Dis weer tyd vir die jaarlikse Suid-Afrikaanse Radiotoekennings waartydens radio as uitsaaimedium gevier en erken word.

GROOTfm 90.5 het die grootste uitdagings van hulle bestaan ervaar verlede jaar met salarisse wat drasties gesny is as gevolg van ‘n dalende ekonomie tydens die staat van inperking. Die span het gemotiveerd en getrou gebly teenoor ons missie, ‘vermaak wat ‘n verskilmaak’. Met innoverende idees aan die operasionele kant om die hartklop se ritme te behou het die span besef dis nou nog belangriker om lewe te spreek, boodskappe van hoop te deel en hierdie onvervangbare platform te gebruik om ‘n gemeenskap positief en hoopvol te laat. Te midde van hierdie talle uitdagings gedurende 2020 het GROOTfm 90.5 bly GROOT GAAN!

Die span is baie trots en dankbaar om vanjaar vir 13 onderskeie kategorieë in die eerste rondte van die 11de jaarlikse Suid-Afrikaanse Radiotoekennings genomineer te word.

Baie geluk aan die volgende finaliste:

Ruben Delmage, vir die beste aanbieder in ‘n middag ‘drive’ program. Hy en Arnold Geerdts is ook genomineer vir die beste sportprogram, #SlatDieSport. Lindie Strydom, vir die #JouMenseMyMense gemeenskapsprojekte. Francois van Rensburg, vir die beste dagprogram (#LunchPunch), vir die beste naweekprogram (#GisterSeGrotes) en as verkeer-aanbieder. Annelie Bouwer, vir die beste musiekprogram (5to9metAnnelie) en nuusleser. Nina Coetzer is ook as nuusleser genomineer. Pieter Cloete en Dr Jaco van Niekerk, vir ‘GROOT Trauma’, in die ‘Nuus en aktualiteits’-kategorie. Jacques Erasmus is genomineer vir die beste stasie-produksie en GROOTfm 90.5 vir die mees lojale luisteraars in die ‘My Station Awards – Most Loyal Listeners’-kategorie.

Die stasie is onlangs ook bekroon met Beeld se leserskeuse as die beste gemeenskapsradiostasie in die land, en na nog 13 nominasies van die Suid-Afrikaanse Radiotoekennings is dit eens dat GROOTfm 90.5 die grootste fm in Pretoria is.

Soos die Engelsman sê: ‘It takes a village’, en ons is dankbaar vir ons algemene bestuurder, Roelien Potgieter, inhoudsbestuurder, Francois Botha, en mediaskakelbeampte, Sonet Stofberg wat saam met Laura Whittaker en ons kreatiewe span kliphard agter die skerms werk! Ons is ook dankbaar om lojale luisteraars te hê wat insaai, terwyl ons uitsaai.

Baie geluk ook aan al die ander genomineerde finaliste van verskeie radiostasies regoor die land. Die wenners word op 16 Julie 2021 aangekondig.

Vir meer inligting oor die Suid-Afrikaanse Radio Toekennings besoek radioawards.co.za.