Skole regoor Pretoria word genooi om hul kreatiewe spiere te wikkel en in te skryf vir die Cool Capital Hoërskool Kunsprojek, wat vir die tweede keer met trots deur Atterbury Trust geborg word.

Die eerste Cool Capital Biënnale, in 2014, was ‘n dawerende sukses, en die Jakarandastad se mense het met oorgawe deelgeneem aan hierdie “DIY guerrilla” ontwerpfees, die eerste van sy soort ter wêreld. En soos dit gaan met biënnales, is dit al weer twee jaar later, en die inwoners van SA se hoofstad word ‘n tweede keer betrek om deel te neem aan die opwindende kuns- en ontwerp-installasies en -ingrypings van Cool Capital 2016. Vanjaar se fees vind vanaf 23 September tot 31 Oktober regoor Pretoria plaas.

Die Hoërskool Kunsprojek is een van die hoofprojekte van die biënnale, en sal weer gelei word deur Debbie Cloete. Elke skool sal saam met ‘n praktiserende kunstenaar werk om op die skoolgrond ‘n kunsinstallasie te skep volgens die biënnale se tema “Klein is Groot”. Volgens die organiseerders is die fokus op klein openbare kuns- en ontwerpaktiwiteite wat groot impak kan hê.

“’n Eenvoudige, maar slim idee kan onverwagse groot resultate lewer, amper soos ‘n klein saadjie kan ontkiem en in ‘n reusagtige boom kan verander,” sê Cool Capital-organiseerder Carla Taljaard. “Die punt wat ons wil maak is dat as almal iets kleins bydra, ons groot hoogtes kan bereik… met die biënnale wil ons hierdie algemene sosiale wysheid met kuns en ontwerp illustreer.”

Atterbury se bydrae sal help om finansieel minderbevoorregde skole en staatskole se inskrywings te befonds. “As ‘n organisasie wat toegewei is aan die bevordering van opvoeding en kultuur, hou ons vreeslik baie van hierdie jaar se tema. Dis juis vir ons so belangrik om jongmense wat ‘n bydrae wil maak aan die toekoms van ons land, te help om daar uit te kom, en klein gebare wat uitkring en groot impak het, som dit so mooi op, ” sê Atterbury se Zahn Hulme.

Die kunsprojek is juis nie ‘n kompetisie met pryse en wenners nie, omdat die gedagte daaragter is om almal aan te spoor om deel te neem, en sodat skole in minder welgestelde areas nie hoef terug te staan vir skole wat meer hulpbronne tot hul beskikking het nie.

“Ons hoop dat ons vanjaar selfs meer as verlede keer se 20 skole sal sien inskryf, want dit was so geweldig inspirerend om te sien met watter insig en toewyding die leerders in 2014 die tema geïnterpreteer het,” sê Carla. Sy bevestig ook dat 17 skole reeds hul deelname bevestig het.

Die finale projekte sal in Oktober met ope dae by die deelnemende skole vir die publiek uitgestal word. Na afloop van die biënnale word die skoolprojekte ook verewig in die Cool Capital Katalogus sowel as die dokumentêre film oor die biënnale. Die dokkie oor Cool Capital 2014, DorpStad, word juis eerskomende Vrydagaand, 20 Februarie, om 19h00 by die Atterbury Teater vertoon, teen R20 per kaartjie by die deur. Skoolkinders wat in uniform opdaag, kry gratis toegang, en die ingangsfooi is ten bate van die Atterbury Trust.

Vir meer inligting oor hoe om in te skryf vir die Cool Capital Hoërskool Kunsprojek, besoek www.coolcapital.co.za of of stuur ‘n epos na Carla Taljaard by [email protected] Aansoeke sluit op 26 Februarie, so moenie versuim nie!