as ’n groeiprojek met die inrig van ons eie slagpale; voorheen was dit meer van ’n bysaak by die res van die boerdery. Die idee was om ’n voet in die deur van die hoendermark te kry. Ons het begin, vir sakgeld,  met 600 gewone hoenders, omdat daar alreeds ’n slagpale in die omgewing was. Die groeiproses het goed gegaan maar by die verkoop het ons gesukkel, want kliënte het eerder plaashoenders gekoop by mense by wie hulle al die jare nog gekoop het, as by ons groentjies. Waardetoevoeging was die oplossing en so het ek op die rolle besluit. Dis iets anders en ons kon minder hoenders aanhou vir dieselfde wins – 100 pleks van 600.

Wie is jou kliënte?
My ideale kliënt is iemand wat ’n lekker gereg soek wat maklik is om voor te berei. Tans verkoop ek hoofsaaklik in Bloemfontein en Kimberley op bestelling, wat ek een of twee keer per maand aflewer. Ek het ook ’n weeklikse stalletjie in Bloemfontein en koerier op bestelling die hoenderrolle na kontakte in Bothaville, Rustenburg en Johannesburg. Ek gesels ook met iemand in Pretoria. Ek het probeer inkom by die Irene mark en die Fourways Farmers’ Market, maar dis moeilik om iemand te vind wat bereid is om naweke op te offer vir iemand anders se besigheid. Jy as entrepreneur doen die opofferings, want jy werk met ’n doel voor oë, teenoor die persoon wat net ’n salaris of kommissie daaruit ontvang.

Wat is jou grootste uitdagings as entrepreneur?
As jy iets klein begin en jy gaan oor in daardie kommersiële fase waar dit meer as net sakgeld raak, skop daar ’n legio standaarde en wetlike vereistes in, waaraan jy eers moet voldoen voor jy kan oorgaan na daardie volgende vlak waar jy werklik ’n volwaardige besigheid bestuur. Dit laat my met die uitdaging van geld en tyd: daar is te veel goed wat gedoen moet word in die 24 ure van ’n dag, veral vir my wat geneig is om alles self te wil doen! Eerstens omdat dit my persoonlikheid is, maar ook omdat ek grootgeword het op ’n plaas met ’n baie handige pa en self getroud is met net so ’n handige man wat eers alles self regmaak of aanpas voor geld uitgegee word. Selfdoen help wel geld spaar, maar dit kos steeds tyd…

Wat is die grootste les wat jy geleer het oor die bestuur van jou eie besigheid?
Die belangrikheid van die regte bemarking en distribusie, maar nog belangriker, die waarde van delegeer, en om van ander se kundigheid gebruik te maak.

Hoeveel geld het jy gewen en wat gaan jy met die prysgeld doen?
Die prys was R150 000 en ek is so dankbaar daarvoor! Dit gaan ingespan word vir bemarking en voorlopige fisiese uitbreidings. My wens op ’n meer praktiese vlak is vir ’n afleweringsvoertuig waarin ek kan regop staan. Tans staan ek gebukkend en doen dambord-skuiwe om by die regte boks vir die regte kliënt se bestelling uit te kom! Maar dit gaan oor gemak en is nie ’n noodsaaklike uitgawe nie, dus is dit nie nou op die prioriteitslys nie…

Jy het ook ’n vakansie gewen! Vertel ons daarvan? Waarheen gaan jy en wanneer?
O ja, ek is baie, baie bly vir die vakansie! Ek dink Hartenbos of die Kaap – ek was nog nooit in Kaapstad nie! Ons gaan binnekort, waarskynlik einde Januarie.

As jy destyds toe jy begin het met die besigheid weet wat jy vandag weet, sou jy enigiets anders gedoen het?
Ja, ek sou vroeër viervoet ingespring het en eerstens met meer bemarking!

Wat is jou droom vir jou besigheid?
My droom is dat Chiren Chix hoenderrolle ’n mark regoor Suid-Afrika sal hê, van die Kaap tot Limpopo, met kliënte wat herhaalbestellings maak en goeie terugvoering gee. Dis langtermyn, maar vir nou is my doelwit om 4 000 hoenderrolle per maand te verkoop. Ek is seker ek sal ’n groot deel daarvan kan vul in Bloemfontein en Kimberley, en wil dit stadig maar seker uitbrei na ander punte soos Pretoria, George en Kaapstad.

Om meer uit te vind oor Chiren Chix hoenderrolle, kontak Renita op [email protected], of soek haar op Facebook https://www.facebook.com/pages/Chiren-Chix/360826990719010