As ons almal met welwillendheid – ordentlik – leef en die goeie ondersteun in ons onmiddellike invloedsfeer sal alles stukke beter gaan in die land, skryf Jan-Jan Joubert op Maroela Media se webwerf.

Dis nou nie eintlik ’n kuns om deesdae mense te vind wat swartgallig
is oor die land nie. Die staatskaping en korrupsie van die Zuma-era
gaan ’n massiewe nasionale poging vereis om te oorkom. Daarmee
saam voel dit asof diegene wat na nasionale eenheid strewe en omgee
vir diegene wat van hulle verskil, tans retireer voor die baldadige en lawaaierige selfversekerdheid van diegene wat eiebelang en die belange van diegene wat soos hulle lyk en klink, voorop stel.

Ja, daardie narratief ken ons goed genoeg – ons hoef nie nou daarop uit te brei nie. Laat ons eerder kyk of daar uit die landsgeskiedenis en die hede rede is om redelikerwys te vermoed dat dinge beter kan gaan.

As mens ’n paar stappe teruggee, moet jy erken daar is min lande ter wêreld wat nege grensoorloë deur is – en dis net die Oosgrensoorloë van die agtiende en negentiende eeu, nie eens die Angola-Bosoorlog nie. Desondanks het Suid-Afrikaners mekaar leer verdra en selfs liefkry, en is ’n vreemde nasie met die ongemaklike leuse “Eenheid in verskeidenheid” hier aan die suidpunt van Afrika gevorm.

Dit was die ou Vrystaatse president Jan Brand wat destyds en, toegegee, in ’n volkome ander konteks, gesê het “Alles sal regkom as elkeen sy plig doen.” Die vraag is nou: Wat staan mens te doen?

Wat ons te doen staan, is om welmenend en wellewend te leef, en elkeen in eie kring ons bes te doen. Nie almal van ons is so belangrik of het soveel invloed dat ons die hele land met die gevolge van ons dade kan raak nie, maar ons kan wel invloed uitoefen op ons gesin, ons buurt, ons skool, ons kerk, ons gemeenskap, die mense wat vir en vir wie ons werk, en almal met wie ons in aanraking kom.

In haar onlangse boek Sitting Pretty, oor die sosiologiese posisie van Afrikanervroue in Suid-Afrika sedert 1994, lewer prof. Christi van der Westhuizen van die Universiteit van Pretoria ’n pleidooi om wat sy noem “ordentlikheid”. Dit sou ook met die terme “wellewendheid” of “welmenendheid” verduidelik kon word.

Die frustrerende aspek daarvan om met ordentlikheid, wellewendheid of welmenendheid te probeer leef, is dat dit nie noodwendig wederkerig is nie. Die feit dat jy ordentlik, wellewend of welmenend optree, is absoluut geen waarborg dat die ander party dieselfde gaan doen nie.

Die kuns van ordentlikheid, wellewendheid en welmenendheid is dat dit arbeid om die plesier daarvan is – dat dit glad nie van wederkerigheid afhang nie. Dit is hierin dat die bevrydende aard van ordentlikheid lê – jy verwag niks terug nie.

Dit is uiteraard frustrerend om ordentlik teenoor ander op te tree en dan te sien hoe goed met kwaad vergeld word, en niemand wil ’n slaansak vir narciste wees nie. Maar die enigste manier waarop ons in hierdie tyd van die opstuwing van middelvlietende kragte in ons land en ons wêreld goed kan wees, is om deel van die oplossing, nie die probleem te wees nie.

’n Mens het beheer oor wat jyself doen, nie ander nie, en as elkeen voor sy eie deur vee, is die straat ook weldra skoon.

Hierdie storie het oorspronklik op www.maroelamedia.co.za verskyn