Uitvoerende trustee Zahn Hulme het onlangs deelgeneem aan ’n Vrouemaand-paneelbespreking op ’n webinaar aangebied deur die Afrikaanse Taalraad. Die onderwerp was die belangrikheid van Afrikaans in die opvoedkunde-arena, in ’n tyd waarin universiteite toenemend verengels. Zahn se onderwerp was: Afrikaans – ’n hupstoot vir ’n beter toekoms. Hier is haar praatjie:
Met universiteite wat toenemend verengels, blyk dit al hoe meer dat Afrikaans se dae as akademiese taal getel is. Waarheen nou met Afrikaans, en moedig mens steeds studente aan om in Afrikaans te studeer? Hoe kan studente deur Afrikaans uitreik en versoen, nie net met ander Afrikaanssprekendes nie, maar ook met die anderstaliges van die land?
Goeiemôre aan almal wat vandag deel is van hierdie virtuele gehoor. Baie dankie ook aan die Afrikaanse Taalraad vir die uitnodiging. Ek ag myself bevoorreg om deel te vorm van so ‘n uitgelese paneel dinamiese, trots Afrikaanse vroue!
Spesifiek aan jou, Merlyn, dat jy deurgedruk het met hierdie Vrouedagprojek. Toe ek en jy aanvanklik in Augustus 2019 gesels het hieroor, het ons nooit kon dink dat ons leefwêreld só ingrypend sou verander nie.
Ek moet wel sê dat ek julle almal baie graag, soos oorspronklik beplan, vandag in ons pragtige Atterbury Teater in Pretoria sou wou verwelkom het. Aan die ander kant is ek tog baie dankbaar dat ons virtueel weer soveel meer mense regoor Suid-Afrika en dalk ook buite ons landsgrense, kan bereik.
Suid-Afrika is ’n veelkantige land wat bestaan uit ’n rykdom van kulture en gemeenskappe.
In ons Grondwet word daar gesê al 11 amptelike tale in Suid-Afrika is gelykwaardig. Maar hoe lyk sake in die praktyk? Gewoonlik is ek ’n aardsoptimis wat die glas half vol sien, maar in hierdie geval het ons onderwysstelsel en regering liederlik gefaal.
In die jongste beskikbare statistiek wat in Julie 2019 deur Statistiek SA as deel van die algemene huishoudelike opname vrygestel is, is daar ongeveer 7 miljoen mense (12%) in Suid-Arika wat Afrikaans as moedertaal koester.
Afrikaans is dus, naas die 25% isiZulu moedertaalsprekers en 15% isiXhosa moedertaalsprekers, derde op die lys van moedertaalsprekers in Suid-Afrika. Dis interessant om te noem dat Engels daarteenoor eers sesde op die lys is van tale wat tuis gepraat word, met slegs 8,1% moedertaalsprekers.
Laat dit julle nie ook voel dat ons met ons isiZulu en isiXhosa medeburgers in gesprek moet tree en saam aandring op moedertaal-onderrig nie? Saam maak ons drie tale meer as die helfte van die bevolking uit… Sal dinge nie ten goede verander as 52% van ons mense in solidariteit hulle stem dik maak oor die noodsaaklikheid van moedertaalonderrig nie?
Buite die huishouding lyk die prentjie egter bietjie anders: daar is Engels in die tweede plek met amper 17%, terwyl Zulu steeds voorloop met 25% en IsiXhosa derde met 13%. Maar dit verander nie aan die bewese feit dat moedertaalonderrig, veral in die grondslag en intermediêre fases, die heel beste opsie aan leerders bied nie.
Daarom is dit so belangrik vir maatskappye en individue wat kan, om by te dra en Afrikaans steeds lewenskragtig te hou.
Wat doen ons by Atterbury Trust?
By Atterbury Trust voel ons sterk oor vier aspekte – Afrikaans, die krag van opvoeding, bevordering van kuns en kultuur, en die opheffing van minderbevoorregte gemeenskappe.
Atterbury Trust se storie van hoop en geleenthede loop al ’n lang pad – dit kom al vir 21 jaar aan. Ons het in 1999 ons eerste groep van ses beurshouers gehad. In 2020, ons mondigwordingsjaar, het ons reeds bykans 700 beurse aan behoeftige Afrikaanse studente toegestaan.
Ons het ’n goeie storie. Dit gaan oor Afrikaanse jongmense (oor kleurgrense heen) met groot drome; dit gaan oor die geld wat nie daar was om die drome waar te maak nie, en dit het byna in elke geval ’n gelukkige einde. Ons kan vertel van vasbyt, hard werk en kanse vat. Die graad aan die einde is dikwels die eerste een in ’n hele familie.
Elk van ons bykans 700 beursstories vertel van die kans om te leer, maar ook om te groei – as leier op universiteit, op die sportveld, as mens wat ’n bydrae kan maak tot die samelewing.
In die beginjare kon almal steeds in Afrikaans studeer, maar soos die universiteite toenemend verengels het, was baie van ons studente genoodsaak om in Engels te studeer. Ek dink nie dat dit altyd maklik was nie, maar ek is wel trots om te sê dat ons ’n deurvloeikoers van 97% handhaaf oor die afgelope 21 jaar.
Hierdie Afrikaanse beursfamilie van ons floreer in die arbeidsmark – meestal binne Suid-Afrika, maar ook die wêreld deur. Baie staan in professionele beroepe – ingenieurs, geoktrooieerde rekenmeesters, regsmense, onderwysers vol empatie wat wéét hoe dit voel om te min te hê, of met ’n dienende hart op die mediese front as dokters, terapeute en verpleegsters.
Die feit dat universiteite toenemend verengels bekommer my egter. Dit maak deure toe. Ons was verlede jaar op ’n Karoonagte-projek in Loxton in die Karoo. Soos Deon Meyer sê: dáár word Engels slegs uit selfverdediging gepraat. Watter kans het ’n Afrikaanse Karookind van Loxton om op universiteit te kom en slegs in Engels te kan leer?
Atterbury Trust help verder ook behoeftige Afrikaanse skole, deur salarisse vir onderwysers te betaal of noodsaaklike infrastruktuurprojekte te ondersteun. Ons werk ook nou saam met die Trust vir Afrikaanse onderwys om Afrikaanse skole in staat te stel om infrastruktuurverbeteringe te doen en sodoende te verseker dat Afrikaanse skole uitnemend bly.
Die Atterbury Teater en meer onlangs die Optog! inisiatief, gee sedert 2011 vir hoofsaaklik Afrikaanse kunstenaars en gehore ’n wêreldklasplatform waar die beste vermaak uitgevoer en geniet kan word.
Ons het al ook deur die jare verskeie projekte geloods wat op uitnemendheid fokus en Afrikaans bevorder.
Om op te som, ’n taal bring jou terug na wie jy is. Dis ’n anker. Dit bind jou met jou voorgeslagte. Dis deel van ’n mens se identiteit. Dit laat jou behoort. Daarom is dit so belangrik dat ’n taal moet ontwikkel en groei – as spreektaal, maar ook as wetenskaptaal. Op die voorpunt.
Wat is Afrikaans vir my?
Lize Beekman sê: “Woorde het vlerke”. Woorde maak prentjies in my kop wakker en gryp my hart vas. Ek sê graag soos Amanda Strydom en Stef Bos saamsing, dis “die taal van my hart”.
Ek sien Afrikaans as:
- Altyd inklusief
- Nooit meerderwaardig nie
- Nie dominerend ten koste van ander tale nie
- Beskrywend, skeppend, groeiend
- Vars en nuut
Wie kan nie opgewonde raak oor die wonderlike woorde wat weer onlangs die lig gesien het nie:
Glansgans
Kermderm
Mooiplooi
Giggelgras
Kieriekorting
Emosiedosie
Fotofnuik
Planeetperd
Straatparaat
Wolkpos
Selfs die Covid-19 pandemie stuit skeppende Afrikaanssprekendes nie in hulle spore nie. Ek lees dat Afrikaans.com in Mei ’n kompetisie geloods het en amper 100 koronaverwante woorde is nuut geskep, woorde soos:
Koeshoes
Boudgoud
Tuinholler
Grendelgriep
Klikaktivis
Ramafobie
Met sulke nuutskeppings skep ek moed as ek sien hoe vars en nuut daar in 2020 oor Afrikaans gedink en gedoen word. Inisiatiewe soos hierdie webinaar vandag en vele ander wat tans geloods word, verseker dat ons taal lewenskragtig bly.
Maar soos vanjaar se Woordfeestema, moet ons aanhou beweeg en geraas maak, praat, met ander Afrikaanssprekendes; maar ook ander moedertaalsprekers in ons land in die oë kyk. Ons moet aandring op geleenthede vir almal om in hulle moedertaal te kan leer. En ons moet nooit ophou hoop nie.
Ek sluit af met ’n wens van Breyten Breytenbach wat my weer onlangs gemesmeraais het:
“Mag die bome groen bly
En die sterre wit
En mag daar altyd mense wees
Wat mekaar sonder skaamte in die oë kan kyk
Want die lewe is ’n asem lank.”
Die opname van die volledige webinaar is hieronder: