’n Rubriek deur die kunstenaar van vele talente Chris Chameleon, wat ook gereeld as skrywer bydra tot Maroela Media se webwerf.
Ek sien hom dikwels in die straat. Hy werk vir die vrou daar op die hoek. Hy is een van daardie mense wat, wanneer hy glimlag, ʼn rits Krismisliggies in die eter om hom vir ʼn oomblik laat aanflikker. Dis die soort gees wat slegs kan straal uit diegene wat die liefde ken, wat liefde in hulle verhoudings het, maar ook ʼn verhouding het met die liefde self.
Hy doen die soort werk vir die buurvrou wat ek vir myself doen: tuinmaak, huishou, algemene instandhouding.
Verlede week het ek die houtrame van my vensters vernis. Met die son- en reënseisoen op ons, moet ʼn mens maar seker maak die hout word afgeskuur, ʼn eerste laag moet ʼn terpentynverdunde vernis kry en daarna ʼn tweede en selfs derde laag om seker te maak die vensters werk goed en lyk mooi. Die raamwerk van die portaal het my drie ure geneem, ʼn goeie vyfde van die totale werk. Ek hou my goed besig terwyl ek dit doen – sing, dink en baai in die waardering van die goeie lewe wat ek lei.
Maar die wolke pak met elke verbygaande dag sterker saam en ek besef ek het te laat begin, die groot reëns kom.
Ek vra hom toe of hy vir ʼn dag sal inkom en help met die afskuur en die eerste laag. Dit sal ʼn volle dag se werk verg. Ons spreek af en ek kry die tyd vir ʼn ander afspraak.
Ná die afspraak, kom ek terug huis toe. Ek kom die huis binne en hy is al besig met die laaste houtdeure by die kombuisstoep. Die eerste kyk wat hy my gee is nie die Krismisliggiekyk nie. Daar is ʼn skaduweetjie. Niks boos nie, maar nie heeltemal lekker nie. Ek gaan uit, kyk na die werk, dit lyk goed. Ek stap om om na waar hy met die laaste deel van die kombuisdeur besig is en daar sien ek die rede vir die ongemak: hy het seker maar meegevoer geraak en vergeet van die “skuur altyd saam met die grein” instruksie. Ai.
Dis nie die einde van die wêreld nie, maar dit gaan my pla. Ek sal dit dalk met die volgende seisoen se afskuur kan regmaak. Nietemin, in die taal van mans is sy berou duidelik en my ontevredenheid ook, ons hoef dit nie hardop te sê nie. Ek betaal hom nietemin die volle fooi en skryf die res af aan skoolgeld.
ʼn Paar dae later sou ek ook sien dat hy my leer effe beskadig het. Ek vermoed dit is eintlik waaroor die kyk was.
Weereens, hy is ʼn goeie man, eerlik, vriendelik en hy ken die liefde, mens kan dit sien.
Maar die liefde wat ek vir my ou huisie het, word net eenvoudig deur niemand geëwenaar nie, nes die liefde wat ek vir my tuin het deur niemand geëwenaar word nie. Die liefde waarmee ek daardie eerste rame afgeskuur het, my tyd geneem het en elke hoekie en kantjie versorg het, is duidelik sigbaar in die afwerking, ʼn stille houtapplous elke keer wanneer ek daarna kyk. Die liefde waarmee ek afbuk en die dooie takkies een vir een uit my struike pluk, die toewyding waarmee ek soms saans uitgaan en die krismisbesies vang wat my rose en groente vreet, dit alles kan nie deur ʼn ander persoon herhaal word nie, selfs nie deur iemand wat wel die liefde ken nie.
Want dis ʼn persoonlike liefde.
My gedagtes gaan na die uitgekontrakteerde liefde wat al deel van ons lewensstyl geword het. Ons kontrakteer die liefde vir ons tuine uit, die liefde vir ons huise. Ons kontrakteer die liefde vir ons skoon linne uit, die liefde vir ons skoon karre.
En daar en dan beloof ek myself plegtig dat wanneer daardie pap bondeltjie afhanklikheid met die pienk voetjies in my arms lê, ek nooit die liefde en die versorging vir my kind sal uitkontrakteer nie.
Hierdie rubriek het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn.